Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
2 weke gelede
solidariteit-vra-trump-vir-uitvoerende-bevel-om-tariefverligting-te-bring

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit vra Trump vir uitvoerende bevel om tariefverligting te bring

Solidariteit het vandag in die Withuis gevra dat president Trump ’n uitvoerende bevel onderteken om tariefverligting vir sekere sektore in Suid-Afrika te bring hangende die finalisering van ’n handelsooreenkoms tussen die twee lande. Die sleutelbedrywe wat Solidariteit voorstel, is die motorbedryf, landbou, tekstiel en mynbou.

Solidariteit se versoek kom te midde van ’n gespanne verhouding tussen die twee lande en slegs sowat ’n week voor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA) verval.

Solidariteit se voorstel volg nadat president Trump die afgelope tyd ’n bereidwilligheid getoon het om dieselfde soort verligting aan ander lande te bied. Hy het onder andere aan die begin van September ’n uitvoerende bevel onderteken waarvolgens invoertariewe op Japannese motors vanaf 27,5% tot 15% verlaag is. Solidariteit het die Withuis vir ’n soortgelyke bevel gevra om tariewe op sommige Suid-Afrikaanse uitvoere tot 15% te verlaag, wat dit steeds mededingend met die produkte van ander lande sal maak.

Intussen versoek Solidariteit die Amerikaanse regering om steeds druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om die nodige politieke voorwaardes gereed te kry vir ’n finale langtermynooreenkoms.

Solidariteit vra ook dat diegene wat vir die verbrokkelende verhouding tussen die twee lande verantwoordelik is, gestraf moet word eerder as gewone mense wat werk.

Volgens Solidariteit kan so ’n uitvoerende bevel maklik geïmplementeer word. Die voorgestelde bedrywe is reeds binne die AGOA-ooreenkoms. Omdat AGOA reeds die administratiewe werk rakende spesifieke tariefkodes gedoen het, kan die uitvoerende bevel sonder groot administratiewe aanpassings geïmplementeer word.

’n Uitvoerende bevel soos dié is binne die Trump-administrasie se beleid van handel eerder as hulp.

Solidariteit het ook ’n voorgestelde handelsraamwerk met die verteenwoordigers by die Withuis bespreek. Die voorgestelde handelsraamwerk is reeds op 1 Augustus aan presidente Trump en Ramaphosa gestuur. Die raamwerk dek die politieke voorwaardes vir ’n ooreenkoms en maak voorstelle oor hoe ’n handelsooreenkoms kan lyk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel