Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Ontmoet die top-10-kantoorpraktisyns
Solidariteit se Kantoorkampioen-toekenning gee erkenning aan die rol van professionele kantoorpraktisyns wat uitmuntend presteer in hul werk en hul kollegas motiveer om die uitdagings in die werkplek te oorkom. Hierdie toekenning vereer diegene wat nie net professionele uitnemendheid uitleef en aanmoedig nie, maar ook ʼn sterk waardestelsel en sleutelvaardighede onder hul kollegas bevorder.
Hier is vanjaar se toptienkandidate in alfabetiese volgorde:
Anne-Marie Nel
“Ek dra nie net by tot my eie professionele ontwikkeling nie, maar speel ook ʼn noodsaaklike rol in die sukses van De Wet Claassens, die hoof uitvoerende direkteur, wat my werk waardevol en betekenisvol maak. Ek speel ʼn kritieke rol in die gladde funksionering van die kantoor. Dit gee vir my ʼn gevoel van vervulling, aangesien ek direk bydra tot die sukses van Engo. Die posisie bied my die geleentheid om ʼn wye reeks waardevolle vaardighede te ontwikkel, insluitend tydbestuur, organisasie, kommunikasie en tegnologiese vaardighede. Ek kry die geleentheid om uitdagings aan te pak en probleme op te los, wat my vermoë om krities te dink en oplossings te vind, versterk. My werk behels interaksie met ʼn verskeidenheid mense – van kollegas tot kliënte wat my kommunikasievaardighede en menseverhoudinge verbeter.
Ek dra by tot die algehele effektiwiteit en produktiwiteit van die kantoor. My vermoë om die kantoor se aktiwiteite te organiseer en te bestuur, help om ʼn goed georganiseerde en professionele werkplek te handhaaf. Deur doeltreffend te werk, help ek om die koste vir Engo laag te hou en my bydraes beperk die behoefte aan eksterne hulpbronne. Ek speel ʼn sleutelrol in kliëntediens deur seker te maak dat kliënte en besoekers professioneel en vriendelik hanteer word. Dit verbeter Engo se reputasie en kliëntetevredenheid.”
Berné Grobler
Berné het 30 jaar se ervaring as ʼn kantoorpraktisyn en is van mening dat organiserings- en kommunikasievermoëns die belangrikste vaardighede is waaroor ʼn kantoorpraktisyn moet beskik.
“Hierdie nominasie het my voete onder my uitgeslaan! Ek is oorweldig en so dankbaar teenoor hierdie wonderlike span mense saam met wie ek die voorreg het om elke dag, en selfs laataande en naweke, te werk. Ons werkspasie is uitdagend kreatief, en daar word baie meer gevra van elkeen as net ʼn gewone dag se administrasie. Dis ʼn klein span, maar saam klim ons hoë bergspitse uit. Almal is lojaal verbind tot die suksesverhaal van elke kliënt se finale produk. Dit is ʼn vriendekring, dit is ʼn familie saamgestel uit verskeie kulture en agtergronde. En hierdie besige familie het organisasie nodig!
Kommunikasie is ʼn integrale deel van elke dag se projekbeplanning. As almal weet waar, wanneer, met watter toerusting en hoekom hulle by ʼn projek betrokke moet wees, vloei dinge die beste, vir beide kliënte en die tegniese span! Ons kliënte strek oor ʼn wye spektrum, van laerskoolonderwysers en leerders tot hoërskole, studente, universiteite, korporatiewe instellings en televisievervaardigers. As my span rustig en in beheer is, verander dit die atmosfeer rondom gespanne kliente. ʼn Glimlag strek ver! Ons kliënte weet ons gee meer as net diens. Ons bou verhoudinge, ons loop altyd die ekstra myl en ons eindprodukte word altyd met verbasing en waardering ontvang. Om hierdie werksvloei van menigvuldige projekte wat tegelykertyd en van voorproduksie tot spertyd strek te bestuur, is in my hande. Maar ek staan nooit alleen nie – ek het ʼn span rondom my wat saamstaan, saamdink, saamwerk en saam klim!”
Brenda Fourie
Brenda staan al vir 41 jaar lank haar plek vol as ʼn kantoorpraktisyn en sy glo dat professionaliteit, vriendelikheid en integriteit die belangrikste eienskappe is waaroor ʼn kantoorpraktisyn moet beskik.
“Ek beklee ʼn waardevolle posisie in die skool omdat ek die gesig van die skool is. Ek hanteer alle inkomende oproepe, e-posse sowel as ouers, leerlinge en die publiek wat die skool besoek. Vandaar my vriendelikheid, toeganklikheid en hoflikheid. In die kantoor moet jy ʼn raakvatter wees, want jy is soos ʼn seekat wat oral moet wees. As die wekker byvoorbeeld afgaan, moet jy die klok lui. Terselfdertyd lui die telefoon en die voordeurklokkie gelyk en boonop kom traangesiggies met stukkende tone by die kantoordeur in. Om alles geduldig en op ʼn kalm manier te doen, verg selfbeheersing.
Jy moet kan ‘multitask!!!’ Ek is ʼn moederfiguur, trooster, berader, versorger en verpleegster vir alle leerlinge. Professionaliteit is ten alle tye baie belangrik. Hanteer almal met respek en wees bedagsaam. Ek is ʼn perfeksionis en hardwerkend. Ek is baie trots op my werk en om deel van Laer Volkskool Heidelberg te wees. Daarom weet ek dat ek waardevol is vir die skoolhoof, die onderwysers, leerlinge en die ouers – en waardevol is vir myself.”
Christelle Krohn
Christelle is al 10 jaar lank ʼn kantoorpraktisyn en sy glo dat goeie kommunikasievaardighede die belangrikste vaardighede is waaroor ʼn kantoorpraktisyn moet beskik. Christelle droom daarvan om eendag Ontwerp te studeer.
“Wat my rol as kantoorpraktisyn waardevol maak, is my besonderse werk as die persoonlike assistent van die mynbestuurder. My rol strek veel verder as die tipiese pligte van ʼn persoonlike assistent. Ek is ʼn aanwins van onskatbare waarde, nie net vir die mynbestuurder nie, maar vir al die bedrywighede van die myn.
Ek is verantwoordelik vir ʼn wye reeks take, insluitend administratiewe pligte, liassering, om telefone te beantwoord, die skep en redigeer van dokumente, en hulp met verkrygingsbehoeftes. Ek werk kalenders daagliks noukeurig by, reageer stiptelik op e-posse en speel ʼn kritieke rol wanneer die Departement van Minerale Bronne (DMR) besoek aflê. My veelsydigheid en bereidwilligheid om bykomende verantwoordelikhede te aanvaar, maak my onontbeerlik vir die myn se gladde werking.
My toewyding, harde werk en positiewe gesindheid is werklik prysenswaardig. Ek skram nooit weg van ʼn uitdaging nie en is altyd gretig om te help waar dit ook al nodig is, sonder om te skroom. Baie werknemers op die myn maak staat op my doeltreffendheid en ondersteuning om hul eie pligte doeltreffend uit te voer. Ek is gemotiveerd, sterk en toegewyd aan my werk, en toon altyd ʼn vlak van professionaliteit wat diegene rondom my inspireer.”
Judy Lambrechts
Judy werk al vir 30 jaar as ʼn kantoorpraktisyn waarvan sy 15 jaar in die privaat sektor was en 15 jaar by ʼn skool. Volgens Judy strewe sy daarna om haar stokperdjies te ontwikkel sodat daar ʼn balans tussen haar werk en haar sosiale lewe kan wees. Judy was in 1996-’97 ook as Sekretaresse van die Jaar aangewys.
“Ek is ʼn sosiale mens en laat mense graag lag. Indien ek ʼn glimlag op iemand se gesig kan sit, maak dit my dag. Hoe jy mense hanteer en met hulle praat, sê baie van jou as persoon. Goeie maniere en respek is heel bo-aan my waardelys. Ek is ʼn perfeksionis in my werk, en ek maak myself mal omdat alle werksopdragte op dieselfde dag voltooi moet wees. Dit is vir my uiters belangrik om my werk van die begin af reg te doen. Die menslike faktor van foute maak speel soms ʼn rol, maar dit word onmiddellik herstel.
Goeie menseverhoudings en werkskennis is belangrik. Self-ontwikkeling speel ʼn belangrike rol in my lewe. Kennis maak my werkslading ligter en makliker en ek kan dan moeilike take beter hanteer. Ek is kreatief en kan buite die boks dink.
Tydsbestuur is belangrik. Ek hou daarvan om ander te help wanneer ek kan en as my werk dit toelaat. Ek help waar daar krisisse is, want ek floreer onder druk. Spanwerk is vir my belangrik, want dit skep ʼn samehorigheidsgevoel.
Die skoolhoof en senior bestuur is baie beïndruk en tevrede met my werk. Hulle weet ek is ʼn staatmaker op wie hulle kan vertrou. Ek hou hulle ingelig oor my werksvordering en voordat hulle vir iets kan vra, is dit alreeds gedoen. Hulle waardering teenoor my werk is vir my kosbaar.”
Lucinda van der Merwe
Lucinda is ʼn adminkryger wat 22 jaar se ervaring as ʼn kantoorpraktisyn het. Uitsonderlike organisasievermoë is vir Lucinda die belangrikste vaardigheid waaroor ʼn kantoorpraktisyn moet beskik.
“Waarde vir my werkgewer: My uitsonderlike administratiewe vermoë help om my werkplek georganiseerd te hou, wat produktiwiteit verhoog deur roetinetake doeltreffend te hanteer. Ek sorg dat dinge glad verloop deur sperdatums te bestuur, vergaderings te reël en seker te maak dat almal betyds oor belangrike inligting beskik.
Ek is ʼn skakel tussen verskillende afdelings (die personeel, ouers, die Departement van Onderwys en die leerders) en verseker dat inligting akkuraat oorgedra word en dat verwarring vermy word.
Deur probleme (wat soms krisisbestuur insluit) proaktief op te los, bespaar ek tyd en hulpbronne vir die skool, wat gladde bedrywighede verseker. My administratiewe ondersteuning stel senior bestuurders in staat om hul aandag te fokus op strategiese besluite en nie op roetinetake nie.
Waarde vir myself: Ek ontwikkel en slyp belangrike my vaardighede soos tydsbestuur, probleemoplossing en kommunikasie, wat my loopbaan bevorder en my persoonlike lewe verryk. Deur ʼn betekenisvolle bydrae te lewer, ervaar ek ʼn gevoel van vervulling en sukses en ek is dikwels die spilpunt van die skool.
Deur ervaring op te doen in verskeie areas van kantooradministrasie, kan ek later my loopbaan uitbrei na meer gespesialiseerde rolle soos bestuur of projekkoördinasie. Hierdie wedersydse waarde maak my bydrae van kritieke belang vir die sukses van die skool en vir my eie professionele groei.”
Maryna Botha
Maryna sien haarself as ʼn adminkryger met 30 jaar se ondervinding as ʼn kantoorpraktisyn. Volgens Maryna is elke dag vir haar ʼn leerproses en glo sy dat goeie kommunikasie en luistervermoë die belangrikste vaardighede is waaroor ʼn kantoorpraktisyn moet beskik.
“As adminkryger bestaan die woorde ‘Ek kan nie’ nie in my woordeskat nie. Kommunikasie is die belangrikste vaardigheid – ek moet met studente, personeel, ouers, departementshoofde en op bestuursvlak kan kommunikeer. Ek moet dikwels nuwe en gevorderde rekenaarprogramme aanpak om my werksvaardighede te verbeter. Elke werks-uitdaging word met vriendelikheid, professionaliteit en beleefdheid opgelos.
As adminkryger vir studente is kommunikasie en noukeurigheid uiters belangrik om punte op die stelsel in te voer en vraestelle te tik. Ek is verantwoordelik vir die formatering van toetse en eksamens van twee van die universiteit se fakulteite. Daar word ook uiters vertroulike versoeke aan my gerig wat daarna aan my departementshoof deurgegee word. Ek stel jaarliks sperdatums op om die werkvloei van die departement te verseker. Ek kan veelvuldige take bestuur en prioritiseer en werk aan finansiële dokumente, kapitaalbegrotings, asook rekenaargerigte begrotings wat met die uiterste akkuraatheid en vertroulikheid hanteer word. Telefoonetiket is van kardinale belang met professionaliteit en doeltreffendheid wat bepalend is. Ek is ook verantwoordelik vir reëlings met betrekking tot spanbougeleenthede, beroepsdae en opedae-aktiwiteite. Ek bied graag my hulp en vaardighede aan die fakulteit en help uit waar ek kan. Dit sluit ook in om ʼn bydrae tot die samelewing te lewer en ons fakulteit te ondersteun in die navolging van die Verenigde Nasies se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling.”
Nicolene Baumgarten
Nicolene glo dat multitaakverrigting die belangrikste vaardigheid is waaroor ʼn kantoorpraktisyn moet beskik. Sy het reeds 19 jaar se ervaring as ʼn kantoorpraktisyn. Volgens Nicolene sal sy graag ook eendag ʼn graad in Forensiese Rekeningkunde en Mensehulpbronbestuur wil verwerf.
“Kantoorwerk is my roeping en passie. Waar ander van jongs af gedroom het van rugby speel en dokter-dokter of juffrou-juffrou gespeel het, het ek gedroom van telefone beantwoord, rekenaarwerk, kliënte ontvang ensovoorts. Ek bou my lewe om hierdie roeping. Ek beskik oor ʼn groot verskeidenheid van vaardighede wat van nut is vir al my kollegas. Ek gebruik my rekenaartegnologiese vaardighede en kennis om skoolwerk vir die personeel te vergemaklik. Ek gee ook graag opleiding in vaardighede wat opgeskerp of aangeleer kan word. Ek is altyd gereed en flink om te keer dat die fotostaatmasjien ʼn frustrasie raak.
Ek het wye algemene en mensekennis wat ek graag met ander deel. Ek glo dat daar nie dom vrae is nie, net onseker en oningeligte mense. Ek verleen hulp, leiding en advies oor werk, verlof, pensioen ens. sodat elke proses spoedig en korrek kan verloop.
Mense is vir my ʼn passie en ek probeer sover moontlik om almal met liefde en vriendelikheid te behandel. Ek is meer as net ʼn sekretaresse. Ek is ʼn oor wat luister, ʼn raadgewer as situasies onmoontlik voel, en ʼn bron van motivering as iemand se dag verkeerd loop.
Min mense kan sê dat hulle soggens met ʼn lied in die hart opstaan, maar vir my is ʼn lied in die hart in die oggend deel van my lewe soos ʼn eerste koppie koffie en ʼn asemteug. Ek weet ek is ʼn kantoorkampioen! Ek is die toonbeeld van professionaliteit en vir die werkplek definitief ʼn aanwins! Baie dankie vir die geleentheid.”
Texeira van Wyk
Texeira het ʼn nasionale sertifikaat vir bestuursassistente, sowel as ʼn mini-MBA-program vir sekretaresses voltooi, en is tans in die laaste jaar van haar BCom-graad in Projek- en Veiligheidsbestuurstudies. Texeira het 11 jaar se ondervinding as ʼn kantoorpraktisyn en glo dat goeie kommunikasie die belangrikste vaardigheid is waaroor ʼn kantoorpraktisyn moet beskik.
“As kantoorpraktisyn speel ek ʼn sentrale rol in die gladde funksionering van die kantoor. My werk is waardevol vir my werkgewer omdat ek as die skakel tussen bestuur, personeel en ander belanghebbendes dien. Ek verseker dat kommunikasie duidelik en betyds is, wat produktiwiteit verhoog en verwarring verminder.
Deur my organisatoriese vaardighede hou ek administratiewe prosesse op koers en help ek om operasionele doeltreffendheid te verbeter. Vir my persoonlik is die werk waardevol omdat dit my die geleentheid gee om ʼn verskeidenheid van vaardighede te ontwikkel en toe te pas – van probleemoplossing tot tydsbestuur.
Ek kry bevrediging daaruit om ʼn verskil te maak in die daaglikse werksaamhede van die maatskappy en om ʼn betroubare steunpilaar vir my span te wees. Deur my werk dra ek by tot die sukses van die maatskappy, terwyl ek terselfdertyd my eie professionele groei bevorder.”
Vanessa Bradbury
Vanessa beskik oor ʼn regsekretariële diploma in litigasie, ʼn nagraadse diploma in logistiek en die voorsieningsketting, en ʼn nagraadse diploma in hoër onderwys. Sy is tans besig met haar meesters in logistiek en die voorsieningsketting. Volgens Vanessa is begripsvermoë een van die belangrikste vaardighede waaroor ʼn kantoorpraktisyn moet beskik.
“Ek is mal daaroor om ʼn (kantoor)administrateur te wees omdat dit my in staat stel om die omgewing ten volle te omhels. Ek koester my instelling. Om lief te wees vir die plek waar jy werk is die fondament van ware toewyding, en my passie vir my instelling spoor my elke dag aan. As ʼn organisatoriese genie, floreer ek deur orde uit chaos te skep, om ingewikkelde take met presisie te bestuur en om te verseker dat alles vlot veroop. Om druk te hanteer en by streng tydsbeperkings te moet hou, is uitdagings wat ek verwelkom, in die wete dat my metodiese en betroubare aard sal verseker dat niks deur die krake glip nie.
My lojaliteit teenoor my posisie, my baas en my instelling is onwrikbaar. Ek is baie trots daarop om ʼn uitvoerende assistent te wees in die wete dat dit my rol is om my baas se regterhand te wees. Deur bedrywighede en besonderhede te bestuur, stel ek my baas in staat om op kernbesigheid te fokus wat ons instelling vorentoe stuur. Hierdie vennootskap is van deurslaggewende belang en ek geniet die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan.
Ek is ʼn gedrewe mens wat elke dag as ʼn geleentheid sien om ʼn positiewe impak te maak. Ek glo ek is ʼn wonderlike agent vir verandering wat voortdurend maniere soek om prosesse te verbeter, doeltreffendheid te verbeteter en om by te dra tot die sukses van my instelling. Deur ʼn kantooradministrateur te wees stel my in staat om dit te doen waarvan ek die meeste hou en dit is om ander te help, vooruitgang te bevorder en om ʼn integrale deel te wees van ʼn omgewing waarvoor ek ten diepste omgee.”
Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk wil graag diegene eer wat as inspirasie vir die kollegas om hulle dien. Ons glo dat elkeen ʼn belangrike rol speel in sukses van ʼn besigheid of ʼn skool, en elke enkele persoon wat genomineer is, is ʼn ware kantoorkampioen.
Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en word deel van ʼn netwerk wat jou wil ondersteun ! Kantoorpraktisyn, jy hoort hier!