loading
Artikels
14 uur gelede
rassewette-moet-stop-die-tyd-is-nou

Foto Krediet: Solidariteit

Rassewette móét stop – die tyd is nóú

Die rasbuffel is noodlottig gekwes – meer aggressief, maar kan dit nie oorleef nie. Die tyd is ryp om die stryd teen Suid-Afrika se rassewette te verskerp. Rassewette moet stop ter wille van jou, ons kinders, ons gemeenskappe en ons land. Solidariteit doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om op groot skaal saam te staan om die rasbuffel ʼn doodskoot te gee.

Suid-Afrika is reeds die mees rasgereguleerde land ter wêreld en die regering wil dié rassebedeling verder uitbrei. Die regering het toenemend rasbehep geraak: hoe meer die huidige rassebedeling misluk, hoe meer vasberade raak hulle om dit te versterk. Rassewette móét stop, en die tyd is nóú.

Vir lank was Suid-Afrika se rassebedeling in mooi woorde van goeie bedoelings soos inklusiwiteit, nierassigheid, diversiteit, regverdigheid, opheffing en regstelling, verpak. Die werklikheid is egter iets heeltemal anders. Dit sluit uit, versterk die fokus op ras, maak diversiteit dood, is onregverdig en doen niks om reg te stel of op te hef nie.

President Trump het Suid-Afrika se rassebedeling in die wêreld se kollig geplaas. Hy het dit as sleg bestempel en dit ook ʼn skending van menseregte genoem. Terwyl baie Suid-Afrikaners aan die growwe rassediskriminasie gewoond geraak het – amper tot op die punt van normalisering – het president Trump egter die mooi omhulsel van rassewette afgeruk. Die werklikheid is nou vir almal duidelik sigbaar: dat dit niks anders as rassediskriminasie is wat ʼn klein groepie elites verryk nie.

Ten spyte van die mislukking van rassewette in Suid-Afrika wil die regering die rassebedeling in die land verskerp, wat alle Suid-Afrikaners aansienlik sal benadeel.

Op 15 April het die regering nuwe rasregulasies aangekondig wat maatskappye sal dwing om aan rassekwotas spesifiek vir elke sektor te voldoen. Hierdie regulasies sal verreikende gevolge vir werkgewers en werknemers hê, aangesien ras die enigste maatstaf sal word.

Op 28 Junie 2023 het Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering ʼn skikkingsooreenkoms oor rassewette in die werkplek bereik. Volgens ʼn hofbevel moes hierdie ooreenkoms in die regulasies vervat word. Die regering het egter die ooreenkoms verbreek deur sekere punte doelbewus uit die regulasies te laat. Dit sluit bepalings in dat rassewette tydelik moet wees en dat geen afdankings as gevolg daarvan mag plaasvind nie. Die ooreenkoms het ook duidelik bepaal dat werkgewers die inherente vereistes van ʼn pos en die beskikbare vaardigheidspoel in ag moet neem. Die regering het die woord moet eensydig na kan verander.

Die regering gaan ook volstoom voort met die stigting van ʼn R100 miljard-rasfonds wat swart sake-ondernemings moet help. Die privaat sektor sal gedwing word om hierdie fonds te finansier deur ʼn soort rasbelasting.

Solidariteit gaan die regulasies en die rasfonds in die hof uitdaag en gaan ʼn minagtingsaansoek teen die president van Suid-Afrika bring weens die verbreking van die ooreenkoms met Solidariteit, wat ʼn bevel van die hof is.

Rassewette het die land reeds duur te staan gekom.

Dit lei tot groter ongelykheid. Suid-Afrika is nou meer ongelyk as vóór die wetgewing geïmplementeer is. Die ongelykheid is veral in die swart gemeenskap self al hoe meer sigbaar.

Dit verryk ʼn klein groepie en hoofsaaklik die politieke elite. Rassewetgewing het ʼn klein groepie elites geskep tot nadeel van die massas. Hierdie verryking het grootliks plaasgevind deur swart bemagtiging as ʼn voertuig vir sistemiese korrupsie te gebruik. Sodanige korrupsie is goed gedokumenteer in die ses-volume verslag van hoofregter Zondo. Een van die Zondo-verslag se gevolgtrekkings is dat swartbemagtigingsbeleide tot misbruik en korrupsie gelei het.

Dit vererger armoede. Sedert die implementering van rassewetgewing het armoede in Suid-Afrika vererger en die ekonomie kon nie ná die 2008- finansiële krisis herstel nie.

Dit skep werkloosheid. Volgens die breë definisie staan Suid-Afrika se werkloosheidskoers op 41,8%. Werkloosheid onder swart Suid-Afrikaners het egter van 33,8% in 2009 tot 46,1% toegeneem.

Dit benadeel dienslewering. Die verlies aan kundigheid en institusionele geheue het tot die ineenstorting van staatsfunksies gelei, tot groot nadeel van die ekonomie, werk en dienslewering. Die beste voorbeeld hiervan is Suid-Afrika se kragreus, Eskom. Eskom het raspakkette vir wit werknemers gegee en rassekwotas vir die aanstelling van ingenieurs en ambagslui gestel. Dit het tot reuse-vaardigheidsverliese, kragonstabiliteit en beurtkrag gelei. Eskom betaal ʼn raspremie van sowat 30% vir aankope, wat Suid-Afrikaners se kragkoste opjaag.

Dit skend minderhede se regte. Bruin, wit en Indiër minderhede se reg om te werk word deur rigiede rasseteikens aangetas. Dit het absurde gevolge, soos dat ʼn rasrekenaar gebruik word om te bepaal wie aangestel en bevorder mag word.

Solidariteit het ʼn omvattende plan van aksie aangekondig om die rasbuffel te stop.

  1. 1. ʼn Regsfonds van R7 miljoen gaan gestig word vir omvattende plaaslike litigasie, asook vir aksies op internasionale vlak.
  2. 2. ʼn Minagtingsaansoek gaan teen president Ramaphosa gebring word vir die verbreking van die ooreenkoms met Solidariteit, wat ʼn bevel van die hof is.
  3. 3. ʼn Klag gaan by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) ingedien word oor die regering se verbreking van die ooreenkoms wat onder die IAO se toesig gesluit is.
  4. 4. Die nuwe rasregulasies gaan in die hof uitgedaag word.
  5. 5. Die R100 miljard-rasfonds gaan in die hof uitgedaag word.
  6. 6. ʼn Klag gaan by die spesiale rapporteur van die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekommissie ingedien word, waar daar onder meer gevra gaan word vir ʼn mediasieproses met die Suid-Afrikaanse regering oor die uitfasering van rassewette.
  7. 7. Die Europese Parlement, met ʼn spesifieke fokus op G20-lande, gaan besoek word met ʼn versoek om internasionale druk op Suid-Afrika te plaas om rassewette uit te faseer. Dit is ʼn voorwaarde vir buitelandse beleggings.
  8. 8. ʼn Verslag oor die verskerping van rassewette gaan aan die Trump-administrasie oorhandig word.

Dr. Dirk Hermann
Bestuurshoof van Solidariteit



Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel