
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
“Ons bloed is oranje” – die vryheidslied van ons tyd
Die idee agter die tema van die lied “Ons bloed is oranje” het ontstaan met die protesoptog teen die anti-Afrikaanse Bela-wetgewing wat in 2024 by Voortrekkermonument plaasgevind het. Die geskiedenis gaan dit nog merk as ʼn reuseagtige gebeurtenis in die bewussyn van Afrikaners. In dié oomblik, tydens die grootste Afrikaanse taaloptog van die eeu, het die soeke na vryheid vir Afrikaners weer vlamgevat. Dit is ’n kleur wat leef in die onderbewussyn van Afrikaanse sprekers en nou is dit weer op die voorgrond. Oranje vloei diep in ons are. Van die Franse stad, Orange, tot die Nederlandse Prins Willem van Oranje, die Oranje-Vrystaat en die Oranjerivier. Ons het nie oranje gekies nie, oranje het ons gekies!
Daarom vier ons dit met trots. Hiermee sê ons ons eis ons eie identiteit op, ons erken ons ryk Westerse geskiedenis, maar ook dat ons voete in Afrika geplant is. Hier staan ons en skree, ons bloed is oranje!
Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit skryf:
In 2015 het Afrikaans 90 jaar oud geword en die FAK en Ludwig-rose het die pragtige oranje roos, genaamd Afrikaans, bekendgestel.
Oranje is die kleur van Afrikaans. By die bekendstelling van die roos is daar gesê dat oranje die kleur van warmte en gasvryheid is; ʼn kleur wat jou laat tuis voel.
Histories is oranje die kleur van Nederland; talle republikeinse vlae het oranje as kleur en oranje was deel van die naam van die Republiek van die Oranje-Vrystaat.
Maar Afrikaans is nie net Nederlands nie. Hier op Afrikagrond is dit gevorm. Vanuit vele invloede, hier in die midde van die pragtige oranje sonsopkomste en sonsondergange van Afrika, is ons taal gevorm. Afrikaans het uit Afrika gegroei en hier wortelgeskiet.
Oranje, lê diep in die onderbewussyn van Afrikaanse sprekers. Talle Afrikaanse organisasies het deur die loop van die geskiedenis besluit om hulle organisasie se kleur oranje te maak ondermeer die Solidariteit Beweging wie se primêre kleur oranje is.
Die organiseerders van die Bela-optog, wat oor die behoud van Afrikaans in die onderwys gaan, het daarom besluit om oranje die primêre kleur van die optog teen die Bela-wet te maak. Ook daarom het die Voortrekkermonument besluit om die hele Novembermaand van 2024 die Voortrekkermonument oranje te belig ter ondersteuning van Afrikaanse onderwys.
Ons het ʼn lang oranje-storie. Wees dus gerus trots oranje.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, skryf:
Oranje en Afrikaans is deel van Afrika
In die tyd van keiser Augustus het die stadjie Orange sowat 2 000 jaar gelede in die hart van suidoos Frankryk ontstaan. Orange het beroemd geword vanweë sy besondere Romeinse monumente. Daar is onder meer ’n goed bewaarde teater wat tydens Augustus se bewind in 27 v.C. gebou is, en ’n reusagtige Romeinse triomfboog.
Orange was later ’n prinsdom, en het tydens die Protestantse hervorming die eiendom van prins Willem van die Nederlande geword. So het hy die titel “Prins Willem van Oranje” gekry. In die 80-jarige Nederlandse onafhankliksheidsoorlog teen Spanje was Orange ’n vesting van Hugenootse Protestante. Prins Willem het oranje as kleur van sy skild en familiewapen gekies, en sy soldate het selfs in oranje kleure geveg. Hoewel die stad in die 17de eeu deel van Frankryk geword het, het die titel van Prins van Oranje deel van die Nederlandse koningshuis gebly, en is daar vandag nog een van sy nasate, koning Willem Alexander, op die troon.
Die kleur Oranje het vanweë die Nederlandse koppeling deel van verskeie plekname in Suid-Afrika geword, soos die vroeëre Oranje-Vrystaat en die Oranjerivier. Die vorige Suid-Afrikaanse landsvlag was ook op die oranje, wit en blou Prinsevlag gebaseer. Dis onder hierdie vlag wat Suid-Afrikaanse magte in die Tweede Wêreldoorlog teen die Nazi’s en daarna in Korea teen die kommunisme geveg het. Die Solidariteit Beweging se keuse van oranje as kleur tydens die onlangse optog teen die taal- en toelatingsbepalings van die Bela-wet spruit uit hierdie eeue oue geskiedenis. Afrikaans het immers grootliks uit Nederlands ontstaan. Ons het dus nie oranje gekies nie; oranje het ons gekies.
Stryd van twee eeue
Die stryd teen die verengelsing van skole is nou reeds twee eeue oud. Dit het begin toe Lord Charles Somerset in 1822 bepaal het dat Engels die enigste taal in skole moet wees. Later het Lord Alfred Milner tydens die Anglo-Boereoorlog Engelse skole in die konsentrasiekampe opgerig om Afrikaner kinders te probeer verengels. Net na afloop van die oorlog het hy selfvoldaan verklaar: “I have saved the English position in South Africa, and have knocked out the bottom of the great Afrikaner nation, for ever and ever, Amen.” Die Boere se onderhandelaars het egter tydens die vredesonderhandelings (suksesvol) daarop aangedring dat daar nie gedwonge verengelsing in skole sou wees nie. Ná die oorlog is daar landswyd Afrikaanse skole gevestig.