Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
18 uur gelede
solidariteit-verwerp-enige-ngv-beleid-wat-lewens-bedreig

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit verwerp enige NGV-beleid wat lewens bedreig

Solidariteit sal nie sy teenkanting teen Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) laat vaar nie, ondanks minister van finansies, Enoch Godongwana, se oproep dat teenstanders daarvan die strydbyl moet begrawe.

Hoewel Solidariteit steeds bereid is tot gesprek en skikking, sal dit slegs moontlik wees rondom ʼn volhoubare alternatief, en nie rondom enige vorm van NGV nie.

Solidariteit het reeds vroeg in 2025 ʼn alternatiewe wetsontwerp, die Healthcare Funding Reform Bill, aan die Parlement voorgelê. Hierdie wetsontwerp dien as ʼn praktiese en regverdige alternatief vir die NGV, en is die enigste grondslag waaroor Solidariteit bereid is om verdere gesprek te voer.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan Solidariteit se Navorsingsinstituut, is daar tot dusver geen aandag aan hierdie werkbare oplossing geskenk nie, wat die jongste versoeke vir gesprekvoering oor alternatiewe verdag maak.

“Geen vorm van NGV is vir ons aanvaarbaar nie,” sê Du Buisson.

“Solank NGV die minister se uitgangspunt bly, is versoening eenvoudig nie moontlik nie. Ons alternatief is reeds op die tafel en bied ʼn realistiese pad na universele gesondheidsorg sonder om mense se bestaande voordele te ontneem.”

Solidariteit is die eerste en voorste litigant teen NGV en speel ʼn sleutelrol om te verseker dat universele gesondheidsorg op ʼn regverdige en volhoubare wyse aan alle Suid-Afrikaners beskikbaar gestel word.

Hierdie teenstand is in die belang van alle Suid-Afrikaners, aangesien gesondheidsorg, volgens Du Buisson, nie toevertrou kan word aan ʼn staat wie se bestaande openbare gesondheidstelsel reeds faal nie.

“Soos die wet tans lees, sal mediese praktisyns én pasiënte van enige reg tot keuse gestroop word en uitgelewer wees aan die besluite van burokrate,” sê Du Buisson. “Dit sal tot gevolg hê dat mense wat tans toegang tot behandeling het, aan die besluitnemers van ʼn onwerkbare NGV oorgelaat word. Dit sal menselewens in gevaar stel, en Solidariteit kan en sal nie met ʼn beleid versoen wat sulke gevolge inhou nie,” sê hy.

Die alternatief wat Solidariteit voorstel, behels dat alle werkende Suid-Afrikaners hul eie private gesondheidsdekking sal uitneem. Dit sal beduidende druk van die openbare gesondheidstelsel verlig en sodoende beter gesondheidsorg vir almal moontlik maak.

Sien die voorstel hier soos aangeheg.

“Ons uitgangspunt was nog altyd dat universele gesondheidsorg noodsaaklik is,” voeg Du Buisson by. “Maar dit mag nie ten koste van mense se huidige regte, voordele of toegang tot sorg geskied nie. Niemand mag agteruitgaan nie.”

Solidariteit beklemtoon dat hul steeds bereid is om met die minister en ander besluitnemers in gesprek te tree, soos wat tans versoek word.

“Dit het nooit verander nie,” sê Du Buisson. “In plaas daarvan om die bestaande stelsel met iets onbekostigbaar en onuitvoerbaar te vervang, behoort die werklike gebreke in die huidige stelsel reggestel te word.”

Solidariteit bly onwrikbaar verbind tot die beskerming van lewens en die afweer van die verwoestende gevolge van die NGV. Indien geen haalbare alternatief aanvaar word nie, sal die vakbond onverskrokke met litigasie voortgaan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel