Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Rasregulasies teenstrydig met Solidariteit-skikking én Grondwet
Die regering se konsepregulasies oor sektorale numeriese rasteikens verontagsaam die skikking wat verlede jaar met Solidariteit bereik is. In kommentaar oor die regulasies wat deur Solidariteit ingedien is, word daar duidelik uiteengesit hoe dit teenstrydig is met internasionale reg oor diskriminasie in die werkplek.
Die tydperk om kommentaar te lewer oor die regulasies wat verband hou met die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming, wat in Februarie in die Staatskoerant gepubliseer is, verstryk later vandeesweek.
Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, is die sektorale teikens eintlik blatante en rigiede kwotas wat in der waarheid deur ons Grondwet verbied word.
“Die regulasies is voortydig gepubliseer aangesien die wysigingswet nog nie deur die president in werking gestel is nie. Die groter probleem lê egter by die inhoud van hierdie regulasies. Dit verontagsaam steeds die voorskrifte van tydelikheid van regstellendeaksie-maatreëls. Dan is die teikens ook nie genuanseerd nie en dit stel verpligte rasteikens in die vooruitsig,” sê Van der Bijl.
Die skikking tussen Solidariteit en die regering, wat onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) geskied het, is in Oktober 2023 ook ʼn hofbevel gemaak.
“Hierdie regulasies moet dus strook met hierdie skikking wat sê dat ras nie die enigste faktor is wat in ag geneem mag word wanneer werknemers aangestel of afgedank word nie. Dit is tans nie die geval nie en ons sien nie dat die regulasies die behoeftes van die bedryf óf ander sosio-ekonomiese faktore in ag neem nie. Dit is eerder rigiede voorskrifte waaraan ʼn werkgewer moet voldoen, anders is boetes of ʼn verbod om besigheid met die staat te doen sy voorland,” sê Van der Bijl.
Lees Solidariteit se kommentaar oor die regulasies hier.