loading
Artikels
6 dae gelede
ons-vier-150-jaar-sedert-die-stigting-van-die-gra

Foto Krediet: OkayDeer

Ons vier 150 jaar sedert die stigting van die GRA

Deur Kyla-Ann du Toit

Op 14 Augustus 2025 vier ons die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) 150 jaar gelede – ʼn mylpaal wat bepalend was vir die geskiedenis van Afrikaans en die Afrikaners. Wat in 1875 as ʼn beskeie vergadering van ʼn groepe taalpatriotte in die Paarl begin het, het ʼn magtige taal- en volksbeweging geword wat ons taal sy regmatige plek in die samelewing gegee het.

ʼn Wending in ons geskiedenis

Die GRA is op 14 Augustus 1875 gestig na aanleiding van Arnoldus Pannevis se pleidooi vir ʼn vertaling van die Bybel in Afrikaans. Hy het die behoefte raakgesien om die volk se taal te bevorder, en sy korrespondensie met die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap het uiteindelik tot die geskiedkundige vergadering in die Paarl gelei. Op dié vergadering is besluit dat Afrikaans nie net gepraat moes word nie, maar ook as ʼn skryftaal erken en gebruik moes word.

Die stigterslede – C.P. Hoogenhout, D.F. du Toit (“Oom Lokomotief”), S.J. du Toit, A. Ahrbeck, S.G. du Toit, G. Malherbe, dr. D.F. du Toit en P.J. Malherbe – het hulle doel duidelik gestel: “Om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land.”

Dit was nie bloot ʼn taalstryd nie, maar ʼn stryd om die identiteit van die sprekers van Afrikaans as ʼn nasie.

ʼn Stem vir Afrikaans

Op 15 Januarie 1876 het die GRA sy eie nuusblad, Die Patriot, bekendgestel. Dit was die eerste Afrikaanse koerant. Geskryf in eenvoudige, verstaanbare Afrikaans was dit die spreekbuis van die GRA en was dit die vonk wat taalliefde en trots in baie harte aangevuur het. Die GRA het ook boeke, woordeboeke en ander leesstof in Afrikaans uitgegee sodat mense kon begin om hulle eie taal te lees en skryf.

Die nalatenskap van die GRA

Van sy nederige begin het die GRA ʼn invloedryke beweging geword wat die Afrikaanse taal- en kultuurstryd op verskeie terreine gevoer het. Die GRA se pionierswerk het uiteindelik die weg gebaan vir ʼn eie Afrikaanse Bybelvertaling, Afrikaanse onderrig, letterkunde en media – die pilare waarop ons taal vandag nog rus.

Selfs meer as ʼn eeu later resoneer die GRA se oorspronklike doel steeds in projekte, organisasies en instellings wat Afrikaans deesdae beskerm en bevorder. Die GRA se nalatenskap leef voort in onder meer skole waar kinders in Afrikaans kan leer, in die boeke wat ons lees, die koerante wat elke dag in Afrikaans verskyn, in kultuurfeeste waar ons taal met trots gevier word en deur Afrikaanse instellings wat verseker dat ons gemeenskap vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan. Die besieling wat die GRA in 1875 aangevuur het, brand steeds helder in die harte van dié wat glo dat taal die draer van identiteit en gemeenskap is.

Hoekom is GRA-dag belangrik?

GRA-dag is meer as net ʼn historiese herdenking – dit is ʼn viering van die trots en vasberadenheid van ʼn handjievol mense wat geweier het om hulle taal en kultuur prys te gee. Hulle het met passie gewys dat ʼn volk sy identiteit deur sy taal kan bou en bewaar.

Op hierdie 150ste herdenking kan ons met trots terugkyk, maar ons kan ook vorentoe kyk. Want soos die GRA se stigters reeds destyds geweet het: ʼn Taal leef net so lank as wat sy mense dit praat, ontwikkel en beskerm.

Solidariteit is daartoe verbind om te verseker dat Afrikaans nie net ʼn taal van ons verlede bly nie, maar ʼn taal van ons toekoms is – onlosmaaklik deel van ons identiteit. Afrikaans leef. Afrikaans werk. Afrikaans bou. Sluit vandag nog by jou Afrikaanse aanlyn gemeenskapaan en bou saam aan die werk wat in 1875 begin het, en verseker ʼn vry, veilige en voorspoedig toekoms vir ons en ons nageslag.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel