loading
Mediaverklarings
22 uur gelede
sa-kan-nie-bekostig-om-agoa-te-verloor-nie

Foto Krediet: Okay Deer

SA kan nie bekostig om Agoa te verloor nie

Die vakbond Solidariteit het vandag herbeklemtoon dat dit noodsaaklik is dat Suid-Afrika se posisie as begunstigde van die “African Growth and Opportunies Act” (Agoa) beskerm moet word en dat Solidariteit sy werk op hierdie terrein, wat reeds die afgelope twee jaar tot uitgebreide skakeling met die Amerikaanse regering gelei het, sal voortsit. 

Na aanleiding van die storm oor die Amerikaanse president Donald Trump se uitsprake oor Suid-Afrika en sy besluit om die finansiering van verskeie projekte in Suid-Afrika tydelik op te skort, neem die vrees ook toe dat Trump uiteindelik ekonomiese strafmaatreëls teen Suid-Afrika kan instel wat die land in ’n ekonomiese krisis kan dompel.

Solidariteit stel dit egter onteenseglik dat die uitsprake deur Trump ’n direkte gevolg is van die swak, onvoldoende en soms gevaarlike diplomatieke optrede deur die Suid-Afrikaanse regering. Dit is die afgelope drie jaar reeds duidelik dat die Amerikaners ongelukkig is oor Suid-Afrika se nouer bande met lande soos China, Rusland en Iran. Suid-Afrika se saak teen Israel dra verder hiertoe by. President Ramaphosa se besluit die afgelope paar maande om wette soos die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) en die Onteieningswet te onderteken en met die Nasionale Gesondheidsversekering voort te gaan, het ook wenkbroue in Washington laat lig. 

Die afgelope vyf jaar was Suid-Afrika se ambassade in Washington dikwels sonder ’n aktiewe ambassadeur, en daar was geen pro-aktiewe optrede om verhoudinge te bou nie. Minister Ronald Lamola en sy voorganger, Naledi Pandor, het beide bygedra tot ’n verswakking in die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA. Trump se aanval op Suid-Afrika het dus nie uit die lug geval nie, maar het ’n lang aanloop gehad, en president Ramaphosa en sy span moet vir die diplomatieke gemors geblameer word. 

Vir Solidariteit is die belangrikste prioriteit egter nou om ekonomiese skade wat deur hierdie diplomatieke breuk veroorsaak word, teen te werk. Suid-Afrika het tans, veral weens Agoa, uiters gunstige handelsbetrekkinge met die VSA. Suid-Afrika het in 2024 meer as 10% van al sy uitvoere na die VSA gestuur. Sowat R156,8 miljard se uitvoere is na die VSA gedoen terwyl net R120,4 miljard se goedere en dienste uit die VSA ingevoer is. 

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Suid-Afrika dus nie net gunstige voorwaardes waarvolgens ons na die VSA kan uitvoer nie, maar ons het ook ’n groot handelsoorskot met die VSA wat positief op ons handelsbalans inwerk. “Ons uitvoere na die VSA het sedert die inwerkingtreding van Agoa in die jaar 2000 skerp toegeneem en daar is steeds ruimte om meer produkte na die VSA uit te voer. Amerika bly die grootste enkele mark in die wêreld en ons huidige toegang tot die Amerikaanse mark is gunstiger as in die geval van al ons ander groot handelsvennote soos China en die Europese Unie, waar Suid-Afrikaanse uitvoerders hulle dikwels in regulasies, burokratiese rompslomp of algehele beperkings vasloop.”

Solidariteit werk reeds vir twee jaar saam met die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika, sowel as die kantoor van die Amerikaanse handelsverteenwoordiger in Washington DC om ʼn sterk saak te bou vir die hernuwing van Agoa wanneer dié wet later vanjaar verval. “Ons was die afgelope twee jaar deel van talle gesprekke oor die hernuwing of verlenging van Agoa. Ons het ook tydens drie besoeke aan Washington DC steun gewerf onder lede van die Amerikaanse Kongres om die wet te verleng.”

Solidariteit is egter bekommerd dat die verswakkende diplomatieke verhoudinge tussen Suid-Afrika en die VSA, veral sedert Trump se inhuldiging, daartoe kan lei dat Suid-Afrika in die toekoms uit Agoa geskop kan word. Die Amerikaanse president kon tot nou toe jaarliks die lys van Afrikalande saamstel wat ingevolge Agoa begunstig word. “Dit is dus vir ons by Solidariteit belangrik om deur ons kontakte in die Amerikaanse regering en die Withuis ʼn sterk saak uit te maak oor waarom Suid-Afrika deel van Agoa moet bly.”

Uit die 32 Afrikalande wat tans volgens Agoa meer as ʼn duisend produkte sonder handelsbeperkinge na die VSA kan uitvoer, is Suid-Afrika die enkele land wat die grootste voordeel hieruit trek. “Agoa, wat deur die Amerikaanse Kongres as ʼn meganisme ingestel is om ekonomiese groei in Afrika te bevorder deur toegang tot die Amerikaanse mark, was altyd bedoel as ʼn politieke daad van solidariteit met Afrika. Sou Suid-Afrika uit Agoa geskop word, sal Agoa in omvang en invloed verswak. Dit sal dus dwaas van die Amerikaners wees om Suid-Afrika uit Agoa te skop in die hoop dat dit ʼn bewys is van Amerika se invloed in Afrika omdat dit die teenoorgestelde sal bewerkstellig.”

Suid-Afrikaanse maatskappye het die afgelope 25 jaar op uitstekende wyse van die Agoa-voordele gebruik gemaak om uitvoere na die VSA te diversifiseer. Die grootste deel van die land se uitvoere na die VSA is edelmetale (R55 miljard) wat reeds tariefvry is, selfs sonder Agoa. Daarna volg motorvoertuie (R35 miljard) wat direk van Agoa afhanklik is, en yster en staalprodukte (R22 miljard) waarvan ʼn groot deel ook onder Agoa val. Chemikalieë en mineraleprodukte (R10 miljard elk) geniet in bykans alle gevalle Agoa-voordele, sowel as masjinerie (R9 miljard) en groente en vrugte (R5 miljard).

Verlede jaar was omtrent die helfte van Suid-Afrika se uitvoere na die VSA (nagenoeg R86 miljard) afkomstig van bedrywe wat Agoa-voordele geniet. Daar word tans bereken dat meer as ʼn halfmiljoen (576 164) werksgeleenthede in Suid-Afrika direk afhanklik is van uitvoere na die VSA, en die helfte daarvan is weer afhanklik van Agoa. “Daarom is dit Solidariteit se primêre prioriteit in 2025 om deur ons kontakte in die VSA seker te maak dat Agoa verleng of hernu word en dat Suid-Afrika deel van die lys van begunstigde lande bly. Ons kan nie dat diplomatieke foute deur die regering, ʼn vingerwysery en die soeke na sondaars die werk wat ons reeds gedoen het totaal ongedaan maak nie. Dit is in belang van die mense van Suid-Afrika dat Suid-Afrika se posisie in Agoa gered word, en dit is ons doelwit om presies dit reg te kry,” aldus Hermann.  

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel