loading
Artikels
1 jaar gelede
opkomende-loopbaanrigtings-vir-die-moderne-arbeidsmag

Foto Krediet: OkayDeer

Opkomende loopbaanrigtings vir die moderne arbeidsmag

Deur Karen Waldeck

In die snel veranderende landskap van die moderne arbeidsmag is dit noodsaaklik om bewus te wees van die opkomende loopbaanrigtings wat in die toekoms sal floreer. Hierdie nuwe rigtings word deur tegnologiese vooruitgang en maatskaplike veranderinge gedryf. Met die drastiese veranderinge in die samelewing van vandag is dit uiters belangrik om die regte loopbaan te kies. Hier is vyf opwindende loopbaanmoontlikhede wat jong skoolverlaters in ag kan neem in ’n nuwe era van werksgeleenthede.

  1. KI-ingenieur:

Volgens ʼn artikel wat op RSG se webblad geplaas is,is daar ʼn toenemende integrasie van kunsmatige intelligensie (KI) in verskeie sektore, en die behoefte aan kundiges wat hierdie tegnologie kan ontwerp, implementeer en onderhou is van kardinale belang. ‘n KI-ingenieur is verantwoordelik vir die ontwikkeling van intelligente stelsels en masjiene wat in staat is om selfstandig te leer en besluite te neem. ʼn Baccalaureusgraad in studierigtings soos rekenaarwetenskap, datawetenskap of KI kan in gedagte gehou word indien jy hierdie beroep oorweeg.

  • Data-ontleder:

In ‘n era van grootskaalse data-insameling is die rol van ‘n data-ontleder  van toenemende belang. Volgens die artikel “Wat doen ʼn data-ontleder regtig?” fokus hulle daarop om genoeg van die regte data in te samel. Dit is van kritieke belang vir enige maatskappy en selfs vir die staat om die regte data in te samel. Hierdie data word dan ontleed en gebruik om te kyk na wat vir ʼn maatskappy nodig is om sukses te behaal, en ook om te weet wat besig is om in verskillende sektore te gebeur. Wat sal jy nodig hê indien jy in hierdie beroepsrigting belangstel? Jy kan kyk na ʼn baccalaureusgraad in rekenaarwetenskap, statistiek of ‘n verwante vakgebied.

  • Sielkundige:

In ‘n tyd waarin die bewustheid oor geestesgesondheid toeneem, is daar ʼn toenemende behoefte aan sielkundiges. Volgens Academy Europe behels hierdie  beroep die aanbieding van berading, ondersteuning en hulp aan individue wat sukkel met emosionele kwessies, stres en ander sielkundige uitdagings. Daar is ʼn paar stappe wat gevolg sal moet word om hierdie loopbaanrigting te kan inslaan. Heel eerste sal jy ʼn meestersgraad in een van die programme in kliniese, berading- of navorsingsielkunde moet behaal. Daarna moet jy by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe (HPCSA) registreer, en ʼn professionele meestersgraad sal vereis word voordat jy kan registreer.

  • Konsultant vir hernubare energie:

Met die toenemende fokus op volhoubare energie is daar volgens Maroela Media ‘n groeiende behoefte aan konsultante wat in hernubare energiebronne soos sonkrag, windkrag en waterkrag spesialiseer. Hierdie spesialiste sal betrokke wees by die ontwerp, implementering en bestuur van projekte wat ons afhanklikheid van nie-hernubare bronne verminder. Om ʼn konsultant te word, sal daar van jou verwag word om ‘n baccalaureusgraad in die bestuur van hernubare energie te voltooi.

  • Inligtingstegnologiespesialis:

In ʼn era waarin tegnologie almal se lewens byna oorneem, sal dit tot enige iemand se voordeel wees om ʼn loopbaan in inligtingstegnologie (IT) te volg. Volgens Kiiky is IT een van die velde wat die afgelope paar jaar die vinnigste groei getoon het. Wat is die werk van ʼn IT-spesialis? Hulle help organisasies om die nuutste tegnologieë te implementeer om sodoende hul mededingendheid te handhaaf en voordeel te trek uit die gerief wat die jongste tegnologie bied. Hierdie IT-spesialis bring ‘n kombinasie van kennis, kreatiwiteit en strategiese denke na die tafel.

Hierdie loopbaanrigtings verteenwoordig slegs ‘n handvol moontlikhede in ‘n wêreld van groeiende geleenthede. Dit is belangrik vir jong studente en ook alle ander individue om hul vaardighede aan te pas en voortdurend op te skerp om in hierdie dinamiese arbeidsomgewing relevant te bly. Die toekoms van loopbane lê in die hande van dié wat bereid is om die uitdagings van môre met ‘n gees van aanpasbaarheid en nuuskierigheid aan te pak.

                                                                               

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel