loading
Artikels
1 week gelede
potchefstromer-as-streekswenner-van-hoopdraer-toekenning-aangekondig

Foto Krediet: Okay Deer

Potchefstromer as streekswenner van #Hoopdraer-toekenning aangekondig

Vanjaar is 11 streekswenners aangewys en een van hierdie uitsonderlike wenners is Karen van der Berg van Potchefstroom. Haar onwrikbare toewyding aan maatskaplike werk en haar passie vir kinders maak van haar ʼn ware ligdraer in haar gemeenskap. Lees meer hier.


Die #Hoopdraer-toekenning van Solidariteit vereer individue wat onbaatsugtig hoop bring in hul gemeenskappe.

Vanjaar is 11 streekswenners aangewys en een van hierdie uitsonderlike wenners is Karen van der Berg van Potchefstroom. Haar onwrikbare toewyding aan maatskaplike werk en haar passie vir kinders maak van haar ʼn ware ligdraer in haar gemeenskap.

Karen glo ware diens is om iets vir iemand te beteken sonder om iets in ruil daarvoor te verwag.

“Dit is hoekom ek maatskaplike werk gekies het,” sê sy.

Haar liefde vir kinders is haar dryfveer en sy het al eerstehands gesien hoe hul lewens verbeter sodra hulle die nodige hulp ontvang.

“Om te sien hoe hoop na ʼn kind se oë terugkeer en hoe hulle oor ʼn tydperk groei en blom is vir my die grootste beloning.”

Karen is reeds 34 jaar in die beroep en het haar loopbaan in die destydse gevangenisdiens begin, waar sy noodsaaklike ondersteuning en berading aan individue gebied het wat hoop en herintegrasie benodig het.

“Elke ervaringsgebied in maatskaplike werk het my gevorm en my geleer hoe diep die impak van empatie en begrip werklik is.”

Toe Karen hoor sy is as streekswenner aangewys, was sy sprakeloos.

“Ek het dit glad nie verwag nie! Dit is ʼn groot eer en ʼn herinnering dat wat ek doen, raakgesien word. Soms wonder ʼn mens of jy genoeg doen, maar hierdie erkenning wys dat elke poging tel.”

Vir Karen is passie die sleutel tot volhoubare maatskaplike werk.

“Hierdie werk is nie altyd maklik nie, maar as jy dit met passie en oortuiging doen, maak dit die swaar dae die moeite werd. Jy moet glo in wat jy doen en werklik omgee vir die mense wat jy bedien,” sê sy.

Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, sê dit is ʼn groot voorreg om staatmakers in hierdie beroepsveld op dié manier te kan beloon.

“Die Hoopdraer-toekenning is ʼn spesiale toekenning wat die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand jaarliks toeken om uitmuntende werk in die maatskaplike professie te vereer.

“Dit gee erkenning aan individue wat met passie, empatie en toewyding in hul gemeenskappe werksaam is, en wat  ʼn bron van hoop en inspirasie vir diegene rondom hulle is. Die toekenning sluit streekswenners, topdriewenners en uiteindelik ʼn algehele wenner in,” sê Erasmus.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel