loading
Artikels
1 jaar gelede
opleidingsinstituut-doen-tweede-inname-in-versorgingsopleiding

Foto Krediet: Solidariteit

Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut verander lewens

Deur Elsha Hermann

Om ʼn versorger te wees, is ʼn roepingsgedrewe beroep. Dit verg dat jy jou naaste met liefde sal dien, met jou hande versorg, met jou kennis help en met jou bystand troos. Solidariteit Helpende Hand verstaan hierdie roeping en bied daarom ʼn tuisversorgingskursus aan.

Hierdie kursus is deur die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) geakkrediteer en duur ses maande. Dié kursus bestaan uit teoretiese modules wat by die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut se Pretoria-kampus aangebied word; praktiese sessies in ʼn simulasielaboratorium; en indiensopleiding by geïdentifiseerde instellings in die omgewing. Ná afloop van die kursus kan jy as tuisversorger of versorgingshulp deur tehuise of residensiële instellings in diens geneem word of privaat werk onderneem.

Die Opleidingsinstituut bied ook buitekurrikulêre modules aan wat studente benodig om gehaltesorg en persoonlike ontwikkeling te verseker. Dit sluit in kommunikasievaardighede, konflikhantering en veiligheidsmaatreëls.

Afgestudeerde studente getuig soos volg oor die positiewe impak wat die opleiding op hulle gehad het:

“Hierdie kursus het nuwe deure vir my oopgemaak, en dit beteken dat ek ʼn goeie beroep kan betree. Gedurende hierdie kursus het ek ook ontwikkel en geleer waar om my vaardighede toe te pas. Ek het gedurende die opleiding mense ontmoet wat my gehelp het om ʼn beter mens te word.” – Charlotte Ferera

“Hierdie kursus het baie vir my beteken. Ek het ʼn verskil in iemand anders se lewe gemaak en langs die pad het ek ook lewenslange vriende gemaak. Die positiefste ding wat ek ervaar het, was die vreugde wat die ouer mense ervaar wanneer hulle ʼn mens sien en die liefde wat hulle het om te gee.” – El-rina Buys

“Hierdie kursus het my bewus gemaak van ander mense in my gemeenskap se behoeftes en hoe ek ʼn verskil in hul lewens kan maak. Dit het my ook persoonlik laat groei. Ek het nou meer selfvertroue en my kommunikasievaardighede en uithouvermoë het ook verbeter.” – Enrike Lambrechts

Die Helpende Hand Studietrust stel ʼn beperkte aantal rentevrye studielenings aan studente beskikbaar. Voornemende studente wie se aansoek suksesvol was, kan daarvoor aansoek doen. Kandidate moet ʼn streng keuringsproses ondergaan om vir só ʼn lening te kwalifiseer.

Indien jy jou roeping wil uitleef deur ander te versorg, skryf nóú in vir hierdie kursus deur ʼn e-pos na opleiding@helpendehand.co.za te stuur of besoek ons  webtuiste by www.helpendehandopleiding.co.za.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel