Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
7 uur gelede
solidariteit-waarsku-staatsondernemings-munisipaliteite-oor-rastenders-na-uitspraak

Fotokrediet: OkayDeer

Solidariteit waarsku staatsondernemings, munisipaliteite oor rastenders ná uitspraak

Solidariteit het verskeie ondernemings in staatsbesit asook munisipaliteite skriftelik gewaarsku om nie die voorskrifte van die ongeldig verklaarde Openbare Verkrygingswet se voorskrifte in hul tenderprosesse toe te pas nie.

Dit volg op Solidariteit se onlangse oorwinning in die Konstitusionele Hof, waarin die hof beslis het dat die wet onregmatig in plek gestel is.

Die uitspraak beteken dat staatsaankope steeds ingevolge die 2022-verkrygingsregulasies moet geskied. Staatsinstellings mag dus nie voortgaan om voorskrifte ingevolge die geskrapte wet toe te pas wanneer hulle besluit by wie hulle goedere en dienste met belastingbetalers se geld verkry nie.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), moet die uitspraak nou ook in die praktyk toegepas word en daarom is staatsondernemings en munisipaliteite daaroor gewaarsku.

“Dit help nie die wet word in die hof tersyde gestel, maar staatsinstellings gaan nou voort asof niks gebeur het nie. Die rassevereistes wat daarmee gepaardgaan, mag nie bloot deur die agterdeur terugkeer nie.

“Dit beteken byvoorbeeld dat dele van tenders en kontrakte nie vir sakelui van ʼn spesifieke ras, geslag of vlak van gestremdheid gereserveer mag word nie. Die ras van ʼn onderneming se eienaars mag ook nie tot onmiddellike uitsluiting uit ʼn tenderproses lei nie,” sê Du Buisson.

Solidariteit het die skrywe aan verskeie rolspelers gerig om seker te maak dat hulle van die uitspraak en die gevolge bewus is.

Volgens Du Buisson is die betrokke instellings nou skriftelik op die regsposisie gewys en kan hulle nie later aanvoer dat hulle nie daarvan bewus was nie.

Hy meen verder dat die uitspraak ook aan die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) ʼn geleentheid bied om staatsaankope vir die toekoms op ʼn beter grondslag te plaas.

“Die 2022-regulasies is nie perfek nie, maar dit is steeds aansienlik beter as die voorskrifte ingevolge die wet wat pas geskrap is. Die RNE moet nou werk maak van ʼn nuwe wet wat Suid-Afrikaners se belange eerste stel.

“Wanneer ʼn munisipaliteit ʼn waterpyp laat herstel, ʼn pad laat bou of toerusting aankoop, moet die vraag wees wie die werk behoorlik en teen die beste waarde kan doen. Belastingbetalers se geld moet beter dienste koop, nie ʼn rasagenda bevorder nie,” sluit Du Buisson af.

Solidariteit sal voortgaan om hom te beywer vir ʼn rasvrye Suid-Afrika waar ras ook nie bepaal wie met die staat mag sake doen nie.

Sien Solidariteit se skrywe aan ondernemings in staatsbesit en munisipaliteite hier aangeheg.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel