loading
avatar
Artikels
1 week gelede
profielstuk-dr-marelize-vergottini-n-kampvegter-vir-kinders-en-skoolmaatskaplikewerkers

Foto Krediet: LinkedIn | Dr. Marelize Vergottini

Profielstuk: Dr. Marelize Vergottini – ʼn kampvegter vir kinders én skoolmaatskaplikewerkers

Deur Kyla-Ann du Toit

Internasionale Maatskaplikewerkersdag, wat jaarliks op 17 Maart gevier word, herinner ons aan die onmisbare rol wat maatskaplike werkers speel in die versterking van gemeenskappe, die ondersteuning van kwesbare mense en die skep van hoop waar dit dikwels onmoontlik voel. Dr. Marelize Vergottini, ʼn kenner op die gebied van skoolmaatskaplikewerk en ʼn passievolle voorstander vir die welstand van kinders binne die skoolomgewing, is iemand wat só ʼn rol in Suid-Afrika vervul.

Met uitgebreide ervaring in verskeie velde van maatskaplike werk, maar veral 11 jaar se betrokkenheid in die onderwyssektor, het dr. Vergottini se loopbaan ʼn duidelike fokusarea gekry: om te help bou aan ʼn sterker en meer gespesialiseerde veld van skoolmaatskaplikewerk. Haar werk kombineer praktiese ervaring met akademiese navorsing, en vandag speel sy ʼn sleutelrol in die opleiding van die volgende generasie maatskaplike werkers.

ʼn Leemte wat ʼn loopbaanrigting geword het

Vir dr. Vergottini het haar belangstelling in skoolmaatskaplikewerk begin met haar eerste aanstelling in ʼn skool. Dit was juis daar waar sy die behoefte aan groter strukture en duideliker rolle binne hierdie veld raakgesien het.

“Met my heel eerste aanstelling as skoolmaatskaplikewerker by ʼn skool in 2011, het ek besef dat daar ʼn reuse-leemte bestaan rondom die rolle en verpligtinge van die maatskaplike werker binne die skoolopset. Daar was ook baie ander uitdagings, en dit het my gemotiveer om my PhD in skoolmaatskaplikewerk te voltooi. Intussen het die veld van krag tot krag gegaan, maar daar is steeds verskeie leemtes.”

Hierdie besef het gelei tot haar PhD in skoolmaatskaplikewerk, wat sy in 2018 voltooi het. Haar navorsing het belangrike insigte na vore gebring oor hoe skoolmaatskaplike werk in Suid-Afrika funksioneer, asook waar die grootste uitdagings lê.

Die werklikheid van skoolmaatskaplikewerk

Een van die belangrikste bevindings uit haar navorsing is dat daar nog nie ʼn duidelike standaardstruktuur bestaan vir wat presies van skoolmaatskaplikewerkers verwag word nie. Volgens haar skep dit dikwels onsekerheid vir skole én vir die professionele persone self.

Nog ʼn groot uitdaging is professionele toesig en beheer. In baie skole, veral in openbare skole, werk maatskaplike werkers sonder formele toesig of ondersteuning van iemand binne hul eie beroep. In ander gevalle word hulle deur professionele persone uit ander velde, soos sielkunde of arbeidsterapie, gelei.

Daarbenewens word skoolmaatskaplikewerkers in Suid-Afrika dikwels gefragmenteerd georganiseer. Elke provinsie hanteer die aanstelling en benutting van maatskaplike werkers op ʼn ander manier, en waar hulle wel aangestel word, is die verhouding tussen die aantal werkers en die aantal leerders dikwels eenvoudig te groot.

Praktiese uitdagings speel ook ʼn rol. Volgens dr. Vergottini het baie maatskaplike werkers in skole nie eers basiese hulpmiddels soos ʼn privaat kantoor, veilige lêerspasie of voldoende tegnologie tot hul beskikking nie.

ʼn Holistiese benadering tot kinders se ontwikkeling

Skoolmaatskaplikewerk gaan egter oor veel meer as administrasie of individuele berading. Dit fokus op die holistiese ontwikkeling van kinders binne die groter konteks van hul gesinne, skole en gemeenskappe.

“Die skoolmaatskaplikewerker werk met kinders as die hoofsisteem, en ouers en onderwysers as subsisteme,” verduidelik dr. Vergottini. “Daar word ook gefokus op leerhindernisse: intrinsiek – as deel van die leerder self, soos gesondheid of diagnoses; sistemies –  soos oorvol klaskamers of ʼn tekort aan leermateriaal; en gemeenskapshindernisse, soos armoede en geweld.”

Hierdie werk word dikwels benader vanuit die ekologiese sistemiese model van Bronfenbrenner, wat fokus op hoe verskillende stelsels in ʼn kind se lewe mekaar beïnvloed – van die onmiddellike omgewing by die huis en skool tot die breër sosio-ekonomiese en historiese faktore.

Uitdagings wat elke dag in skole na vore kom

In haar werk met studente en praktisyns, sien dr. Vergottini eerstehands die uitdagings wat skole tans ervaar. Van die mees algemene probleme sluit in leerhindernisse wat nie betyds geïdentifiseer word nie, oorvol klaskamers, dissipline probleme en onderwysers wat uitgebrand is.

Daar is ook talle maatskaplike uitdagings wat ʼn direkte invloed op leerders het: tienerswangerskappe, dwelmmisbruik, boeliegedrag, geweld in gemeenskappe en afwesige ouers. In baie gevalle word skole die plek waar hierdie probleme eerste raakgesien word en waar ondersteuning begin.

Volgens dr. Vergottini is dit juis hierdie kompleksiteit wat maak dat skoolmaatskaplikewerk as ʼn spesialisveld verder ontwikkel moet word.

“Om in ʼn opvoedkundige omgewing te werk is ʼn sekondêre sisteem met ander wetlike raamwerke en beleide wat in gedagte gehou moet word,” sê sy. “Verder is die kind, ouer en onderwysers die sisteme wat spesialiskennis benodig.”

Hierdie spesialiskennis sluit onder meer die begrip van geestesgesondheid, assessering en die ontwikkeling van programme in om spesifieke uitdagings binne skole aan te spreek.

ʼn Kampvegter vir elke kind én skoolmaatskaplikewerker

Ten spyte van die uitdagings glo dr. Vergottini dat skoolmaatskaplikewerk ʼn uiters betekenisvolle beroep is, juis omdat dit so ʼn groot verskil in kinders se lewens kan maak.

“Die verskil wat ʼn maatskaplike werker in ʼn kind se lewe maak, het te doen met menslike verbinding,” sê sy. “Daardie een persoon met wie hulle kan praat en in ʼn vertroulike, veilige omgewing kan verkeer.”

Wanneer maatskaplike werkers deel van ʼn skool se personeel word, help dit ook om die stigma rondom maatskaplike werk te verminder en maak dit ondersteuning meer toeganklik vir leerders.

ʼn Boodskap aan jong maatskaplike werkers

Vir studente of jong maatskaplike werkers wat oorweeg om in hierdie veld te spesialiseer, het dr. Vergottini ʼn eenvoudige boodskap: “Dit is ʼn uiters bevredigende werk waar jy werklik die verskil wat jy maak kan sien. Maatskaplike werkers wat ʼn passie het om met kinders te werk en wat ʼn groot ‘inner child’ het, sal elke oomblik daarvan geniet. ʼn Mens moet jouself ken. Dit is ʼn uiters uitdagende, maar uiters bevredigende omgewing om in te werk.”

ʼn Boodskap aan jong maatskaplike werkers

Vir dr. Vergottini is skoolmaatskaplikewerk nie net ʼn beroep nie, maar ʼn roeping.

“Hierdie is vir my ʼn persoonlike en professionele passie. Die skool is die ideale omgewing om vandag en vir die toekoms ʼn verskil te maak. Ons kinders van vandag is môre se volwassenes.”

Sy verwys ook na ʼn beskrywing wat dikwels in die Verenigde State gebruik word vir skoolmaatskaplikewerkers: “veranderingsagente.”

“Ons kinders is ons goud,” sê sy. “Met die sosio-ekonomiese toestande en ander uitdagings wat ons gemeenskappe beleef, kan geen skool sonder ʼn maatskaplike werker funksioneer nie. Ons ouers én ons onderwysers sukkel. Maatskaplike werkers is opgelei om sistemies te werk en kan soveel waarde tot ʼn skool toevoeg.”

Mense soos dr. Vergottini herinner ons daaraan dat maatskaplike werk nie net oor probleme gaan nie, maar oor mense, verhoudings en die hoop dat elke kind die ondersteuning kan kry wat hy of sy nodig het om te groei.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel