loading
Mediaverklarings
10 maande gelede
ope-brief-bela-n-nekslag-vir-nasionale-eenheid

Foto Krediet: Okay Deer

Ope brief: Bela ʼn nekslag vir nasionale eenheid

Die ondertekening van Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde Bela-wet) sal die gees van die regering van nasionale eenheid verbreek, waarsku Solidariteit by monde van sy bestuurshoof, dr. Dirk Hermann.

In ʼn ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa het Hermann hom vandag sterk uitgespreek ná gerugte die ronde begin doen het dat die Bela-wet vandeesweek al onderteken kan word.

Hy beskryf só ʼn besluit deur die president as ʼn keuse téén die Afrikaanse gemeenskap.

Hier is Hermann se volledige ope brief:

Geagte president Ramaphosa

Ernstig oor eenheid? Los ons kinders dan uit! Betroubare bronne sê vir ons u het u pen gekry om die gewraakte Bela- wysigingswetsontwerp te onderteken. Dis glo ʼn net kwessie van tyd. Dit sal ʼn streep trek deur die eenheid van die regering. U sê die afgelope week in ʼn onderhoud op eNCA mense is fantasties optimisties oor die regering van nasionale eenheid. As u, as die hoof van hierdie regering, Bela onderteken, maak u ons gemeenskap se optimisme dood. U sê in dieselfde onderhoud dat die regering van nasionale eenheid vrywillig saamwerk in belang van die mense van Suid-Afrika. Bela is nie in belang van Afrikaanse mense nie; inteendeel dit strek tot groot nadeel van ons gemeenskap. Teken Bela en u verbreek die gees, waarna u self verwys, van die regering van nasionale eenheid. Die ANC se steun het tot 40% geval. U het gesê Suid-Afrika het gespreek. Die ANC moenie meer alleen regeer nie. Nou het u glo u pen gekry om ʼn hoogs omstrede wysigingswetsontwerp te teken asof die ANC nog alleen heers.  Bela is angstig voor die verkiesing deurgedruk, want die ANC het geweet hulle gaan nie meer genoeg steun ná die verkiesing hê nie. Die Bela-mandaat was vals. Dit is bekom in ʼn tyd toe die ANC-buffel reeds gekwes was en dae daarna geweeg en te lig bevind is. U wil regeer asof die kiesers u nie verwerp het nie. U wil aanspraak maak op ʼn mandaat wat afgedwing was, en sonder gesag is. Ná die ANC se swak vertoning by die stembus tree u soos ʼn staatsman op. Die regering van nasionale eenheid is van kardinale belang om ʼn verenigde en vooruitstrewende Suid-Afrika te bou. U praat van samewerking en ʼn insluitende benadering tussen alle politieke partye, burgerlike organisasies en die burgers. U praat oor diversiteit, die verskeidenheid van die mooi land. Nou wil u Bela onderteken. Deur Bela sit u die pen in die hand van ʼn staatsamptenaar om ʼn streep deur die Afrikaanse gemeenskap se skole te trek. Dié amptenaar kan besluit oor die skool se taal en toelating. Hy kan ʼn instruksie aan ʼn skool gee om sy taalbeleid te verander. Dit is die krag van die pen. Om ʼn gemeenskap se skole dood te maak is ʼn daad van aggressie. Vir die Afrikaanse gemeenskap was hul kinders se skole nog altyd ʼn rooi lyn. As u dié rooi lyn oorsteek, is daar niks eenheid oor nie. U trek ʼn streep deur u staatsmanskap. Dit sal ʼn bevestiging wees dat die regering van nasionale eenheid ʼn vals, pragmatiese stap was om te bly regeer. Stil is die stem van die mense wat nie meer wil hê die ANC moet alleen regeer nie. Weg is verskeidenheid. Niks is meer insluitend nie. Geen samewerking meer met burgerlike organisasies nie.  Die ANC regeer weer alleen. Nie eers die stem van die minister van onderwys, Siviwe Gwarube, word geag nie. As u Bela onderteken, het u teen die Afrikaanse gemeenskap gekies. Dit sal tot ʼn vetrouensbreuk met die Afrikaanse gemeenskap lei. U sal nie net Bela onderteken nie; u sal teken vir die dood van die eenheid van die regering van nasionale eenheid.  U onderteken die wet namens die regering en dit is dus die regering van nasionale eenheid wat teen die Afrikaanse gemeenskap kies. U plaas die regering van nasionale eenheid in ʼn geskil met ʼn gemeenskap. Waarom grief die bestaan van Afrikaanse skole u só dat u bereid is om iets groter as 1994, soos wat u dit self beskryf, op die spel te plaas? Die ANC se ideologiese blindheid oor Afrikaans bedreig Suid-Afrika. U plaas u regeervennote in ʼn onhoudbare posisie. Van hulle het uitgesproke verklaar dat Bela en die NGV ʼn rooi lyn is. As u enigsins waarde heg aan die eenheid van die regering van nasionale eenheid – los ons kinders uit!

Die uwe

Dr. Dirk Hermann

Bestuurshoof: Solidariteit

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel