loading
avatar
Mediaverklarings
3 dae gelede
oplossing-vir-geskil-tussen-vsa-en-sa-regerings-is-dringend-noodsaaklik

Foto Krediet: Gemini

Oplossing vir geskil tussen VSA- en SA-regerings is dringend noodsaaklik

Mnr. Cyril Ramaphosa hou aan om “misinformasie” te blameer vir die swak betrekkinge met die VSA, in plaas daarvan om verantwoordelikheid te aanvaar vir die veelvuldige krisisse waarin hy en sy party die land gedompel het. Dit is in beide Suid-Afrika én die VSA se belang dat die geskil tussen hul regerings dringend opgelos word.

Die Solidariteit Beweging neem met kommer kennis van die afwaartse spiraal van uitsprake deur senior leiers van dié twee lande. Die twee regerings moenie voortgaan om op mekaar se uitsprake te reageer nie, maar moet eerder fokus op die werklike oorsake van die konflik.

Die eerste stap na die normalisering van verhoudinge behoort die onmiddellike aanstelling van ambassadeurs in beide lande te wees om die verstopte diplomatieke kanale weer te open. Daarna kan die twee lande ʼn gesamentlike taakspan aanstel om die kleiner geskilpunte te ondersoek en uit te stryk. Die groter vraagstukke kan dan volgende aangepak word.

Die nasionale belange van Suid-Afrika en die VSA moet die grondslag van sulke gesprekke vorm, nie verskille tussen die regerings of botsende beleide of uitsprake nie. Die ANC is verantwoordelik vir die verswakking van verhoudinge wat nou al jare lank opbou en hy kan nie langer agter wanvoorstellings en beskuldigings van “misinformasie” skuil nie.

Nasionale belange

Dit is in beide lande se nasionale belang om die verswakkende verhoudinge te herstel. Suid-Afrika se werkloosheidskoers is van die hoogste ter wêreld, terwyl dit ook nie in die VSA se belang is dat die Suid-Afrikaanse regering hom by Amerika se opponente skaar nie. Die oplossing is nie om Suid-Afrika uit die G20 te laat nie, maar om die regering te oorreed om die noodsaaklike beleidshervormings in te stel wat Suid-Afrika op ʼn versnelde groeitrajek kan plaas om een van grootste 20 ekonomieë te word.

Ons glo die VSA se onderliggende redes vir die verslegting van verhoudinge tussen die twee lande is die volgende:

  • • Die VSA se oortuiging dat die ANC se buitelandse beleid die VSA se nasionale sekuriteit bedreig;
  • • Die VSA-regering se siening dat Suid-Afrikaanse rassewette nie versoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn funksionerende staat en ʼn groeiende ekonomie nie;
  • • Die feit dat die ANC histories en tans homself eerder by die globale nie-Westerse blok skaar;
  • • Die ANC se ideologiese teenstand teen die VSA-regering se konserwatiewe vryemarkbeleid;
  • • Die VSA-president se siening dat plaasmoorde aangevuur word deur opswepende liedjies soos “Kill the Boer”, dat dit die Afrikanerminderheid se menseregte bedreig, en dat die Suid-Afrikaanse president dit nie veroordeel en die Konstitusionele Hof dit nie as haatspraak beskou nie;
  • • Die ANC se verbreking van die 1994-ooreenkoms rakende Afrikaners se kulturele regte, bv. deur die Bela-wetgewing;
  • • Dat Suid-Afrikaanse wetgewing die eiendomsreg van die Afrikanerminderheid bedreig en die land op ʼn glybaan na ʼn Zimbabwe kan plaas.

Speelbal

Die Solidariteit Beweging is dankbaar vir die VSA-president se besorgdheid oor Afrikaners se lewens en menseregte. Terselfdertyd wil ons verhoed dat Afrikanerbelange ʼn politieke speelbal tussen Suid-Afrika en die VSA word. Sekere Suid-Afrikaanse politici het ons reeds onbillik en ongegrond van hoogverraad en onpatriotisme beskuldig, en hou ons verkeerdelik verantwoordelik vir die instel van handelstariewe en die staking van finansiële hulp aan kwesbare groepe.

Die Solidariteit Beweging het dit al herhaaldelik duidelik gestel dat ons nie ʼn boodskap van volksmoord aan die VSA-president oorgedra het nie. Ons beskou ook nie vlugtelingstatus vir Afrikaners na die VSA in geheel as ʼn oplossing nie, maar bloot as ʼn manier om ʼn minderheid te help wie se lewens deur geweldsmisdaad geraak is of bedreig word. Daarom is dit nodig dat beide die VSA- én Suid-Afrikaanse regerings eerder mét Afrikaners praat as óór ons, sodat misverstande oor die situasie in Suid-Afrika en die posisie van Afrikaners uitgeklaar kan word.

Daarom het ons al verlede jaar ʼn Afrikanerverklaring onderteken, waarin ons onsself tot die skepping van ʼn toekoms vir Afrikaners en Suid-Afrika verbind het. Ons het dit ook duidelik gemaak dat ons nie gediend is daarmee om as tweedeklasburgers behandel te word en deur die ANC as slaansakke en sondebokke misbruik te word om die aandag van hul mislukkings af te lei nie. Dit help nie dat die ANC kla dat die VSA hulle boelie terwyl die ANC self Afrikaners boelie met rassewetgewing en kulturele diskriminasie nie.

Nuwe kampus

Die Solidariteit Beweging se projek om die kulturele infrastruktuur vir ʼn vry, veilige en voorspoedige voortbestaan te bou, gaan in Januarie 2026 nuwe momentum kry met die bou van ʼn nuwe kampus vir ons onafhanklike universiteit. Terselfdertyd herbevestig dit ons verbintenis tot plaaslike oplossings. Ons bou om te bly, en bly om te bou. Ons is nie slagoffers of vlugtelinge nie. Ons doel is om die kulturele infrastruktuur te bou wat ons in staat sal stel om volhoubaar hier te bly, sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan lewer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel