Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Projekbestuur: jou geheime wapen in die werkplek
Deur Kyla-Ann du Toit
As daar een vaardigheid is wat jou loopbaan ʼn hupstoot kan gee, ongeag jou beroep, dan is dit projekbestuur. Of jy nou in konstruksie, IT, gesondheidsorg of bemarking werk – elke beroep vereis beplanning, spanwerk en die vermoë om take suksesvol te voltooi.
Projekbestuur is nie net vir ingenieurs of bestuurders nie; dit is vir énige iemand wat ʼn projek – groot óf klein – met selfvertroue en sukses wil aanpak en afrond.
Dít is presies wat jy met Solidariteit se kursusse in projekbestuur sal leer.
Leer die grondbeginsels en pas dit dadelik toe
Die algemene Projekbestuur-kursus bied ʼn teoretiese oorsig van wat projekbestuur behels en leer jou ook praktiese stappe wat jy onmiddellik in jou werkplek kan toepas. Jy leer onder meer:
- • hoe om ʼn projek se omvang, tydlyn en begroting te balanseer;
- • hoe om ʼn doeltreffende projekplan op te stel;
- • watter strategieë werk om jou span te lei en te motiveer; en
- • wat om te doen om ʼn projek suksesvol af te sluit.
Dié kursus dek die hele projeklewensiklus – van aanvang en beplanning tot uitvoering en afsluiting – en gee jou selfvertroue om enige projek met groter sekerheid te benader.
ʼn Vorige kursusganger beskryf dit só: “Eenvoudig verduidelik in mý taal – ek kon alles verstaan. Dis die regte rigting en stappe wat ek nodig gehad het om projekte aan te pak.”
Verstaan die metodes wat regtig werk
Sodra jy die basiese beginsels bemeester het, kan jy jou leerreis nog verder neem met die kursus “Projekbestuur: 3 gewildste metodes”. In hierdie kursus sal jy leer van bekende projekraamwerke soos Waterfall, Lean, Scrum en Critical Path wat projekbestuurders gebruik om hul spanne se werkvloei te verbeter.
Hierdie kursus bied insig in wat elke raamwerk behels, asook leiding oor hoe om die regte raamwerk vir jou spesifieke projek en span te kies. Dié kennis sal jou help om jou span se werkvloei te verbeter, produktiwiteit te verhoog en projekte meer gestruktureerd aan te pak.
ʼn Kursusganger wat hierdie kursus voltooi het, sê: “Die inligting was deeglik en die leermateriaal het baie gehelp. Ek het baie geleer!”
Maak jouself onmisbaar
Projekbestuur is nie net ʼn tegniese vaardigheid nie; dit wys ook jou leierskapspotensiaal, jou organisasievermoë en jou ingesteldheid om resultate te lewer. Dit is die soort vaardigheid wat jou bo jou mededingers laat uitstaan, veral in ʼn arbeidsmark waar aanpasbaarheid en selfbestuur al hoe belangriker raak.
Baie mense word een of ander tyd getaak om ʼn projek te bestuur, maar weet nie waar om te begin nie. Hierdie twee kursusse gee jou die gereedskap én selfvertroue om sulke projekte reg aan te pak.
Soos nóg ʼn Projekbestuur-kursusganger gesê het: “Ek gebruik dit nou daagliks in my werk.”
As lid van Solidariteit het jy gratis toegang tot nagenoeg 150 aanlyn kursusse – praktiese, kort kursusse wat jou help om in jou beroep te groei. Die projekbestuur-kursusse is van die gewildstes, en met goeie rede. Dit lê die fondament vir beter spanwerk, beplanning en besluitneming – ongeag jou beroep.
Is jy nog nie ʼn lid nie? Jy kan nou ook die kursusse aankoop, óf – self beter, jy kan vandag sommer ʼn lid word en toegang tot ál Solidariteit se gratis leergeleenthede kry – klik hier.
Skryf só in vir die kursusse
Om in te skryf, moet jy eers jou gratis profiel op Solidariteit skep.
1. Klik dan op “Leer” aan die linkerkant van die tuisblad.
2. Soek vir die kursusse:
- • “Projekbestuur”
- • “Projekbestuur: 3 gewildste metodes”
3. Klik op “Voltooi die kursus” en dan op “Begin leer”.
So maklik soos dit! Begin vandag en bemagtig jouself met die vaardighede wat jou loopbaan ʼn hupstoot sal gee.