loading
Artikels
2 jaar gelede
ons-kan-nie-op-die-staat-staatmaak-nie-skole-se-toekoms-is-op-die-spel

Foto Krediet: OkayDeer

Ons kan nie op die staat staatmaak nie – skole se toekoms is op die spel

Deur Maryna Eksteen

Kom ons wees sommer uit die staanspoor eerlik, die staat is onbevoeg. Die staat kan nie sy rol as ondersteuner volstaan nie; die druk is eenvoudig net te veel. Om vir handboeke en onderwysposte voorsiening te maak, rus swaar op die staat se skouers. Dit verg moeite en aandag om die infrastruktuur van skole in stand te hou. Die enigste logiese oplossing sal wees om die septer te swaai en eerder die skole wat werk te kaap. Dit is vir die staat net té ongemaklik om in die bed wat hulle self gemaak het te slaap, maar “danksy” die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (algemeen bekend as die Bela-wysigingswetsontwerp) gaan die druk op die staat aansienlik verminder.

Die agtergrond

Die Suid-Afrikaanse Skolewet het in 1996 in werking getree met die doel om skole wat aan die staat behoort aan die publiek oor te gee. Die oorspronklike doel van ʼn beheerliggaam was om ouers in ʼn vertrouensposisie teenoor die skool aan te stel. Die Bela-wysigingswetsontwerp het in 2017 vir die eerste keer die hoofopskrifte gehaal en Solidariteit het uit die staanspoor die boosagtige voorstel teengestaan. Klik hier om meer te lees oor Solidariteit se insette en sy betrokkenheid by die omstrede Bela-wysigingswetsontwerp.

Skole was gedesentraliseer en staatskole het openbare skole geword. Die effek hiervan is dat skole aan die gemeenskap (die ouers van leerders in ʼn skool) oorgegee is om saam met die skoolhoof en die Departement van Onderwys die skool te bestuur. Elke entiteit het dus ʼn rol om te vertolk om die vooruitgang van skole te kan verseker.

Die beheerliggaam

Geen skool kan sonder ʼn beheerliggaam funksioneer nie aangesien dit instaan vir die operasionele take wat verrig moet word. Dié take sluit die skool se beleide en die finansiële bestuur in. Die hoof en hulle personeel pas die operasionele take toe soos deur die beheerliggaam besluit. Akademiese leiding rus op beide die skoolhoof en die skoolbestuur.

In skole waar die beheerliggaam (ouers) betrokke is, word daar geleenthede vir leerders geskep vir gehalte-onderrig en -afrigting. Die skole se vooruitgang het toegeneem terwyl skole met onbetrokke ouers drasties afgeneem het.

Die staat

Die staat se rol is om in ʼn ondersteunende hoedanigheid op te tree. Dit is hier waar die staat veronderstel is om in te tree om te verseker dat daar infrastruktuur beskikbaar is en dat dit onderhou word. Die staat se taak is om voorsiening te maak vir hulpbronne soos water, leermateriaal en genoeg opgeleide onderwysers.

Die harde realiteit is egter dat die staat nie sy eie mandaat kon onderhou nie. Daar was nie nuwe skole gebou nie, daar is ʼn tekort aan handboeke en opleiding van onderwysers het ʼn bysaak geword. Skole vou onder die tekort aan beheerliggame en skole sluit omdat ouers nie langer kan toekyk hoe hul kinders in die skole agteruitgaan nie.

Volgens Johnell van Vollenhoven, beleidsontleder en navorser by Solidariteit, is die skole wat baie goed presteer nie te danke aan die staat nie, maar eerder ten spyte van die staat.

Sentralisme kaap ons vryheid

Soos met alles in Suid-Afrika is dit onmoontlik vir die staat om te aanvaar dat gemeenskappe sonder hulle insette goed kan doen en kan presteer. Dit is makliker om eerder die skole wat werk (as gevolg van beheerliggame) te kaap as om die gemors wat die staat self veroorsaak het, reg te stel. Die staat se oplossing is om skole met behulp van die Bela-wysigingswetsontwerp te sentraliseer. Die Bela-wysigingswetsontwerp gaan egter alle regte wat ouers het, wegneem en die beheerliggaam sal ingeperk word sodat die staat die septer kan swaai.

Volgens Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, moet die staat meer en meer mag en hulpbronne sentraliseer om sy groot agenda te kan uitvoer. “Dit vereis dat die staat al hoe meer in die vryhede van sy burgers, die ekonomie, die reg en die media moet inmeng. Daardeur word die demokrasie en politieke mag juis die werktuig om die burgers se vryheid te ondermyn en lei die proses algaande tot groter verontregting en later oorheersing,” meen hy.

Federalisme is die antwoord

Die Solidariteit Beweging se doel is om ʼn toekoms te help bou waarin die Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig is. Hierdie model van ʼn beweging, instellings, selfbestuur en selfstandigheid kan ook beskryf word as gemeenskapsfederalisme. Eenvoudig gestel beteken dit dat die gemeenskap self verantwoordelikheid aanvaar en op die laagste vlak moontlik besluite neem. Ons soek minder staat en meer privaat.

Hoe kan ʼn staat oor ons kinders se toekoms heers as hy nie eers ʼn skool in stand kan hou nie? Sluit by Solidariteit aan om te veg vir ʼn beter toekoms vir jou en jou nageslag. Die bedreiging wat dit vir onderwysers en Afrikaanse skole inhou, is skrikwekkend! Die tyd het nóú aangebreek om jou stem dik te maak hieroor! Bombardeer president Ramaphosa se inboks hier met jóú beswaar.

Sê hard en duidelik …

President … dis my kind, my taal, my gemeenskap, my skool!


Nuutste nuus:

Jou stem het binne 48 uur ʼn direkte aanval op Afrikaanse onderwys stopgesit!

Pres. Cyril Ramaphosa gaan nie die artikels oor die taal- en toelatingsbeleid in die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) in werking stel nie.

Die stryd teen die gewraakte Bela is egter nog nie verby nie.

Ouers, onderwysers en lede van die Afrikaanse gemeenskap, dit is nóú tyd om teen dié vergryping op te staan!

Bombardeer president Ramaphosa se inboks hier met jóú beswaar.

Klik hier en sê jou sê!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel