Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Riglyne vir werkgewers: Hoe om ʼn suksesvolle onderhoud te voer
As werkgewer is jy ʼn talentbestuurder. Jy het die verantwoordelikheid om nie net die beste talent te werf nie, maar ook om die koste van werknemeromset af te bestuur. Dit neem gemiddeld 40 tot 60 dae om ʼn posisie te vul, en dan nog drie tot ses maande om nuwe werknemers suksesvol aan boord te kry. Dit kos jou ʼn groot klomp geld en heelwat moeite om die regte aanstelling te maak, en ons wil jou daarmee help. Hierdie gids is spesiaal vir jou geskep om jou besigheid met hierdie belangrike proses te help.
Die sukses van ʼn onderhoud lê in die voorbereiding en uitvoering daarvan. Hier is vyf sleutelaspekte wat werkgewers moet oorweeg om ʼn doeltreffende en suksesvolle onderhoud te verseker.
1. Voorbereiding voor die onderhoud
Voorbereiding is die hoeksteen van ʼn suksesvolle onderhoud. Dit sluit die volgende in:
- • Lees die kandidaat se CV deeglik deur: Die gemiddelde tyd wat werkgewers daaraan bestee om ʼn CV te evalueer, is vyf tot sewe sekondes. Gebruik jou tyd om die kandidaat se CV en dekbrief noukeurig deur te lees, gaan sy of haar LinkedIn-profiel na en identifiseer belangrike punte wat jy tydens die onderhoud wil bespreek.
- • Duidelikheid oor die posisie: Wees duidelik oor die vereistes en verantwoordelikhede verbonde aan die posisie. Stel ʼn lys op van die noodsaaklike en wenslike kwalifikasies en vaardighede wat jy van ʼn kandidaat verlang.
- • Vrae vir die onderhoud: Ontwikkel ʼn stel vrae wat spesifiek gerig is op die posisie en die kandidaat se agtergrond. Dit moet insluit vrae oor tegniese vaardighede, ervaring, en gedragsvrae om die kandidaat se probleemoplossingsvermoëns te toets.
- • Tydsbestuur: Reël voldoende tyd vir die onderhoud en maak seker dat daar geen onderbrekings sal wees nie.
2. Skep ʼn positiewe eerste indruk
Die eerste paar minute van ʼn onderhoud is deurslaggewend vir jou as werkgewer. Elke onderhoud is ʼn interaksie met jou handelsnaam en omrede jy altyd die beste kandidaat wil aanstel, moet jy jouself ook so posisioneer. Skep ʼn positiewe indruk deur:
- • Professionaliteit: Ontmoet die kandidaat betyds en wees volgens jou maatskappykultuur aangetrek. Indien julle ʼn gemaklike werksomgewing het, trek dan so aan.
- • Verwelkomende atmosfeer: Verwelkom die kandidaat hartlik en stel hom of haar op hul gemak. Bied water of koffie aan en neem ʼn vriendelike houding aan.
- • Bekendstelling: Stel jouself voor en gee ʼn kort oorsig van wat die onderhoudsproses gaan behels. Dit help om die kandidaat op sy of haar gemak te stel deur te weet wat om van die onderhoud te verwag.
3. Aktiewe luister en ʼn vraegesprek
ʼn Onderhoud moet ʼn tweerigtinggesprek wees. Alhoewel onderhoude sowat 40 minute duur, het navorsing getoon dat bestuurders dikwels binne net 90 sekondes weet of die kandidaat geskik gaan wees, of nie. Om seker te maak dat jy nie dalk té haastig oordeel nie, is aktiewe luister belangrik om die kandidaat se antwoorde regtig te verstaan en te evalueer:
- • Oogkontak: Handhaaf goeie oogkontak om belangstelling en aandag te toon.
- • Luistervaardighede: Luister aandagtig na die kandidaat se antwoorde en moedig hulle aan om verder uit te brei waar nodig. Gebruik sinne soos: “Vertel ons meer; Brei asseblief verder uit” ensovoorts.
- • Interaktiewe vrae: Vra opvolgvrae gebaseer op die kandidaat se antwoorde om ʼn beter begrip van hul ervarings en denke te kry.
4. Beoordeling van vaardighede en kultuurpassing
Talentbestuursagteware raak al hoe gewilder en hou heelwat voordele in. Dié programme diskwalifiseer dikwels 50% van alle aansoeke gebaseer op kernvaardighede en kwalifikasies. Bevestig vooraf of daar enige buigsaamheid in die verband is voordat die program dalk van jou beste kandidate uitgooi. Beoordeel verder of die kandidaat die regte vaardighede het en by die maatskappy se kultuur sal inpas:
- • Tegniese toetse: Waar toepaslik, maak gebruik van praktiese toetse om die kandidaat se tegniese vermoëns te evalueer.
- • Gedragsvrae: Vra vrae wat die kandidaat se benadering tot werk en samewerking openbaar, soos “Vertel my van ʼn tyd toe jy met ʼn moeilike spanlid moes saamwerk.”
- • Kultuurpassing: Bepaal of die kandidaat se waardes en persoonlikheid by die maatskappy se kultuur pas. Dit kan deur vrae soos “Hoe hanteer jy werkdruk?” of “Wat motiveer jou?” gebeur.
5. Sluit die onderhoud af met duidelikheid
ʼn Duidelike en professionele afsluiting van die onderhoud is noodsaaklik:
- • Die volgende stappe: Lig die kandidaat in oor die volgende stappe in die aanstellingsproses en wanneer hulle kan verwag om van jou te hoor.
- • Vrae van die kandidaat: Gee die kandidaat geleentheid om vrae te vra. Dit toon respek vir hul tyd en belangstelling.
- • Afsluiting: Bedank die kandidaat vir sy of haar tyd en belangstelling in die posisie. Sluit die onderhoud op ʼn positiewe noot af.
ʼn Suksesvolle onderhoud vereis noukeurige voorbereiding, ʼn positiewe eerste indruk, aktiewe luister, deeglike evaluering van vaardighede en kultuurpassing, en ʼn duidelike afsluiting. Deur hierdie vyf aspekte in gedagte te hou, kan jy as werkgewer verseker dat jy die beste kandidate identifiseer en aanstel, wat bydra tot die langtermynsukses van jou maatskappy.