
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Pretoriase maatskaplike werker vereer met gesogte toekenning – Solidariteit
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk in samewerking met Solidariteit Helpende Hand plaas jaarliks ʼn kollig op die hoopdraers in ons midde met die Hoopdraer-toekenning, waar elf streekswenners aangekondig word. Lees hier meer.
Hierdie Solidariteit-toekenning gee erkenning aan maatskaplike werkers wat ʼn beduidende verskil in hul gemeenskappe maak.
Een van hierdie uitsonderlike wenners is Anél Myburgh van Pretoria. Sy beskou haar werk as maatskaplike werk waar sy spesialiseer in kinders nie net as ʼn roeping nie, maar ook as ʼn lewenstaak wat sy met deernis en toewyding uitvoer.

Anél sê haar passie lê by die welstand van kinders.
“Die kinders waarmee ek werk, is my inspirasie. Om te sien hoe hulle groei en die trauma wat hulle ervaar het, oorkom maak alles die moeite werd.
“Ook die terugvoer wat ek van ouers en onderwysers ontvang, is kosbaar – om te hoor hoe ʼn kind gesonder en gelukkiger is, bevestig dat ek op die regte pad is,” sê sy.
Anél het van jongs af al geweet dat sy met kinders wil werk.
“Ek weet dis ʼn bietjie cliché,” lag sy, “maar dit was nog altyd vir my duidelik. Toe ek op kinderterapie afkom, het ek besef dit is my roeping. In matriek het ek my eerste spelterapie-kursus voltooi om te toets of ek daarvan sal hou – en ek het nog nie een dag teruggekyk nie.”
Toe Anél hoor sy is die pretoriase streekswenner in die Hoopdraer-kompetisie, was sy verbaas.
“Ek het regtig nie verwag om te wen nie. Daar is soveel maatskaplike werkers wat elke dag alles insit vir hul gemeenskappe. Dis lekker om te weet dat jou werk raakgesien word. Dit motiveer my om te onthou dat die saadjies wat ons nou plant, eendag vrugte sal dra,” sê Anél.
Met sewe jaar se ervaring in kinderterapie het Anél kosbare lesse geleer soos dat jy as maatskaplike werker nooit alles weet nie.
“Jy kan nie net aannames maak oor wat in iemand anders se huis of gesin aangaan nie. Daar is dikwels ʼn dieper rede vir mense – veral kinders – se gedrag. Empatie en begrip is noodsaaklik om werklik ʼn verskil te maak.”
Solidariteit se #Hoopdraer-toekenning is meer as net ʼn eerbewys – dit is ʼn herinnering dat een persoon ʼn verskil kan maak. Die elf streekswenners, waarvan Anél Myburgh een is, is inderdaad ligdraers in hul gemeenskappe. Hulle stories inspireer en moedig ander aan om dieselfde te doen.
Deur haar werk bring Anél hoop aan kinders en hul gesinne, en sy wys hoe die liefde en deernis van een persoon lewens kan verander.
Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk sê dit is ʼn groot voorreg om staatmakers in dié beroepsveld só te kan beloon.
“Die Hoopdraer-toekenning is ʼn spesiale toekenning wat die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand jaarliks toeken om uitmuntende werk in die maatskaplike veld te vereer.
“Dit gee erkenning aan individue wat met passie, empatie en toewyding in hul gemeenskappe werksaam is, en wat ʼn bron van hoop en inspirasie vir diegene rondom hulle is. Die toekenning sluit streekswenners, ʼn topdrie en uiteindelik ʼn algehele wenner in,” sê Erasmus.