
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Onderwysernetwerk het groot planne vir 2025
Solidariteit se Onderwysernetwerk het groot planne vir 2025, wat onder meer insluit ’n Onderwyserkongres en talle nuwe kursusse om onderwysers professioneel en persoonlik te ontwikkel en só te bemagtig. Lees gerus verder!
Deur Nico Strydom
Solidariteit se Onderwysernetwerk het ten doel om ʼn beroepsgemeenskap vir onderwysers in Afrikaanse skole te skep waardeur die beroep beskerm en bevorder kan word.
Volgens Anlia Archer, bedryfspesialis en organiseerder vir Solidariteit se Onderwysernetwerk, sal daar vanjaar steeds kliphard geveg word teen die Bela-wet en sy invloed op taal en toelatings. “Ons sal vir elke liewe onderwyser baklei waar daar onregverdigheid of onregmatigheid plaasvind. Ons wil ook verseker dat ons ons lede tot die beste van ons vermoë adviseer en ’n beter diens aan hulle verskaf ten einde regtig ʼn daadwerklike verskil te maak rakende hul werkstevredenheid.”
’n Onderwyserkongres word vir die tweede kwartaal van vanjaar beplan. Daar sal tydens die kongres op drie kerntemas gefokus word, naamlik die regte van onderwysers, konflikhantering in die onderwys en professionele etiek. “Ons beplan om dit in die vorm van ’n werkswinkel te doen waarheen ons alle onderwysers sal nooi. Dit sal gratis wees vir ons lede.”
Intussen gaan die Onderwysernetwerk ook vanjaar nog kursusse by sy reeds omvattende aanbod byvoeg. “Ons fokus vanjaar op opleiding en om ons aanbod in dié opsig te vergroot. Ons gee vir ons lede ’n platform om vir ons te kan sê wat hulle behoeftes is, en dan werk ons baie nóú saam met fantastiese kundiges en kenners om hierdie modules te kan ontwikkel.”
Daar word tans aan ’n slypskool-kursus vir onderwysers gewerk wat uit ’n wye reeks modules sal bestaan wat spesifiek ontwikkel is vir onderwysers wat pas afgestudeer het. “Die kursus sal ten doel hê om praktiese vaardighede te bied vir gebruik in die klaskamer. Dit sal onder meer insluit hoe om jou register in te vul, hoe om die tiendedag-opname te doen, hoe om sekere vorms in te vul, en wat jy moet doen en wat jy nie moet doen nie. Dit sal egter nie net vir nuwe onderwysers wees nie, maar ook vir onderwysers wat voel hulle het bietjie opskerping nodig, of onderwysers wat nuwe vaardighede wil aanleer ten einde te verseker dat ons innoverende onderwysers het.”
Volgens Archer wil die Onderwysernetwerk met sy lede in gesprek tree en is daar ’n platform vir onderwysers waar hulle kan sê waarin hulle opleiding wil hê. “Ons stel reeds ’n fantastiese reeks kursusse en opleidingsgeleenthede daar vir onderwysers, maar ons wil ook hê hulle moet met ons praat en vir ons hulle insette stuur om seker te maak dat ons aan hulle behoeftes voldoen. Dus, as ons nie die kundiges daarvoor het nie, dan gaan kry ons die nodige kundiges om te help om seker te maak dat onderwysers bemagtig voel in die werkplek.”
Solidariteit se Onderwysernetwerk kan ook persoonlike opleiding by skole bied, indien daar spesiale behoeftes is. “Ons werk nóú saam met die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en ons hou netwerkgeleenthede waaraan daar altyd ’n opleidingskomponent gekoppel word. Ons nooi die onderwysers uit en dit is heeltemal gratis vir ons lede. Daar is ook ’n voordeel vir skole indien 50% plus een van die onderwysers lede van Solidariteit is. Die skole kan ’n versoek aan ons rig vir pasgemaakte opleiding, en dan ontwikkel en bied ons ’n sessie vir daardie spesifieke skool aan.”
Klik hier om meer te lees oor die voordele wat die Onderwysernetwerk jou bied. Om met die Onderwysernetwerk in kontak te kom, stuur ʼn e-pos na onderrig@solidariteit.co.za. Indien jy nog nie deel is van die Onderwysernetwerk nie, klik hier om lid te word.