
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Onderwyser van die Jaar – só lyk die kleuterskole se top 10!
Deur Ané Janse van Rensburg
Solidariteit se jaarlikse kompetisie vir Onderwyser van die Jaar gee spesiale erkenning aan diegene wat die jongste leerders met toewyding en passie begelei. In ʼn tyd waarin vroeë kinderontwikkeling al hoe belangriker word, staan die wenner van hierdie kategorie uit as inspirasie vir kollegas en ʼn steunpilaar vir die gemeenskap. Die kompetisie beklemtoon die onvervangbare rol wat kleuterskoolonderwysers speel in die vorming van kinders se eerste ervarings van leer en ontwikkeling.
Hier is vanjaar se toptien-kandidate in geen spesifieke volgorde nie:
Tania Strydom – Camo Akademie

Tania is ʼn baba- en kleuterjuffrou van Bloemfontein. “Kleuterskoolonderwys lê my na aan die hart en ek het ʼn groot passie om die kindertjies van kleins af deur die hedendaagse uitdagings te kan help en te ontwikkel.”
Tania is lief vir die natuur, reis en jag. Sy gee alle eer aan die Here vir die nominasie, wat spreek van haar roeping wat sy elke dag najaag.
Miana Oosthuizen – Kleuter Kampus

Miana is in Bethal gebore, en sy het haar onderwysloopbaan as ʼn graad 2-juffrou in Bethal begin. Ná agt jaar het Miana en haar gesin Johannesburg toe verhuis waar haar roeping as ʼn kleuterskooljuffrou, volgens Miana, vlamgevat het. Ná vier jaar het haar gesin Gauteng vir die Wes-Kaap verruil waar Miana haar uitleef in haar rol as onderhoof en juffrou vir pre-graad R.
“Ek sou nooit kon dink dat die Here my grondgebied so sou vergroot nie. Dit is so ʼn groot voorreg om te help vorm aan kinders se drome en talente, en meer as dit, om die fondasie te help bou waarop hulle ‘huisie’, hulle toekoms, gebou moet word.”
Nedine Malan – Besige Bytjies Kleuterskool

“Ek is n graad RRR-onderwyser wat leef vir wat ek doen,” sê Nedine. Sy is al sewe jaar ʼn kleuterskoolonderwyseres wat elke dag met die volgende mantra aanpak: “Teaching kids to count is fine, but teaching kids what counts is best.”
Nadine glo nie net dat elke leerder hul eie mens is met hul eie omstandighede wat in ag geneem moet word nie, maar dat dit die klein dingetjies in die lewe is wat tel. “Ek is lief vir elke een soos my eie – al 30 van hulle.”
Candice Mostert – Skillieland

Alhoewel Candice glo dat haar werk haar passie is, het sy dit nog nooit as “werk” beskou nie. “Om elke dag met hierdie kinders te kan werk, is beter as om ʼn miljoenêr te wees. Dit is God se geskenke aan ons, en ek hanteer hulle soos goud.”
Tilane E. Kleynhans – Tinki Tonki

Sedert 2010 leef Tilane vir haar kleuterskoolkinders en vir “daai glimlaggies” wat enige dag kan ophelder. “Ek sien elke dag uit om na my kinders toe te gaan. Ek wil ʼn verskil maak in elkeen se lewens.”
Lerine Roberts – Norienes Kleuterskool

Lerine, of soos haar kinders haar ken, Juffrou Lien, is ʼn juffrou vir 2- tot 3-jariges, “en ons geniet elke dag voluit in die Vissie-klas”. Lerine sê dat sy nooit oor haar beroep getwyfel het nie. Sy sê dit is ʼn groot verantwoordelikheid om die fondasie van ons toekoms neer te lê en dat elke dag ʼn nuwe geleentheid is om ʼn verskil in ʼn klein mensie se lewe te maak.
“Om ‘n juffrou te wees maak my glas vol; ek leef my passie elke dag,” sê Lerine.Wanneer sy nie by haar skoolkinders is nie, geniet sy tyd saam met haar vriende en familie en bring sy graag tyd deur in die natuur. “Ek droom daarvan om eendag my eie kleuterskool oop te maak waar ek ʼn groter impak kan hê, asook om mense wat dieselfde liefde vir kinders het, ʼn werkgeleentheid te kan gee. Gou opgesom, ek is ʼn juffrou met ʼn liefde vir wat ek doen, nie omdat ek dit gekies het nie, maar omdat God my gekies het en daarvoor is ek oneindig dankbaar.”
Estelle Taljaard – Laerskool Pam Brink

Juffrou Estelle van die “Eendjie-klas” is lief vir elke lyfie wat by haar klasdeur instap. “Ek geniet hulle sê-goed en al die drukkies elke dag.”
Karen Venter – Laerskool Garsfontein

Karen se onderwysreis het vroeg begin toe sy op vyfjarige ouderdom saam met ʼn maatjie skool toe is. Sy het in 1984 gematrikuleer en in 1989 haar Onderwysdiploma aan die Pretoriase Normaalkollege behaal. Haar onderwysloopbaan het in 1989 by Laerskool Pietersburg begin, waar sy met groot toewyding ʼn graad 2-klas onderrig het. In 1992 het sy ʼn verdere diploma in Jeugweerbaarheid verwerf en is ook in dieselfde jaar getroud. Sy is betrokke by verskeie buitemuurse aktiwiteite soos koor en netbal.
“Onderwys is my passie en my roeping, want ek weet dat onderwys die kragtigste wapen is om die wêreld te verander, en ek is bevoorreg om deel daarvan te wees.”
Carena Barnes – Laerskool Constantiapark

Carena som haarself op as ʼn vriendelike, geduldige, hardwerkende en hulpvaardige juffrou wat dit geniet om te organiseer en stiptelik te wees.
“Die vordering van kinders gee vir my groot plesier. My liefde vir kinders is oneindig, daarom wil ek die res van my lewe aan hulle toewy.”
Carena streef daarna om genoegsame selfvertroue in haar klaskamer te kweek sodat elke leerder optimaal kan ontwikkel.
Lizé-Meri Prinsloo – Kleinspoortjies

Lizé-Meri het onderwys gekies omdat sy glo dat haar gawes en talente van God kom en dat dit haar in staat stel om kinders te help om hul volle potensiaal te bereik. Sy is lief vir elke kind en fokus daarop om eers hul harte en menswees aan te raak, want sy glo dat gelukkige kinders akademies en sosiaal sal floreer. “Daar is vir my niks meer bevredigend as om te sien hoe kinders op ʼn kognitiewe, emosionele en geestelike vlak groei en presteer nie.”
In 2023 het sy haar ware passie vir onderwys by graad RR-leerders ontdek, wat sy toeskryf aan die ondersteuning van haar hoof, kollegas, bestuur en gesin.
Solidariteit se Onderwysernetwerk het ten doel om elke onderwyser in hul roeping te ondersteun en te bemagtig. Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en skakel in by jou netwerk wat saam met jou nuwe hoogtes wil bereik!