loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
solidariteit-het-n-ooreenkoms-met-die-amerikaanse-onderneming-gesluit

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit sluit eerste ooreenkoms met VSA-onderneming om kundigheid aanlyn uit te voer

Solidariteit het ʼn ooreenkoms met die Amerikaanse onderneming, Propay Prime US, gesluit om veral IT-vaardighede aanlyn uit te voer.

Dit is een van verskeie soortgelyke ooreenkomste wat Solidariteit tans in die Verenigde State van Amerika (VSA) beding.

Volgens Solidariteit word daar beplan om ʼn volledige sektor te vestig wat mense se vaardighede na die VSA uitvoer terwyl hulle steeds in Suid-Afrika bly. 

Die ooreenkoms met Propay Prime US is ʼn suksesvolle mikrohandelsooreenkoms. Terwyl die Suid-Afrikaanse regering nie daarin slaag om ʼn handelsooreenkoms met die VSA-regering te sluit nie, fokus Solidariteit daarop om op ondernemingsvlak ooreenkomste te vestig. 

Daar is geen beperking op hierdie vlak nie. Solidariteit beplan om hierdie ooreenkoms uit te brei na die finansiële sektor, aanlyn onderwys, kommunikasie en ontwerp, ingenieurswese, beplanning, projekbestuur, administrasie en vele meer. 

“Die inligtingsrewolusie het onbeperkte potensiaal geskep. Ons gaan in die volgende vyf jaar duisende poste vir mense skep wat hul vaardighede sonder mal rasvereistes kan uitvoer,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê. 

Volgens Peter Wesseloo, besturende direkteur van Propay Prime US, gaan hulle ʼn ongelooflike aantal geleenthede uit die VSA na Suid-Afrikaners bring. Hy sê hulle weet Solidariteit-lede het ʼn goeie werketiek wat in die VSA benodig word. Hy glo die ooreenkoms gaan ʼn reuseverskil vir mense in Suid-Afrika maak, maar ook in die VSA. 

Solidariteit het reeds ʼn aanlyn platform ontwikkel wat werkgewers en werknemers sonder enige rasvereistes bymekaar bring. Solidariteit beplan ook om eersdaags ʼn aankondiging te maak oor ʼn personeelagentskap wat die fasilitering van vaardighede na die buiteland na ʼn nuwe vlak gaan neem. 

“Ons is ongelooflik opgewonde hieroor. Die moontlikhede is onbeperk. Ons wil hê mense moet in rande leef en in dollars verdien. Ons wil hê hulle moet vir die Yankees werk, maar vir die Bokke skree. Ons wil hê hulle moet in die week in New York werk, maar steeds Vrydag die pad bos toe kan vat. Nuwe tegnologie ontsluit nuwe moontlikhede, en geen regering of raswet kan dit keer nie,” het Hermann gesê.

Die Solidariteit-afvaardiging, onder leiding van Jaco Kleynhans, bevind hom tans in Texas waar verdere ooreenkomste met ondernemings onderhandel word.

Klik hier vir videokommentaar van Hermann, Wesseloo en Kleynhans.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel