loading
Artikels
8 maande gelede
onderwyser-van-die-jaar-so-lyk-jou-hoerskole-se-top-10

Foto Krediet: OkayDeer

Onderwyser van die jaar- só lyk jou hoërskole se top-10

Deur Ané Janse van Rensburg

Die toekenning van Solidariteit se Onderwyser van die Jaar vir hoërskool-kategorie beklemtoon die rol van onderwysers wat hul leerders help om die uitdagings van die tienerjare te oorkom en hulle voorberei vir ‘n suksesvolle toekoms. Hierdie kompetisie vereer diegene wat nie net akademiese uitnemendheid aanmoedig nie, maar ook ‘n sterk waardestelsel en lewensvaardighede by hul leerders inprent. Die wenner van hierdie kategorie sal erken word as ‘n leier in opvoeding, wat ‘n blywende impak op die lewens van jongmense het.

Hier is vanjaar se toptien-kandidate in geen spesifieke volgorde nie:

Madeline Kriel – Pionierskool

Madeline het in Julie 2023 aangesluit by Pionierskool vir Blindes en Siggestremdes in Worcester. Haar passie is om leerders positief te beïnvloed en sy gee altyd 110%. “Ek wil graag die wêreld aan Pionierskool se leerders in ‘n positiewe manier bekendstel en al ons leer-oomblikke deel, of dit nou in my vakke is wat ek aanbied of die diere wat ek graag inbring om hulle aan bloot te stel, of net ons lag-vir-onsself oomblikke.”

Sy streef daarna om ‘n verskil in elke leerder se lewe te maak.

Cecilia Hartzenberg – La Salle College

Cecilia is ‘n toegewyde opvoeder met tien jaar se ervaring en ‘n diep passie om ‘n blywende impak op haar leerders se lewens te maak. Haar liefde vir boeke het haar na ‘n loopbaan in taalonderrig gelei, en sy gebruik my haar uitdagende kinderjare om sterk konneksies met haar leerders te vorm. Hierdie jaar het sy die skool se biblioteek opgerig, aangesien sy sterk glo in die transformerende krag van literatuur. Verder het sy ‘n suksesvolle liefdadigheidsinisiatief geloods om maaltydbottels aan minderbevoorregte gemeenskappe te versprei. Sy speel ook ‘n sleutelrol in die bestuur van die skool se tennisspan. “Ek poog elke dag om jongmense te inspireer en ‘n betekenisvolle verskil in hul opvoedkundige reis te maak.”

Leandra Klein – Trinityhouse High School Little Falls

Leandra is ‘n jong onderwyseres van 29, betrokke by beide akademiese en buitemuurse aktiwiteite. Sy is passievol oor Afrikaans en Bybelonderrig, en strewe na inklusiwiteit. Sy sien dit as ‘n voorreg om met kinders te werk en streef daagliks om haarself te verbeter. “Ek streef elke dag om beter te wees as gister en glo 100% in, inklusiwiteit. Die Here het almal perfek geskape en dit is ‘n voorreg om met Sy kinders te werk.”

Monese Minnie – Felixton College

Monese is ‘n Rekeningkunde onderwyseres wat haar loopbaan in 2017 begin het ná ‘n loopbaan as ʼn eksterne ouditeur. Sy is tans Graadhoof van die Graad 12’s en Matriekafskeid beplanner, en praat van haarself as ʼn “all-round”-ma vir haar skoolkinders. Hoewel sy self nie kinders het nie, sien sy haar leerders as haar eie en dien hulle met toewyding.

Marius Jansen Van Rensburg – HTS Witbank [Hoër Tegniese Skool Witbank]

Met 7 jaar ondervinding, is dit Marius se omgee-persoonlikheid en hardwerkendheid wat hom motiveer om ʼn verskil in kinders se lewens te maak. Hy geniet verder sport en hou van visvang. “Die lekkerste deel van skoolgee is die geleentheid wat jy as onderwyser kry om ‘n verskil in ‘n kind se lewe te maak. My leerders is soos my eie kinders, my hart is verskriklik groot vir hulle almal.”

Sunette van der Walt – Hoërskool Oosterlig

“Onderwys is beslis my roeping! Om daagliks met die Koninkryk te werk is die grootste geskenk wat enigeen kan ontvang,” sê Sunette. Haar werk as onderwyseres sluit die bou van leerders se selfvertroue en selfbeeld in. Sy is betrokke by leierskap, revue-organisasie, en bemarking by die skool. Sy glo dat onderrig nie net akademies is nie, maar ook die aanraak van die hart behels.

“My kinders is my dryfkrag, energiebron, en passie! Om elkeen in hulself te laat glo, hul selfvertroue en selfbeeld te bou, hul waarde te laat besef, en in ‘n pragtige toekoms te glo is onomwonde die hoogtepunt van my werksbeskrywing!”

Sy groet haar skoolkinders soos wat sy haar eie kinders groet: “”Gaan maak ‘n nuwe maatjie; eet ‘n lekker broodjie & PLUK DIE DAG!”

Christo van Niekerk – Die Hoërskool Wagpos

Christo is ‘n jong man met ‘n passie vir onderwys en kinders se ontwikkeling. Hy wil ‘n rolmodel wees, veral vir seuns, en is betrokke by verskeie sportsoorte. Hy fokus daarop om leerders te ondersteun en hulle morele waardes te versterk.

“Ek het n passie om met kinders te werk en elke dag n groot sukses te maak en die beste van elke oomblik te maak asook om elke dag bereid is om te leer.

Ek gee my beste dat leerders my vertrou,my kollegas my vertrou,my werk bo standaard is,ek op my beste lyk elke dag en belangrikste dat kinders dit geniet.”

Marianka Pretorius – Bergsig Akademie

Marianka ‘n hoërskoolonderwyseres met ‘n groot passie vir haar werk, wat elke dag in die klaskamer geniet. Sy streef daarna om jong geeste te ontwikkel en ‘n positiewe impak op haar leerders te maak. “Elke dag in die klaskamer vul my met vreugde en doel, want ek is toegewyd aan die onderrig en ontwikkeling van jong geeste. My liefde vir onderwys dryf my om kreatief en geduldig te wees, sodat ek elke student se unieke potensiaal kan ontsluit.”

Johan Nolte – Hoërskool Oos-Moot

Johan is ‘n RTT, IT, en robotika onderwyser en CSV (Oosie-Lig) organiseerder met ‘n passie vir onderwys. Hy het E-sport by die skool begin en is ‘n entoesiastiese organiseerder daarvan.

“Ek het onderwys gestudeer as gevolg van ‘n visie wat die Here my gegee het. Hy gaan my onderwys-graad gebruik om deure oop te maak in Afrika.”

Hy beplan om in 2024 na Madagaskar te immigreer om as sendeling te werk. “Alles wat ek is en het is tot eer van Jesus Christus.”

Hester van Aswegen – Hoërskool Hugenote

Hester is ʼn Wiskunde onderwyseres met ‘n missie om wiskunde verstaanbaar te maak vir al haar leerders. Sy fokus daarop om elke leerder se selfvertroue te bou en hulle te help om hul volle potensiaal te bereik. Sy is ook betrokke by N1 en N2 wiskunde klasse en het ‘n YouTube kanaal waarop sy  video’s oplaai om leerders met Wiskunde te help.

“My missie is elke leerder in my klas moet voel hulle word raak gesien en dat hulle die selfvertroue sal ontwikkel om elke wiskunde probleem tot die beste van hulle vermoë sal aanpak. Die woorde “”ek kan nie”” bestaan nie! Elke leerder in my klas se hart is belangrik.”

Solidariteit se Onderwysersnetwerk wil graag diegene eer wat as inspirasie dien vir ide onderwysers om hulle. Ons glo dat elkeen ʼn belangrike rol speel in die vorming van ons kinders se tokeoms. Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en vorm deel van ‘n netwerk wat jou wil ondersteun ! Onderwysers, jy hoort hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel