loading
Artikels
9 maande gelede
onthou-jy-vat-van-jou-eie-toekoms-waarsku-solidariteit

Foto Krediet: Okay Deer

Onthou, jy vat van jou eie toekoms, waarsku Solidariteit

Deur Heléne Mocke

Solidariteit vestig sy lede se aandag op die gevare van die voorgestelde tweepotstelsel in die wysigings op die Pensioenfondswet wat op 1 September 2024 in werking tree.

Die vroeë aanduidings is dat talle mense wél onttrekkings uit hulle fondse oorweeg soos die stelsel hulle vanaf aanstaande maand sal toelaat om te doen.

Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris vir strategie by Solidariteit, wys op syfers wat toon hoe slegs 6% van die Suid-Afrikaanse bevolking op aftrede finansieel selfonderhoudend is.

“Meer as 70% van mense moet ook verdere inkomste ná aftrede op ander maniere probeer vind en gegewe hierdie vooruitsigte kan iets soos die tweepotstelsel hierdie situasie verder vererger,” sê Croucamp.

Kortliks gee die wysiging aan die Pensioenfondswet, Suid-Afrikaners die opsie om jaarliks ʼn gedeelte van hulle aftreegeld te kan onttrek. Alhoewel dit op korttermyn finansiële verligting gemik is, waarsku Solidariteit hoe die langtermyn-implikasies, met betrekking tot aftreespaarfondse, te maklik misgekyk word.

Wanneer die tweepotstelsel op 1 September in werking tree sal werknemers nou toegang tot een derde van hul pensioenfonds se spaarpot hê. Die oorblywende twee derdes van die fonds moet egter onaangeraak bly vir aftrede. Slegs een onttrekking per jaar sal toegelaat word, wat beteken dat werknemers in noodsituasies hierdie fondse kan gebruik, maar met streng beperkinge.

Croucamp, waarsku hoe daar heelwat verskuilde risiko in sulke onttrekkings lê, wat op die oog af onskadelik mag lyk.

Volgens hom lê die grootste gevaar daarin dat werknemers, indien hulle gereeld geld uit die spaarpot onttrek, minder fondse beskikbaar sal hê wanneer hulle uiteindelik aftree.

“Dit strek ook verder, aangesien die waarde van die spaargeld wat jy onttrek nooit werklik in jou eie spaarpot terugbetaal sal kan word nie, want die rente en groei wat die geld sóú maak is ook daarmee heen.

“Finansieel gesproke vat jy dus nou van jou toekoms weg, sonder die opsie om dit weer terug te belê indien só ʼn tyd ooit in die toekoms sou aanbreek.”

Croucamp erken die tweepotstelsel kan wel korttermynverligting vir individue in nood bied, maar beklemtoon ook hoe belangrik dit is om verantwoordelik met aftreegeld te werk.

“Al het die stelsel dalk goeie bedoelings in terme van korttermynbeplanning, veroorsaak die stelsel verskeie gevare met langtermyn finansiële stabiliteit,” sê hy.

Voorts glo hy pensioenfondse sal nie die reëls en regulasies voor 1 September in plek hê sodat om dit met die tweepotstelsel te belyn nie. “Met honderde aftreefondse in Suid-Afrika, is daar kommer oor die tydraamwerk vir die goedkeuring van hierdie nodige wysigings deur die owerhede,” verduidelik hy

Solidariteit se kommer oor die tweepotstelsel strek verder as net die onmiddellike uitdagings wat dit bied. Verder maan Solidariteit dat Suid-Afrika reeds oor ʼn lae persentasie van sy bevolking beskik wat gemaklik kan aftree. Gereelde onttrekkings voor aftrede kan beteken dat mense nie genoeg spaar om hulle lewensstandaard na aftrede te handhaaf nie, wat uiteindelik tot armoede op die oudag kan lei.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel