Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Registreer, of Sterf Onder Papierwerk: Die Staat Se Oorlog Teen Jóú Beursie
Deur: PG du Plessis CA(SA)
Jy ken die gevoel. Dis maandeinde, op ʼn Vrydagoggend. Die loonstate moet verwerk word, die biltong hang en Saterdag se braai is reeds beplan. Maar voor jy enigiets anders kan doen, is daar ʼn SAID-kennisgewing, ʼn WVF-probleem en ʼn e-pos van jou boekhouer wat sê die COIDA-stelsel is – wel – weer af.
Welkom by die lewe van die Suid-Afrikaanse kleinsake-eienaar, die 2026 weergawe.
Kom ons kyk ʼn bietjie na hierdie skouspel en die bedrywe wat jou raak.
SAID: Die skroewe word gedraai – met albei hande
Vanaf hierdie jaar kan jy nie meer jou LBS- (lopende betaalstelsel) rekonsiliasies indien sonder ʼn geldige inkomstebelastingverwysingsnommer vir elke werknemer op jou loonlys nie. Dit klink redelik, reg?
Hier is die probleem: minder as 70% van Suid-Afrikaanse werknemers het tans geregistreerde belastingnommers. As jy Piet en Frikkie seisoenaal aanstel om pale te plant, is die kanse goed dat hulle nog nooit naby ʼn SAID-kantoor was nie. Dis nou jou probleem – die wettige werkgewer.
Voorheen het e@syFile™ slegs ʼn waarskuwing gegee, wat jou tyd gegee het om die saak reg te stel. Daardie grasietydperk is verby. As die syfers nie klop nie, word die rekonsiliasie summier verwerp, en boetes volg.
En dan, asof dit nie genoeg is nie wil die SAID ook jou gesig hê, en dis beslis nie vir die familie-album nie. Sedert November 2024 vereis nuwe eFiling-registrasies vir sekere belastingpligtiges ʼn gesigsherkenningskandering via ʼn selfoon. Dit vereis ʼn geskikte agtergrond, geen hoed en jou gesig mooi in die middel van die skerm – asof ons in ʼn perfekte wêreld woon. Mense sonder die nodige tegnologie moet ʼn SAID-kantoor besoek en in ʼn tou staan; daai is weer ʼn gesprek op sy eie.
Hoekom die biometrie? Want misdadigers kaap eFiling-profiele, herlei terugbetalings na bedrieglike bankrekeninge en laat wettige belastingbetalers letterlik en figuurlik in die koue staan. Die kantoor van die belastingombud (OTO) het selfs bevind dat die SAID se sekuriteitstelsels met “ernstige gemak” omseil word.
Sien jy die ironie? Jy, die wettige sake-eienaar, moet selfies stuur, terwyl die skelms steeds maniere vind om die stelsel te omseil.
In die eerste bedryf het die skouspel behoorlik vir springmielies gesorg. Maar die tweede bedryf, nee kyk, hier is ʼn glasie wynsap betrokke.
WVF: Ses weke vanlyn, ʼn hofbevel en ʼn ‘deurbraak’ wat nooit kom nie
As die SAID die dramatiese protagonis van hierdie verhaal is, is die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se uFiling-stelsel die tragiese komediant.
Op 23 Augustus 2024 het waarnemende regter Richard Mkhabela ʼn tussentydse interdik toegestaan wat ʼn nuwe diensverskaffer, AfriNova Digital, verbied het om dienste vir die WVF- aanlyn portaal te lewer. Sedertdien is die WVF se aanlyn platforms – insluitend uFiling, USSD, Virtual Office en die WVF Covid-19 TERS-stelsels – gevries.
En ongeag wat my skoonma mag dink, kan nie alles in ʼn mikrogolfoond gered word nie.
Ses weke. Dis hoe lank die staat se aanlyn stelsel vir WVF-inskrywings en -eise gevries was weens ʼn kontrakgeskil tussen twee IT-diensverskaffers oor ʼn tenderproses. Dalk nie besonder kreatiewe innovasie nie, maar dit bly deel van die 2026-skouspel.
Cosatu het werkgewers vertel: “Maatskappye is nou gevra om UI-19-vorms vir elkeen van hul werknemers per e-pos te stuur, wat tot ʼn geweldige hoeveelheid papierwerk lei. Alternatiewelik kan werkgewers die naaste WVF-kantoor besoek, aansluit by die lang rye wat uit die gebou spoel en hoop hulle maak dit tot binne die gebou voordat hulle afgesny word en gesê word om die volgende dag terug te kom.”
Cosatu het die rye beskryf as “soos verkiesingsdag”. Dit was nie ʼn kompliment nie, al is 27 April net om die draai.
Die WVF-woordvoerder het beloof dat ʼn “deurbraak” bereik is en dat ʼn aankondiging “binnekort” gemaak sou word. Maande later, in Januarie 2026, het die veronderstelde herstel van die stelsel, volgens NEASA, nie in ʼn praktiese werklikheid ontaard nie – eise wat via uFiling ingedien is, bereik slegs die aanvanklike erkenningsfase, met noodsaaklike opvolgstappe soos die oplaai van dokumente vir ouerskapsverlof-, siekteverlof- en werkloosheidseise, steeds ontoeganklik.
Kom ek kleur die probleem in, soos ʼn vierjarige met trots op die kombuiskaste sou doen: Die stelsel ontmoedig nakoming onder andersins wetsgetroue burgers wat die regte ding wil doen.
Verstaan julle nou die nodigheid van die wynsappies?
Dit bring ons, ietwat tranerig, by die derde bedryf.
COIDA: Die stelsel wat nooit die mas opkom nie
Die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (COIDA) word deur die Vergoedingsfonds geadministreer. Die Vergoedingsfonds is die stille kantlynspeler wat ʼn bietjie minder publisiteit as die SAID en die WVF ontvang, maar tog sy eie duidelike bydrae lewer tot die frustrasies van kleinsake-eienaars.
In 2024 het die Vergoedingsfonds ʼn kennisgewing uitgereik wat vertragings in sy voorbereiding vir die Opgawe van Verdienste (ROE)-belastingseisoen aangedui het en dat die stelsel tot 10 April 2025 gesluit sou bly. Hierdie datum is toe uitgestel na 11 April en weer na 30 April 2025. Teen Mei het hoë volumes die doeltreffendheid van die ROE-stelsel beïnvloed, wat verdere uitbreidings genoodsaak het.
Dis nie ʼn eenmalige voorval nie. Die COIDA-stelsel sluit gereeld af tydens die einste tydperk wanneer werkgewers wetlik verplig is om hul opgawes in te dien.
Die ironie is duidelik: Werkgewers word blootgestel aan boetes vir die nienakoming van ʼn stelsel wat nie by sy eie skedule kan hou nie.
Dit bring ons tot die onthulling, met ʼn gepaste illustrasie.
‘Pirate Bay’: Mense wil voldoen – as voldoening iets werd is
Nou beweeg ons ʼn bietjie verder van die belastingkantoor af, na die digitale wêreld – waar ons iets baie interessant oor menslike nakoming waarneem.
Vir dié wat wonder oor wat Pirate Bay is, dis nie ʼn sepie op die kassie nie. Dis ʼn digitale platform wat gebruik word om, kortom, onregmatige toegang tot onder meer reekse en films te verkry. Indien jy nie met Pirate Bay vertroud is nie, sal jou tiener jou dalk meer kan vertel – maar wees gewaarsku, dis ook ʼn Pandora-kissie wat liefs nie oopgemaak moet word nie.
Voor Netflix was digitale seerowery enorm. Pirate Bay was die internet se biblioteek. Toe Netflix in 2010 op die toneel verskyn het – met een platform, ʼn redelike prys en maklike toegang – het digitale seerowery skerp afgeneem. Mense wou die wet nakom en hierdie stelsel het dit moontlik gemaak.
Toe het die fragmentasie begin: Disney+, Max, Paramount+, Peacock, Apple TV+. Elke produksiegroep met sy eie eksklusiewe platform, aanmeldbesonderhede en intekengeld. Teen 2024 het besoeke aan seerowery-webtuistes tot 216,3 miljard gestyg – hoër as voor Netflix bestaan het.
ʼn Akademiese studie het hierdie effek netjies gekwantifiseer: Die verwydering van films van Netflix na ʼn ander platform het gelei tot ʼn 20%-toename in digitale seerowery relatief tot films wat op Netflix gebly het.
Die alternatief wat digitale seerowery bied? Een webtuiste. Een soekbalk. Een stroom. Hoë definisie. Die seerowerservaring is nie net “gratis” nie – dis saamgevoeg.
Waarop dui die bogenoemde? Wanneer nakoming eenvoudig, toeganklik en duidelik waarde toevoeg, – is mense geneig om te voldoen. Wanneer nakoming ʼn doolhof van gefragmenteerde stelsels, teenstrydige vereistes en onbetroubare toegang word, sê mense “nee dankie” en gaan gooi eerder ʼn dop.
Die analogie met staatsdepartemente is nie toevallig nie; ook nie die verwysing na seerowery nie.
En hier lê die kinkel in die tragedie.
Die kernwaarheid: Registrasies keer nie bedrog nie
Hier is die vraag wat niemand hardop vra nie: Is al hierdie ingewikkelde registrasievereistes werklik doeltreffend om bedrog te voorkom?
Kom ons kyk na die WVF as ʼn gevallestudie. Die Vergoedingsfonds het miljoene wettige werkgewers en werknemers geregistreer. En tog is die WVF-kommissaris Teboho Maruping in September 2024 oor korrupsie-aanklagte geskors.
Die bedrog vind nie by die registrasiekantoor plaas nie. Dit vind stroomaf plaas – tydens eise, betalings, kontraktoekennings en selfs op die vlak van die kommissaris.
ʼn Soortgelyke patroon is duidelik by die SAID. Die biometriese vereistes is ingestel weens profielkaping deur middel van phishing en sosiale ingenieursaanvalle. Die OTO het bevind dat die SAID se interne stelsels kwesbaar is – nie die registrasieproses nie. Selfies en gesigsherkenning spreek nie hierdie fundamentele interne kwesbaarhede aan nie.
In die praktyk bly die gewetenlose sake-eienaar – die een wat WVF-bydraes aftrek sonder om dit oor te betaal, werknemers sonder kontrakte aanstel en hoofsaaklik in kontant handel dryf –steeds die stelsel met gemak ontduik. In teenstelling hiermee bestee die wettige kleinsake-eienaar met vyf werknemers twee dae aan administratiewe take om te verseker dat al vyf geregistreer is, dat hul besonderhede korrek is, dat hul bydraes op datum is, die biometriese kontroles voltooi is en dat die stelsel nie toevallig aflyn is wanneer die sperdatum aanbreek nie.
Die wagtyd, koste en frustrasie word byna uitsluitlik deur wettige ondernemings gedra.
Maar wat sou ʼn goeie Samaritaan op hierdie stadium vra?
Wat kan gedoen word?
Dit sou oneerlik wees om voor te gee dat komplekse stelsels maklik is. Bedrog is ʼn werklike probleem. Belastingontduiking is ʼn werklike probleem. Die verantwoordelikhede van die SAID, die WVF, en die Vergoedingsfonds moenie ligtelik opgeneem word nie.
Die maatstaf vir sukses moet egter verander.
Die boodskap van die seerowery-Netflix-voorbeeld is duidelik:
Mense is meer geneig om regulasies na te kom wanneer nakoming waarde toevoeg en deelname nie onmoontlik of onnodig moeilik maak nie.
Ondersoeke deur NEASA, COSATU, die OTO, en talle kommentators wys almal op dieselfde patroon: nie onwilligheid van werkgewers nie, maar stelsels wat aktief nakoming verhinder.
Praktiese aanbevelings is nie ingewikkeld nie:
- • Staatstelsels wat wetlike nakoming vereis, moet ʼn diensvlakverbintenis hê, met boetes vir aanlyn stelsels wat tydens kritieke periodes en vóór belangrike sperdatums vanlyn is.
- • Nuwe vereistes, soos verpligte inkomstebelastingverwysingsnommers, moet vergesel word van staatsondersteunde massaregistrasieprojekte, eerder as om werkgewers uitsluitlik daarvoor verantwoordelik te hou.
- • Die fokus van afdwinging moet skuif van registrasievereistes na eise-monitering – want dis waar die geld verloor word.
Dit bring ons tot die laaste gordyn.
Die kleinsake-eienaar het nie die luuksheid van ʼn nakomingsafdeling nie. Hy het dié luuksheid dalk een dag per week – as hy gelukkig is. Elke nuwe regulasie, elke stelselafsluiting, elke nuwe selfie-vereiste kos hom ure wat hy nie het nie.
Miskien sal die staat eendag begin besef dat ʼn werkgewer wat nakoming nastreef ʼn bondgenoot is, nie ʼn teiken nie.
Intussen is my glas leeg, my ys gesmelt en selfs die kat het ʼn nuwe houding ingeneem. Want op ʼn Vrydagaand sit ek en worstel met ʼn vorm wat moet in, ʼn stelsel met meer foutboodskappe as my geduld, en die stille wete dat dit skouspel 2026 is, en die jaar het skaars begin.