

Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Regering wil fondslede beroof om NGV-plan te befonds
Solidariteit verwerp die regering se voorneme om lede van mediese fondse se belastingkrediete vir die finansiering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) aan te wend.
Planne van die departement van gesondheid en die nasionale tesourie om op hierdie wyse ʼn verdere R34 miljard vir die NGV te bekom, word tans openlik in die media deur die departement en die NGV-hoof, dr. Nicholas Crisp, bespreek.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sal hierdie stappe mediesefondslede van geld beroof wat hulle juis toekom omdat hulle nie ʼn las op die openbare gesondheidstelsel is nie. Fondslede kan hierdie geld jaarliks van die ontvanger terugeis.
Hy sê sulke aankondigings van die departement is boonop heeltemal voortydig en onbillik. Dit volg nadat die departement sélf die hof gevra het om alle regsaksie oor die grondwetlikheid van die NGV op ys te plaas, sodat die Konstitusionele Hof eers uitspraak oor ʼn ander saak kan lewer – dié oor die geldigheid van president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die NGV-wet.
“Die regering vra dus om litigasie teen die NGV te staak, maar gaan intussen self volstoom voort met beplanning daarvoor. Jy kan nie die mediesefondskrediete skrap alvorens die NGV nie geïmplementeer word nie, en jy kan nie die NGV implementeer alvorens die hof oor die geldigheid van die besluit om dit te onderteken, beslis het nie,” sê Du Buisson.
Solidariteit is reeds besig om met sy regspan te konsulteer oor die moontlikheid van afsonderlike regsaksie, of om die afskaffing van die krediete in ʼn regsgeding teen die staat se vertragingsaansoek in te sluit.
Du Buisson sê verder dat dit misleidend is van dr. Crisp om te beweer dat die krediete “dubbele befondsing” sou beteken wanneer die NGV eendag geïmplementeer word.
“Vir so lank as wat daar nie ʼn NGV is nie, word niks dubbeld befonds nie. Fondslede kry hierdie krediete omdat hulle nie ʼn las op die staat is nie. Trouens, dit is veel eerder die fondslede wat dubbeld betaal omdat hul belastinggeld aangewend word vir die beplanning van ʼn onwerkbare en onbekostigbare NGV, terwyl hulle ook al meer vir hul mediese fondse moet opdok,” sê Du Buisson.