loading
Mediaverklarings
1 maand gelede
regering-weet-self-ngv-wankel-na-uitspraak-oor-behoeftesertifikaat

Foto Krediet: Verskaf

Regering weet sélf NGV wankel ná uitspraak oor behoeftesertifikaat

Solidariteit herinner die regering aan sy eie uitsprake oor die sterk verband tussen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en artikels 36 tot 40 van die Nasionale Gesondheidswet wat nou ongrondwetlik verklaar is.
Die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, het ná eergister se hofuitspraak in die hooggeregshof ontken dat dié uitspraak die NGV-wet kwesbaar laat en het die verband met die NGV-wet ontken terwyl hy drukgroepe van die verspreiding van “toksiese propaganda” beskuldig.
Tóg is sy eie departement se woordvoerder, Foster Mohale, voorheen herhaaldelik aangehaal waar hy presies dieselfde gevolgtrekking gemaak het toe die artikels in 2022 vir die eerste keer ongeldig verklaar is.
“Die uitspraak hou ernstige implikasies vir die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in en die departement van gesondheid sal vra dat die uitspraak herroep word en die saak in die Konstitusionele Hof betwis,” het Mohale toe gesê.
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die uitspraak oor die betrokke artikels is ook deur dr. Nicholas Crisp, adjunkdirekteurgeneraal van die departement van gesondheid, as noodsaaklik vir die NGV-stelsel bestempel.
“Die jongste kommentaar is maar benoude spronge. Die departement wil baie graag gister se uitspraak as ’n aanval op minder bevoorregtes probeer uitbeeld, terwyl dit in der waarheid niks met ’n geveg tussen ryk en arm te doen het nie.
“In werklikheid word gesondheidspraktisyns se vryheid kragtens die Grondwet met hierdie uitspraak gewaarborg en beskerm. As ’n dokter na jare se opleiding self wil kan kies wáár en vir wie hy wil werk, moet dit soos enige ander persoon se beroepskeuse gerespekteer word,” sê Du Buisson.
Solidariteit glo die hofuitspraak beklemtoon hoe dié artikels teenstrydig met die waardes van die Grondwet is. Volgens regter Anthony Millar se uitspraak kom die voorskrifte in die artikels op onteiening van eiendom en dienste neer ten einde die mediese bedryf onder die vaandel van die staat in te lyf.
Du Buisson sê die minister gryp na strooihalms deur dit nou as ’n klassestryd te bestempel.
“Wat hier gebeur het, is dat die hof ’n stokkie voor die staat se poging tot magsvergrype gesteek het. Dit is onaanvaarbaar dat ’n regering sy eie grondwet so kan vertrap deur te beweer gesondheidspraktisyns het nie die reg tot sulke basiese vryhede nie. 
“Hierdie regstreekse sentralisering van menselewens is nou gekeer. Hoewel ons weet dat ’n groot stryd nog voorlê, is ons daarom verheug dat hierdie pilaar van NGV gekantel het. Ons sal voortgaan en toesien dat die ander ook in die hof tot ’n val kom,” sê Du Buisson.
Solidariteit weet ook dat mediese beroepslui sterk teen die behoeftesertifikaat én die NGV-wet gekant is, en dit is duidelik gemeet aan die groot steun wat vanuit hierdie sektor aan Solidariteit se litigasieproses toegesê is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel