loading
Artikels
9 maande gelede
rne-werp-dit-vrugte-af-of-wys-die-krake

Foto Krediet: Verskaf

RNE: Werp dit vrugte af, of wys die krake?

Deur Nico Strydom

Is Suid-Afrika se regering van nasionale eenheid (RNE) besig om vrugte af te werp of begin die krake wys?

Dit is al amper drie maande sedert die aankondiging gekom het dat Suid-Afrika ʼn regering van nasionale eenheid kry nadat die ANC nie ʼn volstrekte meerderheid in die verkiesing kon bereik nie.

Cyril Ramaphosa is op 14 Junie weer tot president verkies met steun van die DA, IVP en PA nadat die partye ooreengekom het om ʼn RNE te vorm. Nog partye het hierna by die RNE aangesluit wat nou uit tien partye bestaan, met oudpres. Jacob Zuma se MK-party wat die amptelike opposisie is.

Ramaphosa het op 30 Junie sy kabinet van 75 lede – 32 ministers en 43 adjunkministers – aangekondig. Talle DA-lede het ministers- en adjunkministersposte gekry terwyl die IVP, VF Plus, PA, Good en PAC ook kabinetposte gekry het.

Werkskepping en inklusiewe ekonomiese groei, asook kwessies rondom water en elektrisiteit, is as prioriteite vir die sewende administrasie geïdentifiseer.

‘RNE begin vroeë vrugte wys’ 

Dr. Theuns Eloff, ʼn onafhanklike kommentator, skryf in ʼn artikel op Netwerk24 daar was reeds tekens van effektiewe administrasie en goeie bestuur met talle ministers wat ingrypende besluite geneem het, en ander wat dadelik met belanghebbendes en rolspelers vergader het om kwessies en uitdagings op die tafel te sit en met oplossings vorendag te kom.

Eloff meen die RNE het veranderinge meegebring in die vorm van die nuwe ministers (en ook van die voriges) wat regtig opnuut na hul departemente kyk en veranderinge begin aanbring – iets wat volgens hom nie voorheen gebeur het nie.

Pres. Cyril Ramaphosa skryf in sy jongste nuusbrief dat daar ʼn “bries van optimisme” in die land waai en dat die suksesvolle vorming van die RNE ʼn positiewe invloed op sakevertroue gehad het. Hy meen daar kan ʼn groeiende vertroue onder beleggers, ondernemings en burgers oor die vooruitsigte vir die ekonomie waargeneem word.

Intussen word daar ook groot gewag gemaak van hernude samewerking tussen die regering en die privaat sektor. Ramaphosa het gesê die regering wil samewerking met die privaat sektor uitbrei om kritieke kwessies in Suid-Afrika aan te pak. Dit sluit in pogings om die energiesektor te stabiliseer, die prestasie van die land se spoor- en hawestelsel te verbeter, en om die stryd teen misdaad en korrupsie te versterk.

Begin die krake wys?

Eloff skryf in die artikel op Netwerk24, een van die bekommernisse oor die RNE is dat die vennote ideologies te ver van mekaar af is en of daar werklik enige beleidsveranderinge of nuwe beleid kan wees aangesien voldoende konsensus hiervoor benodig word.

Twee van die kwessies waaroor daar nie konsensus binne die RNE is nie, is die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die ewe omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela). Die DA is gekant teen Bela en sy lid, Siviwe Gwarube, is nou die minister van basiese onderwys. Sy het reeds aangedui dat sy Ramaphosa gaan versoek om dié wetsontwerp terug te verwys na die Nasionale Vergadering (NV). John Steenhuisen, DA-leier en minister van landbou, het vroeër gesê daar sal gesprekke oor die omstrede stukke wetgewing plaasvind.

Daar word intussen ook bespiegel of die RNE die hele termyn van vyf jaar sal duur. Daar is in 2026 ʼn munisipale verkiesing en die ANC se verkiesingskonferensie is in 2027 en dan kom Ramaphosa se tweede termyn as ANC-leier tot ʼn einde.

Ten spyte van die probleme, is dit steeds seker dat die land egter nie ʼn ander keuse as die RNE het nie, skryf dr. Eloff in ʼn artikel op Maroela Media.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel