loading
Artikels
2 jaar gelede
onssalself-gemeenskappe-het-geen-ander-keuse-nie

Foto Krediet: Verskaf

#OnsSalSelf: Gemeenskappe het geen ander keuse nie

Dr. Eugene Brink

Gemeenskappe wat self slaggate herstel, huiseienaars wat sonpanele installeer en die burgerlike samelewing wat hul eie onderwysinstellings bou – dit is slegs enkele voorbeelde van hoe gemeenskappe, indiwidue, maatskappye en nieregeringsorganisasies (NRO’s) self die regering se mantel op hulle neem om beter dienste te lewer as wat die staat kan lewer. Lees meer hier oor die waarde wat gemeenskappe en selfbeskikking bied.

Weens die ANC se wanbestuur van die meeste staatsinstellings het landsburgers nie ʼn ander keuse nie. Korrupsie, diefstal en onbevoegdheid weens dekades van eenparty-regering, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en kaderontplooiing het die staat op feitlik alle vlakke lamgelê.

Die meeste openbare skole is wanfunksioneel weens die hoogs nadelige rol wat die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) speel deur niksnut-onderwysers nie aanspreeklik te laat hou nie en kinders se opvoeding te verwoes. Staatsbeheerde ondernemings, soos Transnet en Eskom, kan nie meer hul mandaat na behore nakom nie, terwyl die SAL en die SAUK steeds veelvuldige bedryfs- en bestuursmislukking ondervind. Beurtkrag en ʼn vervalle spoornetwerk is van die hoofsimptome van hierdie mislukking.

Volgens die regering se klassifikasie is ʼn volle 66 munisipaliteite amptelik wanfunksioneel. Die meeste ervaar ʼn vorm van agteruitgang of onvermoë. Dit geld veral vir plaaslike munisipaliteite in landelike gebiede, maar dit geld ook vir verskeie metro’s.

Ondanks ʼn paar ligpunte en met inagneming van die beduidende impak van Covid-19, het die ekonomie sedert 2019 onderpresteer. Nadat StatsSA aangedui het dat die ekonomie in die vierde kwartaal van 2022 met 1,3% gekrimp het, het hulle (StatsSA) in ʼn verslag oor die vierde kwartaal van 2022 ʼn meer onheilspellende neiging aangetoon: “Alhoewel die BBP in 2022 ʼn rekordvlak behaal het, het die ekonomie egter met net 0,3% vanaf die voorpandemiese 2019-stand van R4,58 triljoen gegroei. Dit is ver agter die 3,5%-styging in die land se bevolking oor dieselfde tydperk.” Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) beraam dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2023 met slegs 0,1% gaan groei.

“Alhoewel ons die bewonderenswaardige poging wat met elke inkrementele verbetering gepaardgaan, vier en erken, is ons oproep – en die tema van hierdie algemene verslag – dat daar ʼn behoefte is om die verbetering in aanspreeklikheid te versnel. Vordering is stadig en die geouditeerdes met die grootste impak op die lewens van burgers en die finansiële gesondheid van die regering hou nie by met die neiging tot verbetering nie,” het die ouditeur-generaal van Suid-Afrika in haar jongste ouditverslag van nasionale en provinsiale staatsdepartemente gesê.

Wat opvallend is, is dat hierdie krimpende ekonomiese koek beslis nie regverdig en onpartydig verdeel word nie. Die regering gaan voort om met alles rassepolitiek te speel – van ondersteuning aan maatskappye tot by wie die private sektor in diens mag neem.

Wat egter belangriker is, is dat ons dit self moet doen, want ons voorouers het dit reeds gedoen. In die 20ste eeu was die Voortrekkers en die Afrikaners baanbrekers en dit is nêrens anders op aarde waargeneem nie, wat nog te sê in Afrika. #OnsSalSelf hierdie pad moet aandurf, want soos hulle het ons ook geen ander keuse nie.

Hulle het oor berge getrek omdat hulle geweier het om as onderdane te lewe. Hulle het talle maatskappye, universiteite en ander instellings van niks af opgebou om hulself ekonomies, polities en kultureel te bemagtig, en uiteindelik vir óns ook. Die Reddingsdaadbond het te midde van die harde werk en swaarkry van die 1930’s die volgende wekroep gehad: “ʼn Volk red homself!” In die gees van hierdie wekroep het Solidariteit, met behulp van die Afrikanergemeenskap, ʼn netwerk van werk opgebou (wat steeds bly ontwikkel), en het ook Sol-Tech en Akademia opgerig wat opleiding en onderrig in Afrikaans as onderrigmedium bied. Geskiedenis is in wording en jy kan deel wees daarvan! Lees meer hier oor gemeenskapsfederalisme.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel