loading
Artikels
10 maande gelede
opleiding-in-vroeekinderjare-ontwikkeling-vko-by-sol-tech

Foto Krediet: OkayDeer

Opleiding in Vroeëkinderjare Ontwikkeling (VKO) by Sol-Tech

Deur Ané Janse van Rensburg

Vroeëkinderjare Ontwikkeling het onlangs geskuif van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling na die Departement van Basiese Onderwys. Dit het ’n hernude klem geplaas op die vereistes dat onderwysers ’n minimum vlak van opleiding moet hê.

Hierdie nuwe vereiste aan onderwysers dien as die dryfkrag vir die ontwikkeling van ʼn Vroeëkinderjare Ontwikkeling (VKO) opleidingsprogram by Sol-Tech. Liesel van der Walt, departementshoof van nie-tegniese kwalifikasies by Sol-Tech, gesels met ons oor wat die VKO-kwalifikasie behels.

Wat behels Vroeëkinderjare Ontwikkeling?

Vroeëkinderjare Ontwikkeling behels ʼn oorsig oor die ontwikkeling van ’n kind van geboorte tot skoolgaande ouderdom. Dié intreevlak-kwalifikasie bekwaam studente om met babas, peuters en kleuters (0 tot 5 jaar) te kan werk. Aspekte soos voeding, gesondheid, ouderdomspesifieke aktiwiteite, deernis en toegeneëndheid, sosiale interaksie, asook leergeleenthede word as deel van die kwalifikasie gedek. Die kursus is gemik op skoolverlaters wat in ’n kleuterskool werksaam wil wees; individue wat reeds in ’n kleuterskool werk, maar ’n formele kwalifikasie wil verkry, au-pairs, kinderoppassers, dagmoeders en tuisskoolmammas wat met 0 tot 5 jarige kinders wil werk.

Wat is die hoofkomponente van die program?

Die kwalifikasie bestaan uit vier komponente:

  1. Teorie met praktiese toepassing (6 maande) op kampus.
  2. Toegepaste praktiese waarneming (gelyktydig met teorie) by ’n kleuterskool. 
  3. Werksgeïntegreerde leer (3 tot 6 maande) by ’n kleuterskool.
  4. Eksterne geïntegreerde summatiewe assessering (geskrewe eksamen asook ongeveer twee dae se assesserings van praktiese take by ’n kleuterskool).

Hoe lank duur die program, en wat is die vereistes vir suksesvolle voltooiing?

Ongeveer 12 maande met die volgende vereistes vir suksesvolle voltooiing:

  • Deurlopende formatiewe teoretiese assesserings sowel as praktiese evaluasies by ʼn kleuterskool.
  • Interne teoretiese en praktiese geïntegreerde assessering (FISA).
  • Saamstel van ’n teoretiese en praktiese portefeulje vir evaluasie deur die assessering gehalte vennoot (ETDP Seta).
  • Eksterne geïntegreerde summatiewe assessering (EISA) bestaande uit ʼn geskrewe vraestel, en een tot twee dae praktiese demonstrasies van vaardighede in ’n kleuterskoolomgewing. Om die kwalifikasie te behaal moet die EISA geslaag word.

   Watter onderwerpe of vaardighede word in die program beklemtoon?

  • Inklusiewe aktiwiteite rakende die holistiese ontwikkeling en welstand van ’n kind
  • Fasiliteer holistiese leer van kinders
  • Observeer, assesseer en dokumenteer kinders se ouderdomspesifieke progressie
  • Skryf van verslae rakende ’n kind se ontwikkeling en leer
  • Bevorder die algehele welstand, gesondheid, veiligheid en beskerming van ’n kind
  • Lewer bydraes tot die jong kind se emosionele, sosiale en intellektuele ontwikkeling
  • Kommunikeer met kennis, insig en selfvertroue aan die ouers, mede-personeellede en ander rolspelers buite die sentrum
  • Agtergrondkennis oor die beplanning, daarstelling en onderhouding van die wetlike aspekte om ’n VKO-sentrum te vestig en op te bou

Watter opleidingsmetodes en tegnologieë word in die program gebruik?

Gemengde model – Klaskamer, selfgerigte leer en praktiese leer.

Die omgekeerde klaskamer- benadering word gebruik gedurende die teoretiese en praktiese opleiding. Studente kom dus voorbereid klas toe vir kontaksessies op kampus. Kontaksessies van drie ure lank vind weekliks plaas van Maandae tot Donderdae, (15:00 tot 18:00,) behalwe op waarnemingsdae. 

Studente neem ook deel aan praktiese waarnemingsessies by ’n vooraf goedgekeurde VKO-sentrum. Gedurende die sessies sal die student waargeneem word om sodoende die toepaslike opdrag te voltooi soos voorgeskryf in die studenteportefeulje. Elke waarnemingsdag word opgevolg met ’n uurlange kleingroep aanlyn klas.

Watter soort loopbaangeleenthede kan afgestudeerdes van hierdie program verwag?
Na die suksesvolle voltooiing van die kwalifikasie sal die student in staat wees om as ’n vroeëkinderjare ontwikkelingspraktisyn tot op gr. RR-vlak te kan werk. Dit wil sê om met babas, peuters en kleuters (0 tot 5 jaar) te kan werk.

Wat hoop Sol-Tech om met hierdie program te bereik in terme van impak op die gemeenskap en die onderwysstelsel?
Daar ʼn geweldige tekort aan persone in Suid-Afrika wat spesifiek goed vir die vroeëkinderontwikkelingsfase opgelei is. Kinders tussen die ouderdom van 0 tot 5 jaar wat blootgestel is aan goeie opleiding, ontvang ʼn stewige fondasie om eendag goed te kan presteer. Navorsing toon dat daar tans ongeveer 7 miljoen 0 tot 5 jariges in Suid-Afrika is. Die impak wat ʼn goed opgeleide praktisyn op hierdie segment van die samelewing kan hê is beduidend. Die Vroeëkinderjare Ontwikkeling (VKO)-kwalifikasie is dus nóg ʼn manier om meer jong mense indiensneembaar te maak.

Hoe kan voornemende studente aansoek doen om by die program aan te sluit?

Aansoeke is reeds oop vir Januarie 2025. Voornemende studente kan aanlyn aansoek doen deur hier te klik. Vir enige navrae rondom die aansoekproses, kan voornemende studente Sol-Tech direk kontak by navrae@sol-tech.co.za of 0861 999 880.

Saam met Solidariteit en instansies soos Sol-Tech, het jy die geleentheid om ’n leerryke-omgewing te betree waar jy werklik ’n verskil kan maak. Skep vandag nog jou gratis Solidariteit-profiel en sluit aan by die Solidariteit Onderwysernetwerk. Kom wees deel van ’n gemeenskap wat saam met jou wil leer en bou aan ’n beter toekoms, want #JyHoortHier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel