Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Onderwyser van die Jaar – só lyk die laerskole se top 10!
Deur Ané Janse van Rensburg
Die kandidate vir Solidariteit se Onderwyser van die Jaar-kompetisie vir laerskool-onderwysers toon elkeen hoe belangrik goeie onderwys in hierdie fase is. Hierdie toekenning vier onderwysers wat ʼn verskil maak in die lewens van jong leerders en wat hulself daagliks daaraan toewy om ʼn liefde vir leer te kweek. In ʼn wêreld vol uitdagings is dit hierdie onderwysers wat die grondslag lê vir toekomstige sukses en ontwikkeling. Die wenner in hierdie kategorie sal as ʼn baken van uitnemendheid dien, met ʼn hart vir beide hul beroep en hul leerders.
Hier is vanjaar se toptien-kandidate in geen spesifieke volgorde nie:
Nerine Schutte – Laerskool Voortrekker Eeufees

Nerine is ʼn toegewyde onderwyseres met ʼn passie vir kinders. Sy is daarop gefokus om ʼn koesterende en stimulerende leeromgewing te skep. Sy is ʼn lewenslange leerder wat haar onderrigpraktyke voortdurend verbeter om haar studente te inspireer en te ondersteun. Sy glo dat onderwys ʼn kragtige instrument vir verandering is en dat die investering in kinders se groei ʼn beter toekoms tot gevolg kan hê.
“Ek is passievol daaroor om ʼn verskil te maak en streef daarna om almal te help waar moontlik. Hierdie toewyding strek verder as die klaskamer.”
Udine van Zyl – Gekombineerde Skool Noorderlig

Met 17 jaar se ondervinding streef Udine steeds daarna om haar kennis elke dag te verbreed sodat sy haar leerders kan bystaan in hulle skoolloopbane, en om aan ander onderwysers te wys dat ʼn mens nooit te oud is om te leer nie. Sy het ʼn BEd-graad in Grondslagfase-onderwys en ʼn honneursgraad in Inklusiewe Onderwys. Sy is tans departementshoof van die Grondslagfase en besig met ʼn diploma in skoolleierskap en bestuur.
“Skoolhou, die leerders en die mense wat oor my pad kom, is my passie en ek is dankbaar dat ek dit elke dag kan uitleef.”
Alichea Botha – Paideia Inclusive Education Centre

Alichea is ʼn jong onderwyseres en mamma wat kinders se holistiese welstand ontwikkel. Sy is die eienaar van ʼn klein privaat onderrigsentrum in Stilbaai. Haar onderwysbenadering fokus op die kweek van gebalanseerde en gelukkige individue wat gereed is vir die wêreld se uitdagings. Alichea is lief vir die natuur en plaaslewe, en sy sien onderwys as haar passie en roeping.
“Ek streef daarna om vir kinders nie net die akademie te leer nie, maar eerder van hulle gebalanseerde, gelukkig mense te maak wat die wêreld met kennis, deernis en die gereedskap vir uitdagings kan aanpak. Ek is lief vir alles van die lewe. Vriende, kos, plaaslewe, die natuur en diere is wat my weke afrond en my ʼn gelukkige mens maak!”
Adriaan Pretorius – Laerskool Hennopspark

Met 14 jaar ervaring streef Adriaan daarna om Wiskunde-onderrig in Afrikaans te bevorder. Hy is vertroud met tegnologie soos die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool en Microsoft PowerPoint, en het die behoefte aan tegnologiese hulpbronne in die klaskamer tydens die Covid-19-pandemie raakgesien. Sy betrokkenheid by Laerskool Hennopspark se projekte het hom in staat gestel om aanlyn Wiskundeklasse te ontwikkel om sodoende leerders en onderwysers te bemagtig. Hy bly op hoogte van nuwe ontwikkelings in die onderwys deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Onderwys (SACE) se aanlyn opleidings, en sy administrasie en lesbeplanning is van die hoogste gehalte. Hy is ook betrokke by buitemuurse aktiwiteite, insluitend sport, kultuur en IT-ondersteuning.
Janelle Carstens – Laerskool Garsfontein

Janelle is ʼn onderwyseres met 19 jaar ondervinding, waarvan 8 jaar by Laerskool Rynfield en 11 jaar by Laerskool Garsfontein was. Sy het ʼn passie vir onderwys en kultuur, en as Kultuurhoof gebruik sy haar liefde vir dans en musiek om selfvertroue by leerders te ontwikkel. “As ʼn onderwyseres het ek elke dag die geleentheid om kinders se lewens aan te raak. Daar is geen beter gevoel nie as om aan die einde van die jaar na my graad 1’s te kyk en te weet dit wat hulle kan doen, het ek vir hulle geleer. God het my gekies om leerders te vorm en dis ʼn voorreg om elke dag sy werk te doen.”
Janelle sien elke kind as uniek en streef daarna om by hulle ʼn liefde vir skool en leer aan te wakker. Haar leuse is: “Why be ordinary when you can be extraordinary.”
Monique du Plessis – Laerskool Danie Malan

Monique gee tans skool by dieselfde laerskool waarin haar drome om ʼn juffrou te word, begin het. Sy is ʼn passievolle en toegewyde onderwyseres wat daarna streef om ʼn veilige en bemagtigende klaskameromgewing te skep. Sy is bekend vir haar geduld, vriendelikheid en toewyding, en sien haarself as ʼn mentor en rolmodel vir haar leerders.
“Ek probeer hope entoesiasme en kreatiwiteit by elkeen kweek. Ek is al beskryf as iemand met ʼn sagte moederhart en gees, en ek probeer om ʼn klaskameromgewing te skep wat warm en verwelkomend is, waar elke kind gewaardeer, veilig en bemagtig voel om te leer en te blom soos ons Vader elkeen geskep het.”
Lilize Wonigkeit – Laerskool Garsfontein

Lilize, wat ook bekend is as die “Lego-juffrou”, is ʼn graad 1-onderwyseres wat ʼn sterk band met haar leerders vorm. Sy gebruik musiek en buitemuurse aktiwiteite om ʼn positiewe leeromgewing te skep. Haar onderrigbenadering beklemtoon die belangrikheid van erkenning en liefde vir elke kind, en sy gebruik haar kreatiwiteit om die klaskamerlewe te verryk.
“Elke kind wat voor my in my klas is of was, is ingeëts in my hart en dit is vir my van uiterste belang om ʼn band met elkeen te vorm. Elke kind verdien om erkenning te kry, gerespekteer te word, en die heel belangrikste, om geliefd te voel. Elke Lego weet dat hulle hul juffrou se sonstraal is. Daarom bevestig ons dit daagliks deur die Lego-liedjie, ‘You are my sunshine’, vir mekaar te sing terwyl ek die klas met Buksie, die ukulele, begelei.”
Carol Seager – St Andrew’s Academy

Carol is ʼn skoolhoof wat beskryf word as hardwerkend en sorgsaam. Carol se toewyding aan haar werk en haar ondersteuning van haar personeel en leerders maak haar ʼn uitsonderlike leier.
Anneke Kleyn – Laerskool Monte Visa

Anneke glo baie van die wêreld se probleme ontstaan weens ʼn gebrek aan kennis. Sy sien onderwys as ʼn manier om van die wêreld ʼn beter plek te maak deur kinders met kennis en waardes te bemagtig. Haar onderrigfilosofie fokus op die liefde en veiligheid van elke kind, en sy hoop om ʼn blywende impak op haar leerders te maak.
“Ek het die voorreg om in kinders se lewens in te spreek. My hoop is dat die kinders wat ek onderrig, sal weet hoe geliefd en belangrik hulle is. Dat elkeen sal besef dat hulle ʼn doel op aarde het. Dat hulle al die kennis, ondervinding en waardes wat hulle geleer is, sal vat en die wêreld sal verander – hoe klein of groot hul bydrae ook al mag wees.”
Annali Steenkamp – Laerskool Garsfontein

Annali is ʼn graad 3-onderwyseres wat haar werk met die perfekte kombinasie van grondboontjiebotter en konfyt vergelyk. Annali geniet die holistiese ontwikkeling van kinders deur sport en kultuur, en sy sien onderwys as meer as net ʼn beroep – dit is haar passie en lewensvreugde. Sy het haar loopbaan by Laerskool Menlopark begin en het later na Mpumalanga verhuis voordat sy by Laerskool Garsfontein aangesluit het.
“Elke dag wat ek die klas binnekom, bring ʼn nuwe kans om te inspireer, te leer en om kennis te deel. Dit is vir my ʼn voorreg om elke oggend op te staan, om die kinders te help om te lees, te skryf en hul wiskunde te bemeester.”
“Net soos grondbootjiebotter en konfyt vir altyd ʼn onontbeerlike kombinasie sal bly, so sal die liefde en passie wat ek vir onderwys het, altyd die kern van my loopbaan en my lewe wees.”
Solidariteit se Onderwysernetwerk het ten doel om uitnemendheid en ʼn liefde vir die roeping as onderwyser te ondersteun en te vier. Skep vandag nog ʼn gratis Solidariteit-profiel waar ons saam met jou wil bou aan ʼn toekoms vir jou en die toekoms van ons land.