Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Onderwyskrisis vererger weens begrotingstekorte – Solidariteit
Solidariteit het sy kommer uitgespreek oor die beplande afskaffing van meer as 2 400 onderwysposte in die Wes-Kaap, en skryf dit toe aan die nalatigheid en swak bestuur van die Departement van Basiese Onderwys.
Volgens Solidariteit se onderwysernetwerk vererger hierdie besluit die onderwysstelsel, wat reeds onder druk gebuk gaan, se situasie. “Daar is reeds ʼn tekort aan onderwysers, en ʼn kommerwekkende aantal leerders sukkel met basiese vaardighede,” sê Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die professionele sektore by Solidariteit.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het aangedui dat die provinsie in die komende drie jaar ʼn begrotingstekort van ongeveer R3,8 miljard in die gesig staar. Om hierdie finansiële druk te verlig, oorweeg die departement die besnoeiing van talle onderwyserposte as ʼn noodmaatreël.
Solidariteit se onderwysernetwerk staan hierdie besluit sterk teen en sê die onderwyssektor moenie ly weens die departement se eie tekortkominge nie. Die verdere besnoeiing van poste sal hierdie sektor wat reeds onder druk verkeer ernstige skade berokken.
“Om onderwysers af te lê in ʼn tyd waar die land ʼn ernstige tekort aan onderwysers ervaar, is onverantwoordelik en kortsigtig,” aldus Botha.
Die Solidariteit Onderwysernetwerk beskerm hardwerkende onderwysers en die onderwyssektor teen die regering se onbevoegdheid. Daar is tans onderwysposte beskikbaar op Solidariteit se aanlyn werkplatform, waarop meer as 2 000 werkgewers geregistreer is en reeds 5 700 poste geadverteer word.
Die Solidariteit Onderwysernetwerk dring daarop aan dat die Departement van Onderwys verdere stappe moet neem om ʼn potensiële ramp in die onderwysstelsel te voorkom.