loading
Artikels
1 jaar gelede
onderwyser-van-die-jaar-so-lyk-die-laerskole-se-top-10-finaliste

Foto Krediet: Solidariteit

Onderwyser van die jaar – so lyk die laerskole se top-10-finaliste

Deur Maryna Eksteen

Die nominasies vir uitsonderlike onderwysers het ingestroom, en die top-10-laerskoolonderwysers, die finaliste, is aangewys. Dié groep dinamiese onderwysers deel so bietjie van hulself met die publiek. Hier is wat jy moet weet van jou top-10-laerskoolonderwysers:

André Noeth  (Sunridge Primêre Skool)

Dr. André Noeth is tans die adjunkhoof van by Sunridge Primêre Skool in Gqeberha waar hy ook deel van die senior bestuurspan vorm. “Dit is vir my heerlik om op ʼn administratiewe vlak besig te wees. Ek leer nog elke dag iets nuuts – ʼn mens is mos nooit te oud om te leer nie.” Volgens André is sy grootste liefde Afrikaans! Hy onderrig dus slegs Afrikaans vir graad 7-leerders en tree ook op as vakhoof vir hierdie vakgebied. “Op professionele vlak was dit vir my ʼn voorreg om my PhD-graad in Beroepsoriëntering-pedagogiek aan die Universiteit van Pretoria te voltooi. Een van my onvergeetlikste hoogtepunte in my lewe was toe ek in 2009 as spanbestuurder deel van die OP-Cravenweekspan vir 0/13A’s was wat nie-amptelik die Craven-week (nogal teen WP) gewen het.”

Volgens André was dit die eerste keer in 37 jaar wat OP dit kon regkry. “Dit is vir my baie belangrik om by Joe Black aan te sluit: ‘Wees iemand wat almal soos ʼn iemand laat voel, want niemand verdien om soos ʼn niemand te voel nie.’” Dit is vir  André ʼn prioriteit om die leerder se opvoedkundige, sowel as menslike groei sodanig te stimuleer dat elkeen van hulle wat met hom paaie kruis, toegerus die uitdagings van die toekoms kan aanpak. André se lewensleuse is carpe diem!  “Ek glo ʼn mens moet elke geleentheid wat na jou kant toe kom, met albei hande aangryp.”

Madri van den Heever  (The Hamlet School)

Madri van den Heever het voltyds begin skoolhou tydens haar nagraadse studie in Opvoedkunde. Haar eerste pos was by ʼn hoërskool, maar sy het vinnig besef dat sy definitief eerder ʼn passie het om met jonger kinders te werk. “Tydens my jonger dae het ek in Abu Dhabi, Thailand en ook in China skoolgehou. Ek kon in my wildste drome nie dink dat remediërende onderwys my roeping is nie.” Volgens Madri het sy eers in 2019 by The Hamlet skool begin werk en toe eers besef dat dit is waar sy werklik nog altyd moes wees. “Elke dag bied ʼn geleentheid om ʼn verskil te maak, werklik iets vir my medemens te beteken en om onvoorwaardelik lief te hê. Om met kinders met spesiale onderwysbehoeftes te werk, is ʼn absolute voorreg.” Madri beskryf hierdie voorreg as haar lonendste ervaring en sy beskou haar leerders as haar hartklop. “Hulle leer my daagliks meer van liefde, omgee, nederigheid en ware geluk as wat ek hulle ooit sou kon leer.”

Vicki Kriel (Laerskool Wonderboom)

Vicki Kriel se hart klop al vir die afgelope 12 jaar blou, en nie omdat sy ʼn Bloubul-ondersteuner is nie, maar omdat sy ʼn “Wonnie-onnie” is waar elkeen waardevol is. “As ek die grootste beloning van my beroep moet uitlig, sou ek sê dis om die groei in elke kind te kan waarneem. Dit is waar die “magic” lê!” Volgens hierdie dinamiese Wonnie-onnie kry sy die geleentheid om elke jaar as’t ware ʼn kind te gaan haal waar hy of sy op daardie tydstip in hulle lewe is, en vir 12 maande begelei sy dan daardie kind op hulle pad om die beste volwassene te word wat hulle moontlik kan wees.

Volgens Vicki is daar geen groter voorreg as om te sien hoe leerders wat deur haar hande is, sukses in hul lewens bereik nie. Dit maak Vicki se hart warm om op die mees ongeleë tye en plekke ʼn “Hallo Juffrou” te hoor en dan teruggevoer te word na staaltjies uit die verlede.  “Elke kind ís my kind – met elke nuk en gril, op- en af-dag. Ek vat die volle pakket, want ek weet ek werk met iemand anders se kosbaarste besitting. Glo my, onderwys het beslis sy uitdagings, maar daar is niks eerliker as ʼn kind nie.” Volgens Vicki is sy in die bevoorregte posisie om elke dag die wêreld deur haar leerders se oë te sien en ervaar.

Monique Janse van Vuuren (Laerskool Hermanstad)

Monique Janse van Vuuren beskou haarself as ʼn passievolle Afrikaans-onderwyser wat graag met kinders die mooi van die taal wil deel. “Ons gesels graag in die klas en leef onsself uit.” Monique het haar onderwysloopbaan in 2011 begin na afloop van haar studie in Drama. “Dit was voorwaar die beste geleentheid wat my te beurt kon val. Nie net kon ek doen waarvan ek hou nie (om tussen kinders en mense te wees), maar ek kon ook my passie uitleef en ʼn verskil in kinders en ouers se lewens maak.”

Monique gebruik onderrig op ʼn kreatiewe manier vir akademie in die klas, waarna sy en haar leerders dan as ʼn groep na die dramawêreld vertrek. Nadat die leerders ʼn draai in die dramawêreld gemaak het, verken hulle die sportgebiede waar dit lekker is om fisiek te wees. “Daar stoei ons om sekere vaardighede aan te leer, en leer ons om hard te moet werk om oorwinnings te behaal, maar ons leer ook dat wen nie die enigste uitslag in die wedstryd of aktiwiteit is nie, en dat dit wat ek van myself geleer het en die rol wat ek as spanmaat, vriend, ondersteuner en/of speler speel, ook belangrik is.” Volgens Monique leer sy die kinders om altyd een treetjie verder te gee as wat verwag word. Dié eksentrieke onderwyseres is ʼn meedoener en pak enige uitdaging aan. “In die afgelope twaalf jaar se tyd waar ek lewens aanraak, is dit vir my ʼn voorreg om elke dag steeds te kan help vorm aan die jeug en die toekoms van môre.”

Lizette du Preez  (Laerskool Tygerpoort)

Lizette du Preez is ʼn Christen en ʼn Afrikaanssprekende ongetroude dame wat al 26 jaar lank haar passie vir onderwys by Laerskool Tygerpoort uitleef. Sy onderrig die laaste aantal jare graadeens (die Hondjieklas), en hulle leuse is: ’n Hondjie is ʼn mens se beste vriend. Haar strewe na kennis en onderrig het nie daar geëindig nie en sy het verder studeer aan die Universiteit van Pretoria waar sy haar B.Prim.Ed-graad met lof verwerf het. Daarna het sy ʼn diploma in Remediërende Onderwys met lof behaal. “Ek het groot waardering vir kultuuraktiwiteite, veral Afrikaanse voordrag en redenaars waar ek leerders aanmoedig om hul stemme te laat hoor,” sê Lizette. Sy het ook ʼn liefde vir sport waar sy menige leerders die waarde van samewerking, dissipline en harde werk geleer het, asook ʼn liefde vir hokkie by hulle gekweek het. Wanneer sy nie haar energie by die skool gebruik nie, vind sy vreugde in die avontuur van reis.

Jomon Swart (Laerskool Danie Malan)

Jomon Swart beskou homself as die onderwyser wat hy wens hy op skool gehad het. “Daar is ʼn groot leemte in die ontwikkeling van die leerder by die huis, en dis my rol as onderwyser om tot die beste van my vermoë die leerder in alle aspekte te ondersteun.” Volgens Jomon is hy ʼn kind van God wat gestuur is om sy geloof in sy klas uit te leef, en hy beskou dit as ʼn baie belangrike taak wat daagliks moet plaasvind. “Die entoesiasme wat in my klas heers, is op ʼn ander vlak.” Jomon gaan uit sy pad om die leerders meer te leer as wat die kurrikulum vereis. “Die liefde wat ek aan hulle toon, is dieselfde liefde wat God teenoor ons het. My visie in die onderwys is om vir elke leerder ʼn gelyke geleentheid te skep sodat hul alles tot die beste van hul vermoë kan bereik.” Jomon se passie stop immers nie in die klaskamer nie; hy het ʼn groot liefde vir die sportveld waar hy meer as genoeg tyd aan die leerders spandeer om hulle op só ʼn vlak te ontwikkel dat hul op alle terreine goed sal presteer.

Stefanie Beeslaar (Laerskool Danie Malan)

Stefanie Beeslaar is ʼn mense-mens en sy ag familiewaardes baie hoog. Volgens Stefanie het sy twee seuntjies en ʼn wonderlike man wat haar elke dag bystaan en ondersteun in alles wat sy doen. “Ek is ʼn onderwyser omdat ek baie lief is vir kinders en ek wil graag help waar ek kan. Ek wil elke dag ʼn beter onderwyser wees as wat ek die vorige dag was. Ek wil graag elke leerder help om sy of haar volle potensiaal te bereik wat God vir hom of haar bedoel het.” Dit is Stefanie se lewensdoel om meer te wees as net ʼn onderwyser. Sy wil vir elke leerder ʼn rigtingwyser wees, ʼn veilig hawe, ʼn plekkie om te groei en ʼn plek waar hulle kan besef dat elkeen uniek is. “Om ʼn onderwyser te wees, help my ook om nederig, opreg en eerlik te bly met myself en almal om my, en om elke dag voluit te lewe.”

Betsie Hartzer (Vhalliespark Primary School)

Betsie Hartzer glo in omgee en dat daar altyd ʼn manier te vind is om seker te maak elke kind leer optimaal. Haar passie vir skeppende kunste en kreatiewe berading dra by tot waardevolle ervaringe vir verskeie leerders wat nie noodwendig sukses in ander vakgebiede behaal nie. Betsie het haar B.Prim.Ed. (Pre-primêr) aan die Universiteit van Pretoria voltooi en het na ʼn paar jaar van skoolhou besluit om ook haar honneursgraad in Opvoedkundige Sielkunde aan te pak. Betsie het 19 jaar se ondervinding in die onderwys en het by verskeie laerskole in verskillende tale en aan verskeie kultuurgroepe onderrig gebied. Volgens Betsie het haar kundigheid en liefde vir elke kind al gehelp om weerlose kinders te beveilig. Haar ervaring in uitvoerende kunste dra by tot die leerders se blootstelling en ontwikkeling op die verhoog tydens konserte of kunswedstryde. Hierdie dinamiese onderwyseres glo dat almal in die lewe rommel het, maar dat dit belangrik is om elke kind toe te rus met kennis om die rommel wat die lewe na jou kant toe gooi, te herwin tot iets bruikbaar, sinvol en kreatief.

Charmaine Potgieter (Laerskool Hermanstad)

Charmaine Potgieter, ʼn Wiskunde-onderwyser vir graad 7-leerders, is al 35 jaar in die beroep werksaam. “Onderwys het nog nooit vir my oor erkenning gegaan nie, maar ek voel geëerd dat ouers en van my leerders my vir hierdie toekenning genomineer het.” Volgens Charmaine is haar liefde vir kinders, hoe hulle ontwikkel en groei, ʼn groot eer, veral as sy sien hoe hulle hul plek in die wêreld vol staan. “Ek het nog altyd kinders soos my eie hanteer en ek handhaaf goeie verhoudings met die ouers, want ons werk saam aan elke leerder se toekoms.”

Vir Charmaine is die vertroue wat ouers in haar plaas om Wiskunde aan hierdie leerders oor te dra en hulle ook te help om daarin te presteer, baie belangrik. “Wat my na al die jare steeds opgewonde maak oor onderwys, is daardie oomblik wanneer ʼn kind wat nie ʼn konsep verstaan het nie, dit deur my hulp leer en begryp.” Volgens Charmaine het sy ʼn sin vir humor en ʼn positiewe houding wat haar behoud is. Charmaine het deur die jare haarself vir haar kinders by die skool gegee en sy is elke dag gereed om te leer, trane af te vee, nou en dan ʼn grappie te deel, en daar te wees vir diegene wat hulp nodig het en hulle vertroue in haar plaas. “Ek besef die groot verantwoordelikheid wat op my skouers rus en al klink dit soos ʼn cliché, gee ek hart en siel in my roeping. Ek wil in soveel as moontlik kinderlewens ʼn verskil maak voordat ek eendag aftree.”

Mari Faber (Moot Akademie)

Mari Faber is ʼn 30-jarige onderwyseres by Moot Akademie wat graag tyd saam met haar vriende en familie geniet. Sy het ʼn woef met die naam Cliffie wat sy as haar hele lewe beskou. “Ek geniet juffrou-wees met al die uitdagings. Ek is geseënd om my passie te kan uitleef.”

Stem vir jou gunsteling-#WonderWyser van die jaar deur op Solidariteit se Facebook- of Instagram-blad die onderwyser se foto te “like”. Klik hier vir meer inligting oor Solidariteit se Onderwysernetwerk en indien jy by dié beroepsnetwerk wil aansluit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel