
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Parlementêre fiasko: Só sê ons land se leiers
Histerie! Dit gons in die parlement terwyl verskeie politieke leiers hulle eie interpretasies oor die situasie bied. Dit is duidelik dat Suid-Afrika se toekoms op verskeie vlakke, maar veral ekonomies, op die spel is en hierdie is ons land se voorste leiers se kommentare:
Politieke manipulasie en ekonomiese isolasie
Volgens Julius Malema is die VSA teen Suid-Afrika gekant weens sy morele standpunt oor Israel. Dit is ʼn vroeë stadium van ekonomiese isolasie, en gewapende optrede sal volgens hom volg. Hierdie soort retoriek is gevaarlik, maar te verwagte komende van hom. Hy sê verder dat die fantasie-staat van die regse rassiste nooit gestig sal word nie. “Ons sál grond ontneem. As hulle nie daarvan hou nie, moet hulle Amerika toe gaan.” Dit is volgens hom alles deel van Amerikaanse imperialisme en kan nie toegeskryf word aan die propaganda van die oranje groep nie.
MKP-LP, Wesley Douglas, bestempel weer die Amerikaanse besluit as ʼn poging tot ekonomiese oorlog. Hy sê dit gaan nie eintlik oor hulp nie, maar oor beheer en mag deur ’n minderheidsgroep rassistiese grondeienaars en begunstigdes van kolonialisme en apartheid. “AfriForum en Solidariteit verteenwoordig ’n klein bevoorregte elite wat aan die pen moet ry vir hul verraad teen die land.”
Diplomatieke verhoudings
“Wie de hel dink AfriForum, Solidariteit en die DA is hulle?” vra Athol Trollip van ActionSA. Hy wil weet wie het aan ons gesant-status gegee om hoed in die hand te gaan vra vir beskerming van minderheidsregte in die VSA. Dit is ironies dat politici hierdie pogings kritiseer terwyl die Suid-Afrikaanse regering nalaat om self doeltreffende diplomatieke verhoudings te bou. Hy vra wel tereg waar Suid-Afrika se regte gesante is.
Gayton McKenzie se kommentaar volg ook hierdie trant. Hy sê aan diegene wat na Amerika toe hardloop, dat Suid-Afrika ’n minister van buitelandse sake én ’n president het. Hy meen AfriForum en Solidariteit plaas nie foto’s van die mense met wie hulle praat nie, omdat ons net met opsigters praat en nie politici wat saak maak nie. Maar hy gee tog toe dat Suid-Afrika Amerika nodig het. As die twee lande nie kan saamwerk nie, gaan Suid-Afrika aan die kortste ent trek.
ʼn Behoefte aan ʼn realistiese ekonomiese strategie
VF Plus-leier Corné Mulder wys daarop dat die probleme wat Suid-Afrika met die VSA het nie onder Trump se administrasie begin het nie, maar reeds onder die Biden administrasie vererger het. Hy stel voor dat Suid-Afrika ʼn les by Indië moet leer, wat ʼn suksesvolle handelsverhouding met Amerika handhaaf terwyl hulle deel van BRICS bly. Hy sê die probleem is dat Amerika lande soos Rusland, China, Iran en Noord-Korea geïdentifiseer het as die grootste bedreiging vir hul nasionale veiligheid. “Suid-Afrika moet daarvan kennis neem. As ons aanhou om ’n probleem te wees op daardie gebied, en met almal vriende wil wees en teen Amerika in terme van beleid wil wees, skep ons ons eie probleem.”
Eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP stel dit duidelik dat dit dom sal wees om op arrogante wyse op Trump se besluit te reageer. Suid-Afrika moet dankbaar wees vir die hulp wat hulle van die VSA ontvang het. Hy meen die regering moet met die Amerikaanse regering praat. Dit moet kan lei tot die herinstelling van die geldelike hulp wat Trump onttrek het.
ʼn Gevaarlike pad vorentoe
Die histerie en selfbejammering in sommige politieke reaksies help egter niemand nie. Songezo Zibi, partyleier van Rise Mzansi, sê daar is ’n “magtige, wrede, fascistiese diktatorskap aan bewind in Amerika.” Hy reken dat dit ’n diktatorskap van ’n spesiale aard is omdat dit demokrasie wêreldwyd wil vernietig, en volgens hom wil hulle dit hier óók doen.
Helaas waarsku Mzanele Nyhontso, minister van grondhervorming en landelike ontwikkeling, dat daar geen twyfel is dat sagte mag gebruik word om die nasie te verdeel, die organe van ons demokratiese staat te verswak en regime-verandering af te dwing nie. Hy sê Suid-Afrikaners moet daarom patrioties wees in die lig van hierdie aanval teen die land.
Solidariteit se boodskap: ʼn Toekoms gebou op werklikheid, nie ideologie
Suid-Afrika moet homself posisioneer as ʼn verantwoordelike handelsvennoot en ʼn nasie wat sy minderhede beskerm. Solidariteit staan vir ekonomiese vryheid, selfstandigheid en ʼn sterk burgerlike samelewing. Die fokus moet op praktiese oplossings wees en nie ʼn ideologiese stryd wat net verder tot isolasie en armoede sal lei nie.
Deelnemers aan die parlementêre debat oor Suid-Afrika se verhouding met die VSA, het die regering – spesifiek die ANC se binnelandse en buitelandse beleid – se invloed op die verbrokkelde verhouding met die VSA ontken. Hulle soek steeds na sondebokke terwyl die sondebok die ANC self is.
Presidente, ambassadeurs en ministers van buitelandse sake trap Washington se drempel deur om die nuwe magsverhouding in die Withuis te verreken. Hulle doen dit nie noodwendig omdat hulle van president Trump hou of met hom saamstem nie, maar omdat dit in belang van hulle lande en mense is.
Suid-Afrika se afwesigheid staan uit soos ʼn seer vinger. Hulle hanteer nie die diplomatieke krisis nie, maar vergroot dit. Daar word eerder ʼn histeriese parlementêre debat gehou met talle beledigings wat na die VSA geslinger word. Daar word nie met Washington ontmoet nie, maar die ANC en die regering ontmoet met Kuba en Iran. Die prys wat vir hierdie ideologiese blindheid en diplomatieke onbeholpenheid betaal gaan word, is onder andere die verloor van honderde, duisende poste van gewone mense.