Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Ramaphosa probeer Solidariteit tevergeefs intimideer
Opmerkings deur pres. Cyril Ramaphosa tydens die ANC se verjaardagvieringe het wydverspreide mediadekking geniet.
Veral sy dreigemente oor optrede teen “raserige” groepe wie se buitelandse aktivisme volgens hom Suid-Afrika se soewereiniteit bedreig, het opslae gemaak.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het met hierdie boodskap op Ramaphosa se uitsprake gereageer:
President Ramaphosa raas en blaas, maar AfriForum en Solidariteit tree altyd binne die raamwerk van die wet op.
Hierdie soort intimiderende opmerkings het geen regsgrondslag nie. Dit raak gevaarlik wanneer ’n president sy posisie en staatsmag gebruik om politieke stemme te probeer stilmaak.
Solidariteit wil hê dat die dispuut tussen die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse regerings opgelos moet word aangesien dit nadelig is vir die land, die ekonomie en werkgeleenthede.
President Ramaphosa het ’n spesifieke fokus op rassewette geplaas. Die paradoks is egter dat dit juis die Suid-Afrikaanse regering is wat internasionale konvensies oortree. Die regering het ook die ooreenkoms met Solidariteit oor rassewette verbreek wat deur die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie gefasiliteer is.
Die regering is die oortreder van internasionale standaarde en is in geen morele posisie om Solidariteit oor rassewette te dreig nie.
Die Amerikaanse regering beskou rassewette as ’n nie-tarief-handelsbeperking. Suid-Afrika word met tariewe gestraf omdat die Amerikaners meen dat Suid-Afrika handelsbeperkings deur middel van rassewette instel. Dit het ’n direkte invloed op handelsverhoudinge tussen die twee lande.
Dit is die regering wat irrasionele rassewette instel, nie Solidariteit nie.
Die regering moet self verantwoordelikheid neem vir Amerikaanse optrede teen Suid-Afrika. Die regering probeer voortdurend die blaam afskuif. Solank hulle dit doen, gaan hulle niks doen om die situasie te verbeter nie.
Dit is nie Solidariteit en AfriForum wat vlootoefeninge met Amerikaanse vyande hou nie.
Dit is nie Solidariteit en AfriForum wat deurlopend standpunte teen die land se belangrikste handelsvennoot inneem nie.
Dit is nie Solidariteit en AfriForum wat internasionale beleggers se vertroue ondermyn deur onsekerheid oor eiendomsreg te skep nie.