Fotokrediet: Pexels
Gekopieër
SA dalk voor Kersfees uit Agoa
Solidariteit sê die moontlikheid dat Suid-Afrika voor Kersfees uit Agoa geskop kan word, raak tans daagliks groter.
Die Withuis hersien tans die lys van deelnemende lande, en ʼn aankondiging word na verwagting teen 1 November 2026 gemaak. Vrese oor Suid-Afrika se deelname het die afgelope week verdiep namate die diplomatieke geskil tussen Suid-Afrika en die Verenigde State van Amerika (VSA) vererger het.
Uitsprake deur minister Ronald Lamola tydens sy besoek aan die VSA, asook die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) se besluit gister om die Amerikaanse ambassadeur vir ʼn diplomatieke teregwysing in te roep, skep nou die nodige ruimte vir die VSA om Suid-Afrika as deelnemende land te verwyder.
Volgens Solidariteit kan dit tot 250 000 poste raak wat gedeeltelik of ten volle van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) afhanklik is. Meer as 500 000 poste in Suid-Afrika is van Amerikaanse handel afhanklik.
Solidariteit sê hy is uiters bekommerd dat die beëindiging van Suid-Afrika se deelname aan Agoa nou deel van die VSA se eskalerende optrede teen Suid-Afrika kan wees. Uitsluiting uit Agoa is ʼn vinnige en duidelike strafmaatreël wat binne weke aangekondig kan word.
Solidariteit beskou die situasie as ernstig genoeg om dit as ʼn noodtoestand te behandel en doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering om gesprekke en onderhandelinge met die Amerikaanse regering te hervat, met die doel om voor 1 November ʼn ooreenkoms te bereik.
Solidariteit is steeds oortuig dat die twee lande mekaar kan vind, maar meen dat Dirco se optrede toenemend as vyandig in Washington beskou word.
Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, is die VSA een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote. Enige versteuring van handel tussen die twee lande kan groot indirekte gevolge vir bedrywe en werkers regdeur die land inhou.
“Die Suid-Afrikaanse regering het vier weke oor om te keer dat die land nie uit Agoa geskop word nie. Suid-Afrika se diplomatieke houding teenoor die VSA is roekeloos. Die onlangse uitsprake van minister Lamola was weer ʼn bevestiging daarvan.
“Net so ook sy onvermoë om tydens sy Amerikaanse besoek oplossings vir die diplomatieke geskil te probeer vind, maar eerder deur selektiewe ontmoetings in Washington en New York die indruk te skep dat Suid-Afrika hom juis by opponente van die Trump-administrasie skaar.
“Minister Lamola het waarskynlik die laaste spyker in Suid-Afrika se Agoa-doodskis geslaan. Ons deelname aan Agoa hang aan ʼn draadjie, maar oplossings is nog moontlik,” sê Hermann.
Agoa gee aan lande suid van die Sahara belastingvrye voordele vir die uitvoer van sekere produkte. Daar is bepaalde vereistes vir deelname. Dit sluit onder meer vrye handel, die handhawing van die regstaat, goeie arbeidspraktyke en die vereiste in dat deelnemende lande nie Amerikaanse buitelandse- en veiligheidsbelange moet bedreig nie.
“In Solidariteit se gesprekke met die Amerikaanse regering dui hulle aan dat rassewette ʼn ernstige handelsbeperking op Amerikaanse ondernemings plaas en dat dit nie as ʼn aanvaarbare arbeidspraktyk beskou word nie.
“Daar is ook ernstige kommer oor Suid-Afrika se buitelandse beleid, wat deur die Amerikaners as vyandig beskou word.
“Die Suid-Afrikaanse regering se binne- en buitelandse beleid bedreig nie net ons deelname aan Agoa nie, maar ook honderdduisende mense se werk en ses keer soveel afhanklikes se inkomste,” het Hermann gesê.