loading
Artikels
7 maande gelede
onderwysers-mag-nie-weer-slagoffers-van-die-staat-word-nie

Foto Krediet: Okay Deer

Onderwysers mág nie weer slagoffers van die staat word nie

Pieter Jordaan

Solidariteit is gereed om in te gryp indien die Departement van Basiese Onderwys nie sy deel doen om met mag en mening te veg vir onderwysposte nie.

Die moontlikheid van begrotingstekorte wat kan meebring dat provinsiale onderwysdepartemente geen verdere onderwysvakatures vul nie , word nie ligtelik opgeneem word nie.

Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die wete dat ons in ʼn land woon waar aansienlik méér en verbeterde onderwyshulpbronne drasties benodig word om tekortkominge die hoof te bied, is meer as genoeg rede om beperkings op onderwysposte nie eers as ʼn opsie te oorweeg nie.

“Natuurlik ondervind Suid-Afrika ʼn groter fiskale probleem. Maar ons dink die onderwysdepartement kan veel eerder slimmer met begrotings te werk gaan. Daar is ook ander maniere om die finansiële moeilikheid die hoof te bied, soos om hande te vat met gemeenskappe en die privaat sektor om sulke skadelike maatreëls met poste te verhoed.

“Om onderwysposte op groot skaal te beperk durf hoegenaamd nie ʼn opsie te wees nie. Minder onderwysers beteken groter klasse, wat beteken dat die gehalte van onderrig daaronder ly. Dit het ʼn direkte impak op kinders se vermoë om vaardighede aan te leer en baas te raak, terwyl reeds oorlaaide onderwysers se lading dan net nóg groter word,” sê Prinsloo.

Volgens Solidariteit sal die afname in aanstellings in die onderwyssektor uiteindelik ook in die groter Suid-Afrikaanse ekonomie gevoel word.

Prinsloo glo daar is ʼn ander uitweg, maar dit sal bereidwilligheid vanuit regeringskringe verg.   

“Indien funksionele skole se beheerliggame se hande gesterk word, eerder as gebind word, soos wat die plan met die Bela-wetgewing is, kan die staat daarby baat.

“As skole toegelaat word om hulself meer onafhanklik te bestuur en hierdie bestuur op die hulpbronne tot hul beskikking kan aanwend, kan dit daartoe lei dat die staat minder verantwoordelikhede teenoor hierdie skole het om na te kom.

“Dit kan vir die departement finansiële verligting bied en dus kan gelde elders doeltreffend aangewend kan word,” sê Prinsloo.

Volgens haar is die huidige situasie die gevolg van skaamtelose wanbesteding asook korrupsie oor jare. Om dit te verander sal verg dat die regering moet afstand doen van sentrale beheer oor skole.

“Dit is iets waartoe die ANC-beheerde regering die afgelope 30 jaar nie sou instem nie, maar met die koms van die regering van nasionale eenheid (RNE) is daar ʼn geleentheid om ʼn nuwe koers in te slaan.

“Daar is ʼn ander uitweg as om onderwysers die slagoffers van onverantwoordelike staatsbesteding te maak,” sê Prinsloo.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel