loading
avatar
Artikels
8 maande gelede
rassewette-die-begin-van-die-einde

Foto Krediet: OkayDeer

Rassewette – die begin van die einde

Deur Charl Oberholzer

Suid-Afrika is die mees rasgereguleerde land ter wêreld. Daar is sedert 1994 sowat 116 rassewette deur die parlement aanvaar. Die regering gaan ook volstoom voort met die skep van ʼn R100 miljard-rasfonds wat deur ʼn tipe rasbelasting deur die privaat sektor befonds moet word om ondernemings in swart besit te help. Hulle hou ook vol om die privaat sektor te wil penaliseer indien ondernemings nie saamgestel is volgens die demografie van die land nie, wat tot growwe skending van mense se regte lei.

Vir die regering is die einddoel nie dat almal gelyk moet wegspring nie, maar dat almal gelyk by die eindstreep moet kom. Maar, dit is ’n wenstreep wat diskrimineer.

’n Nuwe wending in die rassestryd kondig egter die begin van die einde aan.

Die wiel draai

Die internasionale ideologie oor die relevansie van ras, draai. Nie net wen meer konserwatiewe regerings as ooit tevore verkiesings regoor die wêreld nie, maar het die rol van die VSA ’n noemenswaardige effek. Ons is vir eens in die beste makro-omgewing wat die stryd teen rassediskriminasie betref. Die wiel draai op die beginsel van verteenwoordiging teenoor meriete. Die wiel draai oor teikens wat op minderhede geplaas word. Die wiel draai oor gemeenskappe se reg om oor hulle eie sake te besluit. Solidariteit het die momentum van die wiel benut en verseker dat die aanslag op rassewette groter is as ooit.

’n Hoop vir die einde van rassewette

Solidariteit beveg nie meer net veldslae nie, maar is besig om die oorlog te wen. Na ’n lang stryd by die Verenigde Nasies en groot plaaslike druk is daar op 28 Junie 2023 ʼn ooreenkoms oor rassewette in die werkplek, geskoei op internasionale standaarde, tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering bereik. Die regering het die ooreenkoms egter verbreek met die publisering van nuwe regulasies. Solidariteit het nou weer die geleentheid om die regering se rasbeheptheid aan die internasionale klok te hang. Waarom ’n hoop vir die einde van rassewette as die regering steeds voort stoomroller? Want die regering se planne is aan die kaak gestel en die regering se nederlae in die howe en toenemende druk van buitelandse vennote maak dit vir die eerste keer moontlik dat ’n wit vlag gehys kan word vir regstellende aksie en SEB-beleide. Boonop is daar tekens dat verligting van dié wette moontlik gemaak kan word vir buitelandse maatskappye wat in Suid-Afrika belê, wat die deur wawyd oopmaak vir ʼn stelselmatige aftakeling van die rasgedrewe stelsel van die ANC.

Ons lede weet Solidariteit is aan die voorpunt van die geveg. Binnekort gaan hulle ook die hoop sien wat geskep word soos wat die krake al hoe duideliker raak. Ons weet nie wanneer die deurbraak gaan kom nie, maar ons moet nou daarvoor begin hoop. ’n Hoop om nie net veldslae te wen nie, maar om die oorlog te wen.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel