Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Praktiese wenke en strategieë vir netwerkvorming
Deur Karen Waldeck
“Dit is nie wat jy kan doen nie; dit is wie jy ken.”
Alhoewel hierdie dalk onregverdig klink, is daar dikwels waarheid hierin versteek.
Netwerkgeleenthede is soveel meer as net die uitruil van kontakbesonderhede en besigheidskaartjies. Dit is die geleentheid om verhoudings te bou, of jy nou ʼn entrepreneur, professionele persoon of selfs ʼn student is wat jou eerste tree in die werkslewe gee. Die waarde van ʼn sterk netwerk kan nie onderskat word nie. Dit gee vir jou toegang tot geleenthede, mentorskap en selfs ondersteuning wanneer dit die nodigste is.
Dit is maklik om te sê dat ʼn netwerk belangrik is, maar hoe begin jy een bou? Hier is ʼn paar praktiese stappe om jou op die regte pad te sit:
1. Woon netwerkgeleenthede by
Of dit nou ʼn konferensie, werkswinkel, of ʼn sosiale geleentheid is, moenie die kans laat verbygaan om met ander mense in jou bedryf te skakel nie. Hierdie geleenthede is spesifiek ontwerp om jou te help om nuwe kontakte te maak en bestaande verhoudings te versterk. Begin deur jouself aan mense voor te stel en ʼn opregte belangstelling in hulle te toon. Soos hulle sê, dit gaan nie altyd oor wat jy weet nie, maar eerder oor wie jy ken.
2. Gebruik aanlyn platforms
Aanlyn platforms soos Solidariteit se werkfasiliteringsplatform is wonderlike gemeenskappe om jou professionele netwerk uit te brei. Sluit aan by groepe wat relevant is vir jou bedryf, neem deel aan besprekings en volg leiers in jou veld. Hierdie aanlyn teenwoordigheid help om jou naam bekend te stel en om op hoogte te bly van tendense en geleenthede.
3. Bou sterk verhoudings
Dit gaan nie net oor kwantiteit nie, maar oor die kwaliteit van jou netwerk. Fokus daarop om opregte, waardevolle verhoudings te bou. Mense sal jou onthou as jy ʼn positiewe impak op hulle gemaak het en hulle regtig probeer help het.
4. Maak gebruik van mentorskapprogramme
As jy die geleentheid het, probeer om ʼn mentor te vind wat jou kan help om jou netwerk verder uit te brei. ʼn Mentor kan jou voorstel aan mense wat jy andersins nie sou ontmoet het nie en jou advies gee oor hoe om hierdie nuwe kontakte te benut. Solidariteit bied die geleentheid aan enige iemand om deel te wees van hulle mentorskapprogramme.
Instandhouding van jou netwerk
Om jou netwerk te bou is die eerste stap, maar om dit te onderhou is net so belangrik. ʼn Netwerk wat nie instandgehou word nie, sal mettertyd vervaag en sy waarde verloor. Hier is ʼn paar wenke om seker te maak dat jou netwerk lewendig en gesond bly:
1. Bly in aanraking
Moenie net by iemand aanklop wanneer jy iets nodig het nie. Maak ʼn punt daarvan om gereeld kontak te maak met mense in jou netwerk, selfs al is dit net om hallo te sê of te vra hoe dit met hulle gaan. ʼn Eenvoudige boodskap of e-pos kan ʼn groot verskil maak.
2. Kultiveer verhoudings
Verhoudings in ʼn netwerk is soos plante – hulle moet gereeld gevoed word om te groei. Dit beteken dat jy moeite moet doen om waarde toe te voeg tot die mense in jou netwerk. Dit kan wees deur hulp aan te bied, advies te gee, of hulle bloot op hoogte te hou van relevante inligting waarby hulle kan baat.
3. Wees ʼn betroubare bron
As mense weet dat hulle op jou kan staatmaak vir betroubare inligting en ondersteuning, sal hulle meer geneig wees om jou kontak te waardeer en te onderhou. Deel jou kennis en hulpbronne vrylik, en wees altyd bereid om ʼn hand uit te steek wanneer iemand dit nodig het.
4. Organiseer jou netwerk
Maak seker jy hou jou kontakte goed georganiseer. Dit kan iets so eenvoudig wees soos om ʼn lys te hou van wie jy ontmoet het, waar en wat julle bespreek het. Dit sal jou help om konneksies vinnig en maklik te maak wanneer die tyd reg is. Mense voel ook gevlei wanneer jy klein persoonlike besonderhede onthou, soos watter boek hulle laas gelees het toe julle mekaar ontmoet het, of wat hulle man/vrou en kinders se name is.
Die langtermynwaarde van ʼn sterk netwerk
ʼn Sterk netwerk is een van die waardevolste bates wat jy in jou loopbaan kan hê. Dit is nie net ʼn bron van geleenthede nie, maar ook van ondersteuning en mentorskap. As jy jou netwerk aktief bou en in stand hou, sal jy die vrugte daarvan pluk – nie net in jou huidige posisie nie, maar regdeur jou loopbaan.
Die sleutels tot sukses in netwerkvorming is opregtheid, volgehoue toewyding, en ʼn bereidwilligheid om waarde toe te voeg aan ander. Soos wat jy jou netwerk uitbou en koester, sal jy vind dat dit jou nie net help om jou doelwitte te bereik nie, maar ook om ander mense te ondersteun in hulle strewe na sukses.
Skep vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit en raak deel van jou grootste aanlyn werksgemeenskap!