loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
oorwin-imposter-syndrome

Foto Krediet: Okay Deer

Oorwin ‘imposter syndrome’

Deur Karen Waldeck

Ek weet nie hoe dit by julle huis is nie, maar by ons het die gesprekke ná matriek skielik ʼn ander rigting ingeslaan. Eers was dit: “Wat gaan jy studeer?” en sommer gou daarna: “Ma, ek voel of ek net wil wegloop. Almal weet wat hulle doen, behalwe ek.” Dit klink nie meer soos ʼn rebelse tiener nie, maar soos iets dieper: daardie knellende twyfel, die vrees van ʼn “imposter” wees – of soos die wêreld dit ken, imposter syndrome”.

Ons kinders stap die werkplek binne met harte vol ambisie, maar dikwels met hande wat leeg voel. Hulle glo hulle moet alles weet, en wanneer hulle nie alles weet nie, dink hulle dit is omdat hulle nie goed genoeg is nie. As ouers sien ons hierdie onsekerheid, en ons wens ons kon dit net vir hulle regmaak. Maar dit is nie altyd so eenvoudig nie.

Laat ek iets deel wat ek geleer het: Die geheim is nie om alles te weet nie. Die geheim is om te leer – met eerlikheid as jou kompas. Dit gaan nie oor voorgee nie, maar oor groei.

Die eerste stap is om te erken dat “nuut” nie aan “fout” of “onbekwaam” gelyk is nie. Ons moet jong mense help om daardie innerlike stem stil te maak wat hulle probeer oortuig dat hulle “imposters” is. Sê vir hulle (en herhaal dit): “Jy is nie ʼn bedrieër nie, jy is net nuut.”

Elke senior werknemer was eens die nuwe persoon. Moedig jou kind aan om vir hulself te sê wanneer die twyfel opslaan: “Ek is hier om te leer en te groei.”

‘Ek weet nie’ hoort nie in jou woordeskat nie

In ʼn wêreld waar baie mense voorgee is dit beter om net jouself te wees. Leer jou kind dat dit meer volwasse is om te sê: “Ek is nie seker nie, maar ek sal uitvind,” as om te knik en dan te faal. ʼn Eerlike “Ek het dit nog nie gedoen nie, maar ek wil dit graag leer” maak deure oop. Dit bou vertroue, nie net by die werkgewer nie, maar in hul eie vermoë om uitdagings te kan hanteer. Hulle verloor nie hulself nie; hulle vorm bloot wie hulle wil word – iemand betroubaar en leerbaar.

Soek ʼn mentor

Ons kan nie altyd die mentor wees nie. Soms het jong mense iemand nodig wat die pad in daardie presiese veld al gestap het. Mentorskap is ʼn ongelooflike hulpmiddel vir groei wanneer jy nuut in die werkplek is. Dit is iemand wat sê: “Ek het ook so gevoel. Kom ek wys jou hoe ek daardeur gekom het.”

As ouer kan ons nie altyd die tegniese of professionele leiding bied nie. Gelukkig is daar programme wat juis hiervoor geskep is. Solidariteit se mentorskapprogram verbind jong werkendes met ervare mense – ʼn veilige ruimte waar vrae gevra kan word sonder oordeel. Stel jou kind gerus bloot aan so ʼn program.

Gesonde aanpassing

Selfvertroue groei nie net uit suksesse nie. Dit groei uit die wete dat jy ʼn uitdaging kan hanteer. Moedig jou kind aan om ʼn student van hul eie werkomgewing te wees. Let op:

  • • Hoe los senior kollegas probleme op?
  • • Hoe kommunikeer hulle?
  • • Wat is die ongeskrewe reëls?

Gesonde aanpassing beteken nie jy moet ʼn kopie van iemand anders word nie. Dit beteken dat jy goeie tegnieke aanleer en dit op jou eie, opregte manier toepas.

Die netwerk van ondersteuning

Uiteindelik kan niemand hierdie pad alleen stap nie. Jong mense het ʼn gemeenskap nodig wat hulle ondersteun en aanmoedig. Lidmaatskap by ʼn organisasie soos Solidariteit as jong werkende bied nie net voordele nie; dit bied ʼn tuiste en ʼn veiligheidsnet. Solidariteit se mentorskapprogram is deel van hierdie netwerk: toegang tot kundiges, kortkursusse om vaardighede te ontwikkel en die wete dat daar altyd iemand is om mee te praat.

Ons rol as ouers verander ook. Ons is nie meer die alwetende raadgewers oor elke werkprosedure nie; ons is die anker van emosionele veiligheid.

Ons help ons kinders om nie met maskers rond te loop nie, maar om ʼn stewige fondament te bou – laag vir laag, met eerlikheid, nederigheid en die moed om hulp te vra.

Skep jou gratis profiel op Solidariteit vandag nog en ontsluit jou loopbaan!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel