loading
Blogs
7 maande gelede
onthou-jy-nog-werknet

Foto Krediet: Solidariteit

Onthou jy nog Werknet?

Deur Mandy-Michelle Thackwray, Bestuurder: Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling

Ons vier tans Solidariteit, die aanlyn werkfasiliteringsplatform, se eerste verjaardag! Jy sal dit dalk onthou as Werknet, maar dit is nou al vir ’n jaar lank deel van die groter Solidariteit-werkfasiliteringsplatform – jou eenstopplatform vir werk en leer.

Die naam Werknet word steeds gereeld gehoor wanneer mense na ons werkfasiliteringsfunksionaliteit verwys en dis eintlik lekker om te hoor, want dit wys ons het lojale gebruikers wat saam met ons glo in ons droom van werkskepping en -fasilitering.

Ons het hierdie afgelope jaar groot suksesse behaal met werkfasilitering en ook baie geleer. Met die oorskakeling van Werknet na die platform, bekend as Solidariteit, wou ons vir ons gebruikers dieselfde kwaliteit produk en diens lewer waaraan hulle gewoond was, maar ook beter in terme van gebruikerservaring en funksionaliteit. Ek glo werklik ons het dit gedoen. Die lekker ding van ’n virtuele tuiste is dat ons met die uitrol van elke nuwe funksionaliteit dinge beter en groter kan doen. Julle ken daai gesegde: “Die kliënt is altyd reg”. Hierdie is baie waar vir ons afdeling spesifiek, omdat ons slegs in ons gebruikers se behoeftes kan voorsien as ons weet wat hulle behoefte is. Ons moes dus die jaar nederigheid leer, om te kan hoor wat ons kon verbeter en hoe ons kon aanpas by die moderne wêreld van werk.

Nou is werkfasilitering op Solidariteit al een jaar oud! Ons is ongelooflik trots op alles wat ons hierdie jaar bereik het. Nie net het ons twee gidse vir werksoekers gepubliseer nie, maar ons het ook lekker inhoud geskep waarmee werkgewers hulself kan bemagtig. Ons het funksionaliteite rondom werksoek en advertering van poste verbeter en is steeds besig om ons aanbod te verfyn. Die lekkerste deel van ons werk is om met ons kliënte te ontmoet – werksoekers of werkgewers – en oor koffie te besin oor hoe ons julle kan help.

Meer as 2 000 organisasies adverteer gereeld poste op Solidariteit en sedert September 2023 het ons al meer as 5 500 poste geadverteer. Meer as 9 000 CV’s is reeds op Solidariteit gelaai en met meer as 500 beskikbare poste per dag, weet ek daar is vir elkeen werk.

Uit die lesse, gesprekke en navorsing van die afgelope jaar, deel ek graag so ʼn paar wenke.

Werksoeker, moenie moed opgee nie. Wees baie spesifiek in jou soeke na werk en probeer om nie in desperaatheid aansoek te doen vir enige en alle poste nie. So word jy net ontmoedig. Wees gefokus in jou soektog en gaan met elke posaansoek deur jou CV om seker te maak jy spreek die werkgewer se behoefte aan. Besoek gereeld Solidariteit en ander werksoek-webtuistes en onthou: “Aanhouer wen”. Onthou ook dat geen rasvereistes aan poste op Solidariteit gekoppel is nie, so jy kan met ʼn geruste hart aansoek doen vir poste waarvoor jy kwalifiseer.

Ons werkgewers is vir ons baie spesiaal, want sonder julle is daar eenvoudig nie poste waarvoor werksoekers aansoek kan doen nie. Ons moedig julle aan om moeite te doen met jul posadvertensies. Verskaf so ver as moontlik volledige inligting en maak die aanbod aantreklik vir potensiële werknemers. Jy wil die beste kandidaat hê, so maak seker jou advertensie weerspieël dit! Deel jou voorstelle en uitdagings met ons. Ons kan saam ‘werk’ sodat die platform vir jou ‘werk’.

Ons pak saam met ons werksoekers en werkgewers die toekoms aan en geniet elke oomblik daarvan, want jou werk is ons werk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel