loading
Artikels
7 maande gelede
onsbou-afrikaners-se-geheime-wapen

Foto Krediet: OkayDeer

As jy onseker is oor die toekoms, bou dit self!

Deur dr. Eugene Brink

Afrikaners se geskiedenis is besaai met kontraste: hoop en wanhoop; verwoesting en bou; swaarkry en triomfeer.

Elke keer wanneer ons platgeslaan is – hetsy deur geweld, die verskroeideaardebeleid, aftakeling, armoede of diskriminasie – het ons teruggeslaan en opgestaan. Daar is geen beter voorbeeld hiervan as die instellings wat al gebou is nie. Hierdie instellings het opleiding en werk verskaf aan ʼn verslae volk. Hulle het ʼn politieke tuiste gebied. Hulle het getroos en opgehef. Hulle is telkens teen alle verwagtinge en ondanks ʼn klein begin en terugslae in groot suksesse omskep.

Wat het Afrikaners al gebou? Die ruimte ontbreek daarom als weer te gee, maar sommige voorbeelde staan wel uit.

Die meeste van Suid-Afrika se stede en dorpe dra Afrikaners se merk. Die Groot Trek het die grondslag vir verspreiding gelê en daarna is daar meer permanent gevestig en gebou. Afrikaanse ingenieurs, argitekte, administrateurs, boere en werkers het ʼn aandeel in die bou van uiteenlopende plekke soos Bloemfontein, Pretoria, Swellendam, Vryheid en Potchefstroom. Die Suid-Afrikaanse landskap lê ook vol Afrikanermonumente wat die geskiedenis vertel en vandag met groot moeite in stand gehou word. Sommige is klein terwyl ander – soos die Voortrekkermonument – enorm is. Almal het betekenis.

Die armblankevraagstuk en die Afrikaner se verstedeliking in die eerste helfte van die 20ste eeu was die dryfveer agter die ekonomiese en kulturele instellings, bewegings en organisasies wat destyds tot stand gebring is. Nasionale Pers (vandag Naspers) is in 1915 gestig, met Die Burger as aanvanklik die enigste koerant in hierdie stal. Daarbenewens is Sanlam, Santam, Volkskas en die Rembrandtgroep (vandag Richemont en Remgro) tot stand gebring. Die Reddingsdaadbond, wat in die laat 1930’s gestig is, se leuse som dit aforisties op: ʼn Volk red homself!. Onder hierdie bond se vaandel is tallose volksondernemings gestig om ʼn Afrikanerekonomie stukrag te gee − dus, ʼn netwerk van werk. Die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) het ook in hierdie tyd as ʼn genootskap vir Afrikanersakelui gestalte gekry.

Mettertyd is Shoprite, Pepkor en OK Bazaars onder Christo Wiese se leiding tot sommige van vandag se grootste maaskappye uitgebou. Jannie Mouton was instrumenteel in die sigting en sukses van Capitec, PSG en die Curro-groep. Sasol en vandag se sukkelende staatsbeheerde ondernemings – soos Eskom – is deur Afrikaners opgerig en tot uitnemende instellings opgebou voordat die ANC-regering dit afgetakel het.

Die hedendaagse Noordwes-Universiteit se eerste studente moes in die veld en onder bome klas kry. Dit is mettertyd tot ʼn indrukwekkende universiteit ontwikkel. Die Randse Afrikaanse Universiteit (vandag die Universiteit van Johannesburg) is gestig as ʼn Afrikanerteenvoeter vir die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en ʼn voertuig om Afrikaners op gelyke voet en in eie taal in Johannesburg se sakewêreld te laat meeding. Die Afrikaanse skole is wêreldklas en is tesame met die dorpe, stede en woongebiede waar hulle geleë was deur Afrikaners opgerig.

Al was daar sedert 1994 ʼn pynlike verlies aan kulturele instellings en bates, het die Afrikaner se magiese drang na selfstandigheid weer na vore begin tree – so asof gebeure van ʼn eeu gelede hulself herhaal. Sommige instellings het oorleef (soos die Voortrekkerbeweging) en baie het hul karakter prysgegee. Sekere het herleef.

Die mees veelbesproke prestasie in hierdie tydsgewrig is die Solidariteit Beweging. Die vakbond Solidariteit stam af van die Mynwerkersunie (MWU), wat in die nadraai van die Tweede Vryheidsoorlog gestig is. Hieruit het onder meer AfriForum, die Solidariteit Helpende Hand en Maroela Media gespruit, terwyl die FAK herontwaak het nadat dit reeds in 1929 tot stand gebring is. Akademia en Sol-Tech lei vandag Afrikaanse jongmense in ambagte en akademiese rigtings op. Dit is als moontlik gemaak deur gewone Afrikaners se klein en groot bydraes, nes die geval met hul voorgeslagte was.

Hierdie kort geskiedenis is tekenend van die Afrikaner se ysere wil om te werk en bou terwyl ander breek. Dit is altyd moeilik, maar die geskiedenis is besaai met omvattende en indrukwekkende voorbeelde wat bewys dit is moontlik asook nodig. Laat ons dan met vasberadenheid en moed sê: Ons bou want #JyHoortHier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel