
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Regering se finansiële wanbestuur ʼn gevaar vir onderwysposte – Solidariteit
Solidariteit is bekommerd oor die gevolge wat die besnoeiings op onderwyserposte, soos deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) aangekondig, op skole gaan hê.
Dié besnoeiings word glo deur die nasionale regering op die WKOD afgedwing en Solidariteit gaan hom daarop toespits om vir die regte en die poste van onderwysers daar te baklei.
Anlia Archer, bedryfspesialis van Solidariteit se Onderwysernetwerk, wys daarop dat die besnoeiings nie net ʼn groot bedreiging vir onderwysers se poste in die Wes-Kaap inhou nie, maar dat ander provinsies in alle waarskynlikheid binnekort dieselfde roete gaan volg.
Sy glo dit is ʼn bewys van die staat se onbevoegdheid as dit kom by begrotings- en algemene bestuur, en sê dit sal bestaande probleme in die onderwysstelsel laat uitkring.
“Hierdie besnoeiings wat nou deur die WKOD geïmplementeer moet word, het ʼn direkte impak op die belange van onderwysers en die gehalte van onderwys in die provinsie. Verder bevind ons onsself reeds in ʼn onderwyskrisis deurdat daar nie genoeg onderwysers is om in die land se behoeftes te voldoen nie, en tog word hierdie onderwysers se kontrakte nou deur die WKOD beëindig,” sê Archer.
Terwyl die departement met begrotingsake worstel, beplan die regering nog groter departementele insae in skoolsake deur middel van die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wetsontwerp) – iets wat volgens Archer nog ʼn groter las op finansies kan plaas.
“Hierdie wetgewing, indien goedgekeur, sal die staat nóg meer seggenskap gee oor die besteding van skole se finansies wat voorheen deur ʼn skool se beheerliggaam bestuur is. Met die voorgestelde Bela-wetgewing beoog die staat om graad R ook een van die verpligte grade te maak. Hoewel dit ʼn baie belangrike fase is en die bedoeling moontlik eerbaar is, is die realiteit dat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) eenvoudig nie oor die vermoë en kapasiteit beskik om nog meer onderwysers aan te stel nie,” sê sy.
Solidariteit se Onderwysernetwerk is gekant teen die Bela-wetswysigings en beskou die voorgestelde wetsontwerp as ʼn potensiële ramp vir ʼn onderwysstelsel wat reeds onder groot druk verkeer.
“Solidariteit staan vas in sy doel om te veg vir ʼn onderwysstelsel wat onderwysers ondersteun en gehalte-onderrig aan leerders bied, sowel as ʼn onderwysstelsel waarin hulpbronne verstandig aangewend word,” sê Archer.