
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Onsekere tye lê voor as rassisme weer wet word
Drie dekades nadat Suid-Afrika ’n nierassige demokrasie word, word wit mense in organisasies geforseer om rustig en normaal saam te gesels oor hoe hulle van honderde mense ontslae moet raak – dié keer omdat hulle wit is. Flip Buys noem dit die normalisering vn abnormaliteit. Hy bedoel daarmee dat die belaglike idees van die regering, die regerende idees vir die samelewing raak. Die wêreld neem kennis van dié abnormaliteit. Die VSA verwys na die rassewette in Suid-Afrika, maar steeds stoom die staat voort.
Nuwe rassewette op pad
Op 15 April 2025 is daar wéér nuwe rasregulasies aangekondig wat maatskappye dwing om opnuut aan streng raskwotas te voldoen. Dit gaan ingrypende gevolge vir werkgewers en werknemers hê. Ras word die enigste maatstaf. Ons benodig jou hulp, ondersteun hier die veldtog teen dié regulasies.
Op 28 Junie 2023 het Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering ʼn ooreenkoms oor rassewette in die werkplek bereik. Volgens ʼn hofbevel moes hierdie ooreenkoms in die regulasies vervat word. Die regering het egter die ooreenkoms verbreek en sekere punte van die ooreenkoms doelbewus uit die regulasies weggelaat. Dit sluit in dat rassewette tydelik moes wees en dat mense nie op grond van hulle ras afgedank mag word nie. Die ooreenkoms het bepaal dat werkgewers inherente vereistes van ʼn pos en die beskikbare poel van vaardighede in ag moet neem wanneer aanstellings gemaak word. Die regering gaan ook volstoom voort met die skep van ʼn R100 miljard-rasfonds wat deur ʼn tipe rasbelasting deur die privaat sektor befonds moet word om ondernemings in swart besit te help.
Nóú moet Solidariteit weer terugveg, en dié keer finaal.
Hoeveel rassewette het Suid-Afrika?
Daar is sedert 1994 sowat 116 rassewette deur die parlement aanvaar, wat die meeste is ter wêreld! Die beginsel van die staat se argument is dat alles in die samelewing Suid-Afrika se rassedemografie moet weerspieël. Maar ons sê nee. Die doel is nie om gelyk by die eindstreep te kom nie, maar eerder om gelyk weg te spring. Dit beteken dat opleiding die antwoord is, nie ’n wenstreep wat diskrimineer nie.
Wat doen Solidariteit?
Solidariteit gaan die regulasies en die rasfonds in die hof uitdaag en gaan ʼn minagtingsaansoek teen die president van Suid-Afrika bring weens die verbreking van die ooreenkoms met Solidariteit, wat ʼn bevel van die hof is. Die regsproses is van stapel gestuur, internasionale druk gaan weer vermeerder en Solidariteit gaan die Verenigde Nasies ook nader. Die regering kan nie vertrou word nie en rassewetgewing moet finaal uitgewis word.