loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
race-to-the-bottom-solidariteit-se-dokumenter-nou-beskikbaar

Foto Krediet: Solidariteit

RACE to the bottom: Solidariteit se dokumentêr nóú beskikbaar!

Deur Kyla-Ann du Toit

Ná drie dekades van demokrasie is Suid-Afrika steeds vasgevang in die greep van rassewette – nie meer in hul ou vorm nie, maar in die sluimerende beleid van “transformasie” wat ras dikwels bo meriete stel.

In sy kragtige nuwe dokumentêr, RACE to the bottom, bring Solidariteit dié ongemaklike waarheid eerlik en sonder vrees na die tafel.

ʼn Reis deur geskiedenis tot vandag se werklikheid

Die dokumentêr neem kykers op ʼn eerlike en emosioneel aangrypende reis deur die geskiedenis en gevolge van Suid-Afrika se rassewette, van hul oorsprong tot hul hedendaagse vorm van kwotas en demografiese teikens wat die land se toekoms bedreig. Hierdie beleid, wat dikwels onder die vaandel van geregtigheid geïmplementeer word, het volgens Solidariteit die teenoorgestelde uitwerking: Dit vernietig ons ekonomie, verdeel gemeenskappe en ontneem jong Suid-Afrikaners, ongeag ras, die geleentheid om op meriete te presteer.

RACE to the bottom bring van Suid-Afrika se mees gerespekteerde denkers en meningsvormers byeen, insluitend Moeletsi Mbeki, Heindrich Wyngaard, Gabriel Crouse, dr. Dirk Hermann, Flip Buys en Martin van Staden. Hulle deel hul ervarings, kennis en persoonlike perspektiewe en skets ʼn duidelike prentjie van hoe rassebeleid oor tyd van ʼn belofte tot ʼn belemmering verskuif het.

Dit is ʼn gesprek oor feite, nie slagspreuke nie; oor beginsels, nie politieke voordeel nie.

Die prys van stilbly

Vir té lank het Suid-Afrikaners oor rasbeleide geswyg – hetsy uit vrees, moedeloosheid of bloot omdat die gesprek ongemaklik is. Maar die prys van stilbly is hoog en dit is nie een wat Solidariteit bereid is om te betaal nie. Hierdie dokumentêr is dus meer as net ʼn rolprent; dit is ʼn oproep tot eerlikheid en gesprek, en ʼn uitdaging aan elke Suid-Afrikaner om sélf te besluit of huidige beleide werklik gelykheid bevorder of bloot nuwe onreg skep.

Die bekendstelling van RACE to the bottom vind in dieselfde tyd as die G20-beraad plaas, waar Suid-Afrika onder die wêreld se vergrootglas geplaas word. Terwyl internasionale leiers oor ekonomiese groei en gelykheid praat, bied Solidariteit se dokumentêr ʼn eerlike blik op ons land se werklikheid: dat rasgebaseerde beleid nie vooruitgang teweegbring nie, maar eerder verdere verdeeldheid.

Die dokumentêr ontbloot wat Solidariteit “die transformasie-dief” noem – ʼn stelsel wat agter mooi woorde van geregtigheid en herstel ʼn korrupte en onregverdige werklikheid probeer wegsteek. Dit is die verhaal van gewone Suid-Afrikaners wat nie langer bereid is om stil te bly nie.

Dit is nie ʼn aanval nie, maar ʼn uitnodiging: om saam te dink, saam te praat en saam te bou aan ʼn toekoms waar meriete, vryheid en menswaardigheid weer die maatstaf is.

RACE to the bottom – die eerlike gesprek wat Suid-Afrika móét hê – is nou op YouTube beskikbaar.

Kyk die dokumentêr hier:

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel