loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
solidariteit-hou-wakende-oog-oor-sasol-se-beoogde-verkoop-van-nitraatbesigheid

Fotokrediet: Verskaf

Solidariteit hou wakende oog oor Sasol se beoogde verkoop van nitraatbesigheid

Robin-Lee Maré

Solidariteit sal die beoogde verkoop van Sasol se nitraatbesigheid aan Enaex Africa noukeurig monitor om seker te maak dat werknemers se regte en diensvoorwaardes gedurende die oorgangsproses beskerm word.

Die voorgenome transaksie, bekend as Project Condor, vorm deel van Sasol se portefeulje-optimaliseringstrategie. Volgens die projekdokumentasie is die doel om die nitraatbesigheid onder die eienaarskap van ʼn onderneming te plaas waarvoor dié bedrywighede ʼn strategiese kernbesigheid is. Werknemers in Sandton, Secunda en Sasolburg word deur die voorgenome transaksie geraak. Die verkoop is steeds onderhewig aan regulatoriese en ander goedkeurings.

“Solidariteit se belangrikste prioriteit is die werknemers wat deur hierdie proses geraak word. ʼn Verandering in eienaarskap skep vanselfsprekend vrae en onsekerheid onder personeel. Ons betrokkenheid is daarop gerig om werknemers se regte te beskerm en seker te maak die proses verloop binne die bepalings van arbeidswetgewing,” sê Gerhard Cloete, sektorkoördineerder van Mynbou en Chemie by Solidariteit.

Sasol en Enaex se vennootskap strek reeds etlike jare terug. Sasol het in Junie 2020 51% van sy stroomafplofstofbesigheid aan Enaex Suid-Afrika verkoop, waarna Enaex verantwoordelikheid vir die bestuur en operasionele beheer van die Secunda-plofstofaanlegte aanvaar het. Sasol het egter beheer oor onder meer sy salpetersuur- en ammoniumnitraatoplossingsaanlegte in Secunda en Sasolburg behou.

Die huidige Project Condor-transaksie sal dié verhouding verder uitbrei. Volgens die voorgestelde plan sal Enaex die nitraatbesigheid oorneem, terwyl Sasol steeds ʼn aandeelhouer in Enaex Africa bly. Sasol besit tans 23% van Enaex Africa, teenoor Enaex Suid-Afrika se 51% en Africa Rising Explosives se 26%.

Totdat die nodige goedkeurings verkry is, gaan bedrywighede soos normaal voort. Werknemers se huidige verslagdoeningslyne, verantwoordelikhede, bestuurstrukture, dienskontrakte en diensvoorwaardes bly in hierdie stadium onveranderd.

Ná goedkeuring deur die Mededingingskommissie sal die eienaarskap van die nitraatbesigheid verander en sal die betrokke werknemers ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge na Enaex Africa as hul nuwe werkgewer oorgedra word. Volgens die projekdokumentasie sal hul voordele nie minder gunstig wees nie, terwyl werknemers op SasolMed en in die Sasol-pensioenfonds sal aanbly.

“Artikel 197 bied belangrike beskerming wanneer ʼn onderneming as ʼn lopende saak van een werkgewer na ʼn ander oorgedra word. Solidariteit sal juis hier ʼn aktiewe rol speel om seker te maak die oordrag geskied korrek en werknemers ontvang die beskerming waarop hulle geregtig is,” sê Cloete.

Die projekdokumentasie bepaal verder dat die bestaande posisie vir ongeveer twee jaar ná die ingangsdatum gehandhaaf sal word, met geen afleggings gedurende dié tydperk nie. Aftreeverpligtinge en toepaslike langtermynaansporings vir Suid-Afrikaanse werknemers sal deur Sasol behou en volgens die toepaslike bestuursraamwerk bestuur word.

“Ons verstaan werknemers wil veral weet wat met hul werk, voordele en diensvoorwaardes gaan gebeur. Solidariteit sal daarom deur die proses betrokke bly, ontwikkelinge monitor en namens ons lede optree waar nodig,” sluit Cloete af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel