loading
Artikels
1 jaar gelede
red-n-lewe-word-n-bloedskenker

Foto Krediet: Pexels

Red ’n lewe — word ’n bloedskenker

Elke jaar in die maand van Junie word Nasionale Bloedskenkermaand in Suid-Afrika gevier – in dié maand word vrywillige, onbesoldigde bloedskenkers bedank vir die lewensreddende bloed wat hulle skenk en word bewustheid geskep van die behoefte aan gereelde bloedskenkings om te verseker dat gehalte, veilige bloed en bloedprodukte beskikbaar is vir pasiënte wat dit benodig.

Volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) help die oortapping van bloed en bloedprodukte elke jaar om miljoene lewens te red. Bloedoortappings kan pasiënte wat aan lewensbedreigende toestande ly, help om langer te leef en ’n beter lewensgehalte te geniet. Dit maak ook ingewikkelde mediese en chirurgiese prosedures moontlik en speel ’n noodsaaklike, lewensreddende rol in moeder-en-babasorg asook mensgemaakte en natuurlike rampe.

In talle lande oorskry die aanvraag egter die aanbod, en kom bloeddienste te staan voor die uitdaging om voldoende bloed beskikbaar te stel maar steeds die gehalte en veiligheid daarvan te verseker. ’n Toereikende voorraad kan slegs verseker word danksy gereelde skenkings deur vrywillige, onbesoldigde bloedskenkers.

Waarom moet jy oorweeg om ’n bloedskenker te word?

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) is die eenvoudige antwoord omdat jy kan help om die lewens te red van pasiënte wat bloedoortappings benodig. Elke eenheid bloed wat reeds getoets en veilig vir oortapping verklaar is, word in rooibloedselle, plaatjies en plasma verdeel.

Hoe werk bloedskenking?

Wanneer jy die eerste keer bloed skenk, word jou rooibloedselle nie gebruik nie. Jou plasma word getoets vir veiligheid en word onder kwarantyn gesit totdat jy weer bloed skenk. Indien die toetsuitslae aandui dat alles veilig is wanneer jy weer bloed skenk, sal die plasma van jou eerste skenking wat onder kwarantyn was, gebruik word. Dié reëls geld ook indien jy vir ’n ruk lank nie bloed geskenk het nie. Nadat jy drie keer bloed geskenk het en jou bloed steeds veilig bevind is, sal al die komponente van jou bloed gebruik word.

Wie kan bloed skenk?

Indien jy tussen 16 en 65 jaar oud is, meer as 50 kg weeg en ’n veilige sekslewe ly, kan jy ’n kliniek besoek en as ’n bloedskenker registreer.

Vir meer inligting oor hoe om ’n bloedskenker te word, besoek die SANBD se webtuiste by www.sanbs.org.za.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel