Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit verwelkom verlenging van Agoa, maar SA se moontlike weglating wek kommer
Solidariteit verwelkom die Amerikaanse huis van verteenwoordigers se besluit wat Maandag geneem is om die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) te verleng. Dit moet wel ook nog deur die senaat goedgekeur word.
Hierdie verlenging is nietemin ʼn belangrike deurbraak vir talle Afrikalande wat die afgelope paar jaar beduidende voordeel uit uitvoere na die Verenigde State van Amerika (VSA) geput het.
Suid-Afrika se waarskynlike uitsluiting uit Agoa is egter ʼn groot bron van kommer vir Solidariteit. Die lys van lande wat ingevolge Agoa bevoordeel word, word deur die Withuis bepaal, en weens die huidige diplomatieke geskil tussen Suid-Afrika en die VSA, is die kanse skraal dat die Trump-administrasie Suid-Afrika daarby sal insluit.
Dit is daarom noodsaaklik dat ʼn ooreenkoms tussen die VSA en Suid-Afrika bereik word.
Solidariteit het vandag ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om die geskil met die VSA op ʼn meer verantwoordelike wyse te hanteer en op te hou om die Trump-administrasie aan te val en uit te daag. Die regering moet nou met groter wysheid optree.
Solidariteit het vandag ook ʼn formele versoek aan die Withuis gerig om Suid-Afrika, onder sekere voorwaardes, wel by die lys van Agoa se begunstigdes toe te laat. Honderde duisende gewone Suid-Afrikaners het sedert 2000 voordeel getrek uit uitvoere na die VSA wat ingevolge Agoa moontlik gemaak is.
“Dit help nie dat die VSA hierdie gewone landsburgers straf nie,” sê Jaco Kleynhans, hoof van Openbare Skakeling by Solidariteit. Hy noem verder dat “[Agoa dit juis moontlik maak] vir die VSA om sekere voorwaardes te stel wat dit vir die Suid-Afrikaanse regering noodsaaklik sal maak om vir ʼn slag in die belang van die land op te tree. Dwase diplomatieke optrede van die Suid-Afrikaanse regering het Agoa in gedrang gebring, en dit is belangrik dat daar nóú met groter wysheid opgetree word.
Onder die Afrikalande wat die Agoa-ooreenkoms op groot skaal benut het, was Suid-Afrika oor die afgelope dekades die land wat die meeste voordeel daaruit getrek het.
Agoa was veral voordelig vir uitvoere afkomstig uit die motorbedryf, yster en staal, chemikalieë en minerale, masjinerie, asook groente- en vrugteuitvoere. Ongeveer die helfte van Suid-Afrika se uitvoere na die VSA – ter waarde van R156,8 miljard in 2024 – was afkomstig uit bedrywe wat deur Agoa bevoordeel is.
Daar is vroeër bereken dat meer as ʼn halfmiljoen werkgeleenthede in Suid-Afrika regstreeks van uitvoere na die VSA afhanklik is, en dat ongeveer die helfte van hierdie werksgeleenthede op die Agoa-ooreenkoms steun.