loading
Artikels
23 uur gelede
onsigbare-trauma-onder-kinders-weens-finansiele-ongelykheid-n-persoonlikeervaring

Foto Krediet: OkayDeer

Onsigbare trauma onder kinders weens finansiële ongelykheid: ʼn Persoonlike ervaring

ʼn Anonieme getuienis. Lees hier meer.


Deur Kyla-Ann du Toit

Finansiële druk is vir baie kinders in Suid-Afrika nie net ʼn werklikheid nie, maar ook ʼn vorm van onsigbare trauma wat hulle jare lank in stilte ervaar. In hierdie getuienis deel ʼn vrou (wat verkies om anoniem te bly) haar verhaal van hoe finansiële swaarkry in haar kinderjare haar gesinslewe gevorm het – en uiteindelik haar eie waardes en lewensbeskouing.

ʼn Huis ryk aan liefde: Gedeelde laste en opofferings

Hierdie vrou was deel van ʼn hegte gesin van vyf kinders – een seun en vier dogters – wat in ʼn huis grootgeword het waar geld altyd min was, maar liefde volop. “My ouers was werksaam in bedrywe wat harde werk en handearbeid geverg het. My pa het soms twee werke gehad sodat daar genoeg geld kon wees om alles te betaal,” vertel sy. Die gesin het altyd in huurhuise gebly, maar ten spyte daarvan was haar ouers spaarsamig en het hulle uiteindelik genoeg geld gespaar om ʼn huis te koop – die jongste kinders was toe reeds op hoërskool.

Die ouer broer het die geleentheid gekry om te studeer – iets wat destyds as noodsaaklik vir ʼn seun beskou is om eendag ʼn gesin te kan onderhou. Maar vir die jonger kinders, waaronder ʼn tweeling, was die druk groter. “Twee van alles was nodig: dubbele skoolfonds, dubbele klere-aankope, ensovoorts. Sporttoere en soortgelyke buitemuurse aktiwiteite het bykomende uitgawes beteken, en was dus nie deel van ons opsies nie.” Sy meen egter dat haar ouers hulle nooit laat voel het dat daar nie genoeg was nie. Die kinders was egter deeglik bewus daarvan dat daar nooit geld vir “ekstras” was nie.

Al het haar ouers probeer om hulle teen die finansiële druk te beskerm, het sy dit as kind tog sterk aangevoel. “Ek was deeglik bewus van die feit dat finansies beperk was en daarom het ek my behoeftes en begeertes daarvolgens aangepas.” Die wete dat tersiêre opleiding nie ʼn opsie sou wees nie – en dat hulle self voorsiening vir verdere studies sou moes maak omdat die gesin dit eenvoudig nie kon bekostig nie – het swaar op haar gerus.

Die las van vergelyking

Die pynlikste deel? Die gevoel van uitsluiting. “Alhoewel dit nie nodig was om mee te ding nie, het dit amper altyd gevoel asof ons uitgesluit was van maats wat finansieel beter daaraan toe was. Dit het my minderwaardig en onseker laat voel.” Haar bekommernis was so erg dat sy selfs daaraan gedink het om aan die staatspresident te skryf om te versoek dat hul skoolfonds kwytgeskeld word. “Natuurlik het dit nooit gebeur nie, maar ek het altyd gewens ek kon help om planne te maak. Dit het my ook gemotiveer om my ouers finansieel te ondersteun nadat ek my studies voltooi het, ʼn werk gevind het en hulle kon bystaan – sommer net vir die lekkerte.”

As volwassene het sy iets van daardie kinderwense bewaar – toe sy haar ouers kon help, het sy dit met oorgawe gedoen. “Ek het een van my eerste motors vir hulle ‘geskenk’ toe ek dit wou verkoop om ʼn ander een te koop.”

Raad aan ander in soortgelyke omstandighede

Vandag beskou sy daardie tye as ʼn leerskool wat haar vir ʼn volwasse lewe van verantwoordelikheid en dankbaarheid voorberei het. “Dit het my gehelp om te besef dat die leefstyl waarin ons grootgemaak is, my ook toegerus het om my eie volwasse lewe met sorg en verantwoordelikheid te leef.”

Sy glo dat oorvloed nie ʼn voorwaarde vir geluk is nie. “Ek kan vandag ook vir my kinders leer om te waardeer wat hulle het – dat gesondheid en waardes nie iets is wat jy kan koop nie en dat dit uiteindelik die eienskappe is wat jy in diepe dankbaarheid deur die lewe saam met jou dra.”

As sy vandag met ʼn kind in soortgelyke omstandighede sou kon praat, sou haar raad eenvoudig maar kragtig wees: “Moenie fokus op wat jy nié het nie, maar fokus op dit wat geld nie kan koop nie.” Sy waarsku dat die wêreld van vandag alles meet aan wat jy het en hoe jy lyk – ʼn valse maatstaf wat diep misleidend kan wees. “Wat mense uiteindelik regtig raaksien en onthou, is hoe jy jouself en jou gesin respekteer, en die liefde en dankbaarheid waarmee jy almal rondom jou behandel.”

Wenke vir maatskaplike werkers

In ʼn samelewing waar armoede dikwels die norm is, word gesinne daagliks met uitdagings gekonfronteer wat hul emosionele welstand en gesinsdinamika beïnvloed. Lees hier meer oor hoe jy as ʼn maatskaplike werker veilige ruimtes kan skep, veerkragtigheid kan bou en werklik ʼn verskil in ʼn samelewing kan maak waar finansiële ongelykheid steeds toeneem.

Sluit ook by die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk-groep aan om ander soortgelyke artikels te lees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel