Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Onderwysers steeds geminag in begroting
Deur Helene Mocke
Kommer heers oor die gebrekkige begrotingsplanne vir die onderwyssektor nadat die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) vandeesweek bekendgemaak is.
Selfs al stuur die begrotingstoewysing van R376 miljoen aan die Departement van Basiese Onderwys vir die bou, instandhouding en verbetering van skole ʼn positiewe boodskap uit, waarsku Solidariteit dat hierdie befondsing nie die hele spektrum van uitdagings wat die sektor ervaar, die hoof bied nie.
Johnell Prinsloo, ʼn navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het in reaksie op die MBTR, soos wat dit deur die minister van finansies Enoch Godongwana aangekondig is, Solidariteit se kommer uitgespreek oor die toekoms van noodsaaklike onderwysposte.
Benewens die R376 miljoen wat vir instandhouding bewillig is, is ander fondse soos R20 miljoen vir werkboeke, R35 miljoen om infrastruktuurbehoeftes te hervorm en R251 miljoen vir die “Vinnige Skoolbou-program” in die Wes-Kaap bewillig. ʼn Verdere R70 miljoen is beskikbaar gestel vir die herstel van vloedskade aan skole. Solidariteit het egter beklemtoon dat hierdie begrotingstoewysings nie ʼn antwoord bied op die onderwysertekorte wat reeds ernstige afmetings aanneem nie.
“Hoewel daar waardering is vir hierdie voorneme om finansiële hulp aan skole te verleen, moet ons vra wié die opvoeding in hierdie nuwe skole gaan behartig, aangesien daar tans reeds ʼn tekort aan onderwysers is, veral in die Wes-Kaap, waar meer as 2 400 onderwysersposte gesny is.”
“Oorvol klaskamers het ʼn nadelige uitwerking op leerders se toegang tot gehalte-onderwys en die uitdaging in die Wes-Kaap kan nie, soos minister Godongwana sê, as ʼn selfopgelegde probleem beskou word nie,” sê Prinsloo.
Prinsloo is van mening dat die onderwyssituasie vergelyk kan word met die finansiële krisisse by instellings soos die SAL, Eskom en Transnet, waar die regering telkens finansiële steun gebied het. “Alhoewel die krisisse by hierdie instellings ook as selfopgelegde krisisse gesien word, was daar telkens ʼn bereidwilligheid van regeringskant om te help,” het sy beklemtoon.
Prinsloo het verder gesê openbare onderwys moet as ʼn nasionale bate beskou word en nie as ʼn besigheid nie. “Die behoud en uitbreiding van onderwysposte, tesame met die bou van nuwe infrastruktuur, is nie verkwisting nie, maar ʼn ware belegging in die toekoms van ons land. Dit is hoe die regering sy verantwoordelikheid teenoor kinders, en dus die land se toekoms nakom, en hoe hy werkloosheid verminder en ʼn beter toekoms vir almal verseker,” het Prinsloo afgesluit.